WAT ONS WEL WEET, IS DAT ONS NET SOOS HY SAL WEES

WAT ONS WEL WEET, IS DAT ONS NET SOOS HY SAL WEES

Sakkie Parsons

Na aanleiding van ‘n kort reeks van drie Gedagtes uit die Woord wat ek geskryf het oor “Oor ons liggaam, ons siel en ons gees” en wat ek op aanvraag aan jou sal stuur, as jy dit nog nie gelees het nie, of dalk weer wil lees, skryf iemand aan my die volgende:

“Wat gebeur by afsterwe van my liggaam met my siel en wat gebeur met my gees? Word dit een entiteit?”

Ek het destyds genoem dat daar mense is wat wil dat die mens se siel en gees eintlik dieselfde is, maar dat ek nie so dink nie.

Ek het toe geskryf:

Ons lees byvoorbeeld, en hier gebruik ek ‘n ouer vertaling omdat die meeste vertalings wat ek ken, hierdie gedeelte so vertaal:

HEB 4:12  “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”

Ek het nie ‘n siel nie, ek ís ‘n siel wat ‘n verganklikke liggaam het waarin ek lewe en ek, die siel wie ek is, gaan eendag na God in die Hemel, of na satan in die hel.

Ons lees van die ryk man van wie Jesus ons vertel, dat hy in die hel beland het, onder andere die volgende:

LUK 16:23  “… en sy siel (hy die ryk man se siel) het na die doderyk gegaan.  Daar, terwyl hy (die siel wie die ryk man is) gefolter word, het hy (die siel wie die ryk man is) Lasarus in die verte by Abraham gesien.”

Dan, ook net gou weer iets oor ons gees:

Die mens se gees, soos ek dit verstaan, is daardie deel van ons Here self, wat Hy in die mens, en net die mens, geplaas het en wat ons die vermoë gee om die verskil te ken tussen goed en kwaad en tussen reg en verkeerd, maar nie net gee ons gees ons die vermoë om te onderskei tussen goed en kwaad en reg en verkeerd nie, die gees wat in ons is, gee ons ook die bevoegdhede van ons Here, om byvoorbeeld kwaad na goed, en verkeerd na reg, in ons lewens te verander.

Lees wat sê die Woord oor ons gees wat hierdie aspek van ons lewe aanbetref:

1 KOR 2:11 “Niemand sal ooit die diepste gedagtes van 'n mens ken nie, behalwe daardie persoon se eie gees. Net so kan niemand God se diepste geheime ken nie,
behalwe die Gees van God.”

JOB 32:8  “Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak.”

Ek persoonlik, soos wat ekself die Woord verstaan, glo dat my siel  en my gees in die hiernamaals, om dit so te stel, presies in dieselfde verhouding tot mekaar gaan voortbestaan, maar juig ek in my hart: ”Prys die Naam van ons Here!” In albei gevalle, om dit so te stel, in die volmaakte oortreffende trap.

Lees hier, en dan onthou jy dat hier van jou en my, in ons volmaakte toestand gepraat word, naamlik van ons onverganklike liggaam en ook siel en gees:

ROM 8:16  “Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is.
ROM 8:17 En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook Sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te
ly, sal ons sekerlik ook deel in Sy heerlikheid.”

Soos wat ek al so baie gesê het, sê ek nou maar weer. Ek het verseker nie al die antwoorde nie, en ek het met jou die baie, klein bietjie, uit die geweldige groot heerlikheid wat daar volgens die Woord is, gedeel, maar hierdie volgende weet ek verseker en uiteindelik is dit vir my persoonlik, vir nou, heeltemal genoeg om sekerheid oor te hê:

1JOH 3:2  “Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees
wanneer Hy verskyn (of dit is wanneer ons uit hierdie lewe die hiernamaals intree, of as ons nog in die lewe sal wees as Hy ons met die wegraping kom haal). Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.”

Sommer vir die baie lekker daarvan, sodat jy dit net weer moet lees, deel ek met jou ook hierdie gedeelte uit ‘n ouer vertaling:

1JOH 3:2  “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, (of daardie verskyning nou plaasvind, wanneer ons uit hierdie lewe uittree en of dit sal wees as ons nog in hierdie lewe oor is by die wegraping) aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.”

Ek wens dat ek nou op hierdie heerlike plek kon afsluit, maar die Gees lei my om net ook die volgende aan jou uit te wys.

Ek het nou met jou oor ons liggaam en onverganklike siel en gees gesels en vir jou probeer wys dat ons dit alles in die Hemel, om dit so te stel, in die oortreffende trap gaan wees en ervaar.

Weet jy?

Dit wat met jou en my in die hemel gaan gebeur en wat ons daar in die oortreffende trap gaan ervaar, gaan natuurlik ook in die oortreffende trap na die anderkant toe met diegene gebeur, wie die pad na die hel gevolg het.

Hulle gaan, (en hoe gaan hulle wens dat dit nie so moes wees nie!), ‘n liggaam ontvang en hulle siele kan ook nie sterf nie, omdat hulle siele na die beeld van God geskep was, Wie onsterflik is en hulle gaan ook vanweë die gees wat in hulle is, alles in die oortreffende trap ervaar en soos jy en ek, gaan dit, in hulle geval, hoe verskriklik, vir hulle gaan die voltering net vir ewig aan en aan en aanhou.

Ek deel met jou een voorbeeld uit die Woord oor dit wat ek nou net vir jou gesê het en as jy dit lees, onthou dan dat dit Jesus self is wat hier praat:

MAT 13:41-43
41 “Ek, die Seun van die Mens, sal My engele uitstuur.  Hulle sal alles wat sonde veroorsaak en almal wat God se wet oortree uit My koninkryk verwyder
42 en hulle in die brandende oond gooi.  Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.
43 Dan sal dié wat reg voor God gelewe het, soos die son skitter in die koninkryk van hulle Vader.  Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”

So nou vra ek: As jy wat hier lees, nog nie vir Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie, wil jy dit nie sommer nou doen net daar waar jy is nie? Sodat jy ook hierdie heerlike versekering het en dit kan getuig:

1JOH 3:2  “Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.”

Al wat jy, in opregtheid hoef te doen, omdat ons Here mos in jou hart kan sien, is om die volgende vir ons Here te sê:

“Here, ek besef dat ek ‘n sondige mens is en sonder U is ek verlore en op pad om die ewigheid in die hel deur te bring. Ek besef ook dat net U my van daardie verskriklikheid kan red. Ek wil ‘n liefdesverhouding met U hê. Ek neem U nou aan as my Verlosser en Saligmaker en ek wil nooit weer sonder U in my lewe wees nie.”

Nou soek jy ‘n Christelike gemeente, wat die hele Bybel as die Woord van ons Here erken en verkondig.

Woon een van hulle dienste by.

Ontmoet na die diens die herder van daardie gemeente en maak ‘n afspraak met hom vir verdere leiding.

Ek wil net noem, omdat die laaste ding wat ‘n nuwe bekeerling nodig het, is ‘n negatiewe ervaring na haar/sy eerste besoek aan ‘n gemeente. Volgens my kennis en ondervinding, asook die terugvoering van ander mense, is dit gewoonlik baie makliker om die herder van ‘n pinkster gemeente na ‘n diens te ontmoet, as wat dit met sommige van die ander denominasies is.

Groete,
Sakkie