WAT MAAK EK AS SATAN MY AANVAL? Die WOORD VAN GOD is jou Wapen

WAT MAAK EK AS SATAN MY AANVAL? – DIE WOORD VAN GOD IS JOU WAPEN

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en sê, dat as sy so om haar kyk na al die boosheid om ons, ‘n groot vrees oor haar kom.

Ek sê nou natuurlik nie dat ons onverskillig moet staan teenoor die dinge wat om ons gebeur nie maar ek sê verseker wel, dat ons nie hoef en ook nie behoort met vrees in ons harte rond te gaan nie.
In hierdie verband het ons Here ook vir ons in Sy Woord laat skryf:

2TIM 1:7  Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

So, as satan jou weer met vrees, of enige iets anders aanval – doen jy net in die Naam van Jesus, wat Jesus self gedoen het en daarin vir ons ‘n voorbeeld gewees het:

Kwoteer vir satan die Woord.

Sê byvoorbeeld vir hom iets soos:

“In die Naam van Jesus satan, daar is geskrywe, dat my Jesus gesê het:
JHN 14:26  maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
JHN 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.
“So, satan, ek bestraf jou in die Naam van Jesus, gaan weg van my af.”

Doen dit in die geloof en jy sal sommer daardie heerlike geestelike huppel in jou lewe voel terugkom.

Hier is sommer ook daardie gedeelte in die Woord waar Jesus vir ons die voorbeeld gestel het hoe om satan se aanvalle te hanteer – maar dit is die soort ding wat jy net kan doen as jy die Woord gereeld lees en goed in jou hart bewaar.

MAT 4:2-11 
2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.
3  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.
Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
5  Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan
6  en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.
7  Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.
8  Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,
9  en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.
10  Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.
11  Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.

Die rede waarom Jesus na my mening vir ons wys dat ons satan met hierdie taktiek, om dit so te stel, van ons lyf af  kan hou, is natuurlik volgens die Woord ooglopend.

Want jy sien die Woord is die kind van God se wapen teen die bose.

As my groot held Paulus in Efesiërs 6:13-17 ons vertel van hoe ons uniform lyk waarmee ons deur die lewe behoort te gaan, as ons nie deur satan en sy trawante oorweldig wil word nie, skryf hy onder andere:

EFE 6:17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—

Die skrywer van die boek Hebreërs, wie ek persoonlik glo, ook my groot held Paulus is, as ek so na die skryfstyl kyk, skryf byvoorbeeld:

HEB 4:12  Want die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

Ons praat van die Bybel as die Woord van God en ons lees in hierdie Woord van God, dat hierdie Woord, ons Swaard/Wapen teen die bose is.

Net om te onderstreep wat ek jou nou alles gewys het, lees ek in Openbaring, waar Jesus beskryf word, onder andere en onthou nou as jy dit lees, die Bybel is ”die Woord, of dan die woorde van God.” En volgens die Woord, is die Woord, jou en my Wapen/Swaard.

OPG 1:16  En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.

Ek sal seker nooit dit genoeg kan beklemtoon van hoe belangrik dit is, dat ‘n kind van ons Here, ‘n goeie, baie, baie goeie kennis van die Woord behoort te hê nie.

Onthou, satan ken ook die Woord. 
Ongelukkig so goed soos baie van ons en hoe jammer, beter as die meeste van ons.
Die satan het dan selfs in, om dit so te stel, ‘n swaardgeveg met die Woord teen Jesus betrokke geraak.  Jy het dit mos gelees daar in Matteus 4:2-11 hier bo.
 
Hoekom dink jy, is die Woord een van die boeke wat deur baie Christene baie minder gelees word, as byvoorbeeld baie ander leesstof?
Dit, na my mening, is satan wat hulle lus vir die Woord probeer demp met allerlei ander dinge en hulle val vir sy “trick” en word sy gewillige prooi.

Want, satan weet –

Hoe minder jy met jou swaard, die Woord, oefen, hoe swakker is jou paraatheid, as hy op jou afstorm.

Dit, na my mening, is ook die rede waarom satan, jy kan maar sê, met so baie Christene mors.  Hulle – vanweë hulle eie onverskilligheid om geestelik paraat te wees, is heeltemal weerloos teen satan se aanvalle.

Die meeste van baie Christene is nie net ongeoefen met die Christen se Swaard nie, baie Christene is deur satan totaal ontwapen.

HOS 4:6  My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, …

Groete,
Sakkie