WAT SÊ ONS HERE SE WOORD VIR ONS OOR ABORSIE?

WAT SÊ ONS HERE SE WOORD VIR ONS OOR ABORSIE?

“Staan eenkant toe Here”

Sakkie Parsons

Ek wil vandag hierdie skrywe so begin:

Mense praat gedurig hoe gevaarlik dit deesdae in hulle omgewing is en dit is ongelukkig baie waar – maar ek wil met jou deel oor die gevaarlikste plek in Suid-Afrika om in te wees.

Ek weet ek het al ‘n paar keer oor hierdie onderwerp geskryf maar omdat dit nou weer so prominent in die nuus is, wil ek weer met jou daaroor deel.

Ek gaan met jou vandag in kronologiese volgorde, soos ek dit in ons Here se Woord sien, wys wat ons Here oor hierdie saak sê.

Die gevaarlikste plek in Suid-Afrika, as ek na die statistieke kyk en ek onthou wat in ons Here se kosbare Woord geskryf staan, is die baarmoeder – as gevolg van aborsies.

Mense het verskeie redes en redenasies hoekom hulle ‘n aborsie sal goedkeur.
Party byvoorbeeld sê tot op 22 weke kan jy ‘n aborsie toelaat, want dan is die fetus glo nog nie ‘n mens nie.
Party sê tot voor die hart begin klop kan jy ‘n aborsie toelaat, want tot daardie tyd is die fetus nog nie ‘n mens nie.
Party sê, dat aborsie nie in die Woord genoem word nie en daarom kan jy maar ‘n aborsie doen, eintlik net wanneer jy wil en dit vir jou gemaklik is ens ens
Hier wil ek sommer vir die interessantheid net noem, dat die rook-gewoonte, waar jy nie net jouself nie maar ook almal in jou onmiddellike omgewing benadeel, ook nie in die Woord genoem word nie.

Meen dit nou dat ek maar my eie liggaam en mense wat saam met my lewe se liggame maar so kan benadeel?
So is daar geweldig baie redes wat selfs sommige Christene gee, dat ‘n mens maar ‘n aborsie kan laat doen.

Ek gee nou in kronologiese wyse die gedeeltes uit die Woord waar ons, so glo ek, as ons na die Heilige Gees luister, kan sien wat GOD se sienswyse is – of ‘n mens ‘n aborsie mag doen.

Lees dit en luister dan in jou hart na die Heilige Gees en ek glo, jy sal duidelik hoor of aborsie moord of nie moord is nie.

Hier in Rigters 13:7 word van Simson gepraat:

RIG 13:7  Maar Hy het vir my gesê: Kyk, jy sal swanger word en ‘n seun baar; drink dan nou geen wyn of sterk drank nie, en eet niks wat onrein is nie; want die seun sal ‘n nasireër van God wees van die moederskoot af tot die dag van sy dood toe.

Simson se ma moes voor sy swanger geword het, met ander woorde voor ons Here met Sy skeppingswerk in haar baarmoeder begin het al klaar ‘n paar dinge gedoen het om haar liggaam, om dit so te stel, in gereedheid te bring vir wanneer ons Here hierdie Nasireër se liggaam in haar gaan begin skep.

RIG 13:7  Maar Hy het vir my gesê: Kyk, jy sal swanger word en ‘n seun baar; (so van nou af) drink dan nou geen wyn of sterk drank nie, en eet niks wat onrein is nie; …

Verder was Simson reeds ‘n Nasireër toe hy nog in sy moeder se baarmoeder gewees het tot sy dood toe.
So hy was reeds ‘n mens in sy moeder se baarmoeder.
Kan ek nou besluit van wanneer af hy reeds in sy moeder se baarmoeder ‘n mens en dan nou ‘n Nasireër gewees het?

RIG 13:7  … want die seun sal ‘n nasireër van God wees van die moederskoot (dit is sy ma se baarmoeder) af tot die dag van sy dood toe.

Kom ons kyk nou na wat ons in Job lees:

JOB 10:8  U hande het my geformeer en my gemaak, heeltemal rondom; (Wie wil nou besluit, wanneer God vir Job soos klei reg rondom begin vorm het?) …
en U vernietig my!
JOB 10:9  Bedink tog dat U my soos klei gevorm het, en wil U my tot stof laat terugkeer?

Vervolgens deel ek met jou Psalm 139 beginnende by vers 13:

PSM 139:13-16 
13 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot (sy moeder se baarmoeder) geweef.
14  Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! (in sy geval, in sy moeder se baarmoeder) En my siel weet dit alte goed.
15  My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
16  U oë het my ongevormde klomp (toe sy liggaam nog nie die vorm van ‘n mens gehad het nie) gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Let ook op en ek gaan jou telkens wys dat dit ‘n feit is wat ons Here deurlopend in Sy Woord, of dan Sy liefdesbrief aan ons, telkens onder ons aandag bring en dit is, dat jy en ek en elke mens wat geaborteer is en gaan word, deur HOM deur en deur geken was, nog voor Hy ons in ons moeder se baarmoeder ‘n menslike liggaam gegee het.

