WAT MOET EK DOEN OM HEMEL TOE TE GAAN?

WAT MOET EK DOEN OM HEMEL TOE TE GAAN?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my oor ‘n geliefde wat selfmoord gepleeg het.
Dan vra die persoon my, hoe hulle kan weet of die persoon in die hemel is.

Hier is dan my antwoord aan hulle en ook ‘n boodskap dalk aan jou wat vandag hier lees.
Of ‘n boodskap wat jy dalk met iemand wie jy ken moet deel.

Ek is so jammer om van al die hartseer in jou lewe te hoor.
Wat die vraag aan my oor waar jou geliefde mag wees, het ek net verseker die volgende antwoord:

Omdat ek net ‘n mens is en nie jou geliefde geken het nie, kan ek natuurlik nie vir jou sê of Jesus by hom was en of hy sonder Jesus aan die anderkant gearriveer het nie – maar dit wat ek nou met jou gaan deel is ‘n onbetwisbare feit as jy glo wat in die Woord geskryf staan is die Woord van God.

1KOR 2:11  Niemand sal ooit die diepste gedagtes van ’n mens ken nie, behalwe daardie persoon se eie gees. Net so kan niemand God se diepste geheime ken nie, behalwe die Gees van God.

Daar is baie dinge wat ons in hierdie lewe nie heeltemal sal verstaan nie maar wat jou geliefde aanbetref, weet ek ook hierdie een ding:

ROM 8:27-30 
27 Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree.

28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle
wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

29  Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters.

30  Dié wat Hy vooruit aangewys het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, aan hulle het Hy heerlikheid gegee.

Nou wil ek net met jou nog die volgende uit ons Here se kosbare Woord deel:

Daar is baie dinge in hierdie lewe wat ons volgens die Woord behoort te doen om ons te help om nader aan ons Here te leef en so ‘n beter liefdesverhouding met Hom te hê en hoe meer van hierdie dinge wat ons in die Woord lees wat ons behoort te doen, ons dan wel doen, hoe beter gaan ons ook Sy stem in ons lewe hoor.  Want hoe nader aan die Woord ons leef hoe, om dit so te stel, hoe nader beweeg ons aan ons Here.
Want dit is gewoon net ‘n werklikheid in die lewe, dat hoe nader aan iemand jy is, hoe beter hoor jy sy stem en sy hart. 

Dit werk ook so in ons gees wat ons Here aanbetref.

Alles begin egter by om Jesus aan te neem as Verlosser en Saligmaker.
Ons lees in die Woord:

HAN 2:37-39 
37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

JHN 3:36  Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; (dit is Hy wie gedoen het wat jy nou net gelees het) maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, (dit is hy/sy wie nie sy/haar hart op Jesus se geklop wou oopmaak nie) sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

Ons lees:

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, (Hy gaan ons saam met Hom, aan Hom gelyk maak) soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

In hierdie verband lees ons die volgende uit ons Here se kosbare Woord:

1JHN 3:2  Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.

Hoe heerlik om dan nou in die verband hierdie groot waarheid uit ons Here se kosbare Woord ons eie te mag maak:

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

Terug by jou geliefde en ook by jou en my.

Daar is baie mense in die hemel wie baie min of selfs nog nooit in ‘n kerk gesit het nie.  Dink maar aan die een moordenaar wie langs Jesus gehang het.

Daar sit baie mense in die hel, wie omtrent elke kerk/Sabbat in die kerk gesit het.  Dink maar aan die meeste van die fariseërs in Jesus se tyd.

Ek kon natuurlik nou nog baie ander vergelykings getref het, wat baie ander afdelings van die samelewing behels maar ek volstaan hiermee, want ek wil hiermee net staaf wat ek nou met jou gaan meedeel en dit is die volgende:

As jy dit afsny tot op die been, is daar een onteenseglike feit, wat ons Here se heilige Woord baie duidelik vir ons stel en dit is:

As ek hierdie lewe uittree en ek arriveer aan die anderkant van die graf met Jesus in my lewe, gaan ek die hemel intree en daar verewig baie gelukkig wees.

As ek hierdie lewe uittree en ek arriveer sonder Jesus aan die anderkant van die graf in my lewe, gaan ek die hel intree en daar verewig die verskriklikste dood sterf en tog nooit sterf nie.

Dit is die onteenseglike waarheid wat ons Here vir ons leer in Sy Woord en dit veral by name Jesus Christus self.

Nou is die vraag:
Kan jy vandag positief op hierdie vraag van Jesus antwoord?

JHN 11:26  en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

As jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker en dit glo, en Jesus end uit in hierdie lewe volg, weet jy, dat jy aan die anderkant van die graf met Jesus gaan arriveer.

As jy onseker is waar jy die ewige lewe gaan deurbring, is by verre die belangrikste vraag in jou lewe waarop jy ‘ja’ moet kan antwoord en dit is:

Het jy al Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?

Glo my vandag as ek vir jou sê –

Dit is by verre die belangrikste vraag wat ‘n mens jouself in hierdie lewe kan vra en as jy nie met sekerheid ‘ja’ op hierdie vraag kan antwoord nie, dan het jy Hom nog nie wérklik jou Here, jou Verlosser en Saligmaker in jou lewe gemaak nie.

Dan staan Hy vandag weer voor jou in jou gees en Hy klop aan die deur van jou hart en Hy sê weer vandag deur hierdie skrywe aan jou:

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur (van jou hart) en Ek klop. As iemand (vandag is dit JY) my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom (jou) toe en saam met hom (jou) maaltyd hou, en hy (jy) met My.

OPG 3:21  Aan hom (vandag is dit JY) wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, (Hy gaan jou saam met Hom, aan Hom gelyk maak) soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

Al wat jy nou in opregtheid moet doen is die volgende:

Sê net in jou hart, hier waar jy nou sit en lees en doen dit in werklike opregtheid:

Jesus, ek het nog nie my hart regtig vir U oopgemaak nie maar nou doen ek dit.
Want ek besef, dat sonder U is ek in my sondige verlore toestand oppad na die hel.  Want ek gaan aan die anderkant van die graf sonder U arriveer.
Ek wil ‘n liefdesverhouding met U hê en uiteindelik verewig by U in die hemel die hiernamaals deurbring.
Help my Jesus.”

Nou soek jy ‘n gemeente wat die hele Woord, as die onfeilbare Woord van ons Here verkondig en jy woon ‘n diens van hulle by en ontmoet na die diens die herder van die gemeente en maak ‘n afspraak met hom om jou verdere leiding te gee.
As jy nie so ‘n gemeente in jou omgewing kan vind nie, kontak my en ek sal probeer help.

Ek laat jou dan nou met hierdie wonderlike groot waarheid uit ons Here se Woord, by monde van ons Here Jesus Christus self, wat op elke mens van toepassing is wie Jesus aangeneem het as haar/sy Verlosser en Saligmaker:

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

JHN 10:28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Groete,
Sakkie