WAT MOET EK DOEN OM WEDERGEBORE TE WEES?

WAT MOET EK DOEN OM WEDERGEBORE TE WEES?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra en ek verkort die vraag:

“Wat is wedergeboorte?”

Die skrywer aan my skryf verder en ek plaas die presiese woorde:
“Ek het Jesus Christus aangeneem as my Verlosser, Saligmaker Here en God.”
Eintlik het ek so tussen die lyne gelees, dat die skrywer aan my wou weet wat ‘n mens dan nog moet doen om wedergebore te wees.
Dan vertel die skrywer aan my, dat ‘n student uit ‘n sekere denominasie se kweekskool die skrywer aan my laat verstaan het, dit wat hy/sy getuig, nie genoeg is om wedergebore te wees nie.

Ek wil dan eers met ‘n opmerking begin wat ek al so baie in my lewe en werk vir ons Here mee te doen gekry het en dit is, dat mense die evangelie van Jesus Christus soms so ingewikkeld maak, dat ek nie kop of stert verstaan van wat hulle sê as hulle vir my hulle weergawe van Jesus se evangelie verduidelik nie.

Kom ek wys jou wat ek bedoel:
Wat is wedergeboorte?
Of dan, Wanneer is ek wedergebore?
Volgens hoe ek die Woord verstaan, is dit kinderlik eenvoudig.

Dit gebeur die oomblik dat die Heilige Gees inwonend in jou is en jy net jy kan die Heilige Gees toegang gee om inwonend in jou te wees.

Nou hoe gee jy die Heilige Gees toegang tot jou sodat Hy in jou kan woon en jy wedergebore is en vir ewig na jou uittrede uit hierdie wêreld in die hemel gaan leef?
Jy bekeer jou.
Anders gestel –
Jy draai jou rug, jy maak ‘n omkeer op die lewe wat jy geleef het en jy neem Jesus Christus aan as jou Verlosser en Saligmaker.  Jy weet in die geloof:  Jesus Christus is my Here en my God.

Kyk hoe stel iemand wat ‘n uitstaande student in Jesus se kweekskool gewees het en die drie jaar kursus, met Jesus Christus as dosent, behoorlik geslaag het toe mense by hom wou weet wat hulle moet doen om wedergebore kinders van God te wees:

HAN 2:37  Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?”

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. (bekeer julle) Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop (neem Jesus Christus so aan as jou Verlosser en Saligmaker) sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. (Daar is dit! Doen dit in alle opregtheid en jy is ‘n wedergebore nuwe mens)

2 KOR 5:17 Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ’n nuwe skepping. (wedergebore) Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!

Luister kind van God:
As jy, om dit so te stel, die resep van die gekwalifiseerde evangelis wat vir 3 jaar Jesus Christus amper 24 uur per dag as dosent gehad het hierbo in opregtheid volg, sê die Woord van jou:

JOH 1:12-13
12 Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
13 Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie.  Hulle is uit God gebore.

Ek weet daar is mense wat verkondig dat jy moet nog werke ook doen.
Ek lees egter in die Woord dat jy en ek níks, geen werk kan doen om wedergebore te wees en só die ewige lewe ontvang nie en ek kon nou baie uit die Woord kwoteer het om te staaf wat ek sê maar ek volstaan met die volgende:

EFE 2:8-10
8 Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God.
9 Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie,
10 want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons eenheidsband met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.

Sommer vir die lekker daarvan en dat jy dit weer lees, kwoteer ek ook dieselfde gedeelte uit ‘n ouer Vertaling:

EFE 2:8-10 
8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
9  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Vir my werk dit, as dit by my werke kom, as volg – en weereens is dit eintlik so eenvoudig:

Hoe liewer jy vir iemand is hoe meer wil jy, deur jou liefde gedwing, vir die persoon doen.
Party wedergebore kinders van ons Here doen hulle uiterste bes en doen so veel as moontlik deur hulle liefde gedwing.
Party doen minder en party doen feitlik niks maar almal wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker en Hom enduit volg, het die ewige lewe en van ons arbeid of dan, dit wat ons vir ons Here hier op aarde doen, verduidelik my groot held Paulus aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het om te skryf dit as volg:

1KOR 3:11-15 
11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
12  En as iemand op dié fondament bou (deur my lewe, talente, werk, of wat ek besit ens) goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Nou lees hier dalk iemand wie nog nie gedoen het wat ons lees:

HAN 2:37  Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?”

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. (bekeer julle) Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop (neem Jesus Christus so aan as jou Verlosser en Saligmaker) sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.  (Daar is dit! Doen dit in alle opregtheid en jy is ‘n wedergebore nuwe mens)

Wil jy dan nie maar nou daardie lewensbesluit, eintlik dié belangrikste ewiglewende besluit  in jou lewe neem en dit doen nie?

Hoe doen jy dit?
Wel jy kan sommer net daar waar jy sit en hierdie skrywe lees dit doen, as jy dit met jou hele hart bedoel.
Bid net hierdie eenvoudige gebed:

“Here Jesus, ek sien en weet ek is verlore en deur my sonde oppad hel toe.
Ek het tot nou toe U nog nie aangeneem as my Verlosser en Saligmaker nie maar ek antwoord nou op U geroep in hierdie skrywe aan my.
Ek neem U aan as my Verlosser en Saligmaker.
Ek gee my lewe van nou af in U hand.  Help my asseblief, ek wil U kind wees.”

Nou soek jy, as ‘n saak van groot dringendheid ‘n Christelike Gemeente wat die hele Bybel, dit is God se geskrewe woorde aan ons, as God se heilige Woord aanvaar.
Jy maak ‘n afspraak met die herder van daardie gemeente en vertel hom wat jy gedoen het en vra hom om jou verder te lei.

Jy is nou oppad hemel toe!

Groete,
Sakkie