WAT IS ‘N VISSER VAN MENSE?

WAT IS 'N VISSER VAN MENSE?

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en gevra:
“Dit kan nou dalk vir jou na ‘n simpel vraag klink maar: Wat is 'n visser van mense?”

Ek deel graag hier met jou wat ek die  persoon geantwoord het.

Wat Jesus hier bedoel het is die volgende:

Omtrent al Sy dissipels was vissers en ek dink daarom het Hy daardie beeldspraak gebruik.
Hy het hulle in mense verander wat om dit so te stel, mense vir Sy koninkryk moes vang (mense na HOM toe lei) en dit het hulle dan ook natuurlik gedoen.

LUK 5:8-10 
8 En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!
9  Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het;
10  en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang.

Dit is byvoorbeeld wat ek met my bediening ook doen en dit is om soveel mense as moontlik vir Jesus se koninkryk te wen.

Ons, Sy dissipels, is met ander woorde almal Sy vissers van mense.

Daarom het Christene oor die wêreld ook die ‘vis’ as ons simbool of dan kenteken gemaak.

Jesus sê aan Sy dissipels (en ook aan jou en my):

MAT 28:18-2 
18 Jesus kom toe nader en sê vir Sy dissipels:  “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou. 
19 Gaan dan, maak al die nasies My dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het.  En weet vir seker: 
Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

(Amper vergeet ek – Jy skryf aan my: “dit kan dalk nou vir jou na 'n simpel vraag klink …”
Persoonlik glo ek nie daar is eintlik so iets soos ‘n onintelligende vraag as jy meer van die Woord wil leer nie – maar glo my as ek jou sê, daar is beslis so iets soos ‘n onintelligente en ook valse antwoord.)

Groete,
Sakkie