PSM 139:16  .. en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Dan lees ons verder in Jesaja:

JES 49:1  Hoor na My, eilande, en luister, volke wat ver is! Die HERE het My geroep van die moederskoot af (terwyl hy nog in sy moeder se baarmoeder was.  Ons weet net nie op watter stadium van sy moeder se swangerskap af nie en ons Here het ook na sy geboorte hom by sy naam wat sy ouers hom gegee het geroep), van my geboorte af het Hy my naam genoem.

As iemand dalk dink ek oordryf hierdie gedeelte in Jesaja 49:1, wil ek net noem dat Bybelvertalers wat baie slimmer in die vertaling is as wat ek ooit eens kan dink om te wees en wat die oudste geskrifte wat nuut ontdek is gebruik, vertaal hierdie gedeelte in Jesaja 49:1 as volg in die Nuwe Lewende Vertaling waarvoor ek so lief is:

JES 49:1  Luister na my,
almal wat in ver lande bly!
Voor my geboorte
het die Here my geroep.

Van my geboorte af (ook nadat hy sy naam Jesaja van sy ouers gekry het)
het Hy my op my naam genoem.

Vervolgens lees ons ‘n gedeelte in Jeremia:

JER 1:5  Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, (voordat ons Here Jeremia se liggaam in sy moeder begin formeer het) het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, (ons weet net nie op watter stadium, voor Jeremia uit sy moeder se liggaam gebore is) het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.

Ek kwoteer sommer ook die gedeelte uit die NLV:

JER 1:5  “Ek ken jou
:nog voordat jy gevorm is
in die skoot van jou moeder.

Voor jou geboorte al (terwyl hy nog in sy moeder se baarmoeder gewees het.  Ons weet net nie op watter stadium terwyl hy nog in sy moeder se baarmoeder gewees het nie)
het Ek jou gekies en aangestel
om namens My te praat
met die nasies van die wêreld.”

Vervolgens lees ons:

LUKAS 1:41-44 
41 En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het (nie ‘n fetus of embrio, of wat hulle dit ook al noem, omdat hulle haar/hom nie ‘n mens wil noem nie)die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees
42  en het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot!
43  En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom?
44  Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het (nie ‘n fetus of ‘n embrio nie maar..) die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.

Nou voor ek verder gaan, wil ek net verduidelik hoe ek na dinge in my lewe kyk waaroor ek geen beheer het nie en hier gebruik ek, omdat ek dit die beste verstaan, weer my eie omstandighede as voorbeeld.
Ek kyk na alles wat in my lewe gebeur, wat my pad langs kom, of wat oor my kom en Ek verander wat ek met die liefdevolle genade van ons Here kan verander, soos ek dit volgens Bybelse beginsels kan verander, met ander woorde wat nie volgens ons Here in Sy kosbare Woord verkeerd en daarom sonde is nie en dit wat ek nie kan verander nie, los ek biddend by ons Here.

Byvoorbeeld:

Ekself is blind.
Ek het alles van my kant af gedoen om te sien of die medici my nie kan help nie maar hulle kan niks vir my doen nie.
So, nou los ek dit by ons Here en gaan voort met my lewe en probeer na die beste van my vermoë volgens ons Here se beginsels lewe.

Nog ‘n voorbeeld uit my eie lewe.
Ek was met melanoom kanker in 1997 gediagnoseer en my dokter het vir my gesê dat as hulle dit nie kan keer nie, het ek 3 tot 6 maande om te lewe.

Ek het toe na die beste van my vermoë af alles gedoen, wat ons Here my gegee het om te doen, wat nie buite Sy woord se beginsels is nie en die res in Sy goddelike hande gelaat en oor ‘n paar maande sal dit nou 27 jaar later wees en ek werk nog te heerlik vir ons Here.
Ek weet ek het hierdie voorbeelde uit my eie lewe al van tevore in ‘n gedagte uit die Woord aan jou gebruik maar dit was geweldige ervarings uit my eie lewe en ek wil maar net wys, dat ek ook groot trauma verstaan.
Ek praat met ander woorde nie van hoorsê, as ek vertel hoe ons na groot en soms skrikwekkende trauma in ons lewens as kinders van God moet kyk nie. Ek was daar.

Nou wil ek net met jou twee van die baie voorbeelde deel wat as gevolg van my verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus in hierdie saak ek mee gekonfronteer word.

Eerstens:
Wat van as ‘n vrou verkrag word en sy verwag dan ‘n baba?
Dan is die eerste feit wat geen ware volgeling van Jesus Christus kan weerspreek nie die volgende:
God het in Sy groot wysheid toegelaat dat die vrou swanger raak.
Sal ek nou so verwaand wees, om dit so te stel, om my rug daarteen styf te maak?

Dan is die tweede feit, wat ek eintlik die eerste feit moes genoem het, wat geen wáre volgeling van Jesus Christus kan weerspreek nie die volgende:

God het in Sy groot wysheid, om dit so te stel, met Sy eie hande die kind geskep.
Wie is ek vir wie Hy ook met, om dit so te stel, Sy eie hande geskape het, om, aste ware Hom eenkant toe te stoot en Sy handewerk, waarmee Hy in Sy groot wysheid besig is, te vernietig en deur my optrede aste ware vir God almagtig te sê:
“Staan eenkant toe Here, want in hierdie saak is ek wyser as Jy.”

Ek verstaan baie, nee eintlik moet ek sê ek verstaan die meeste dinge in die wêreld nie,  wat volgens my siening verkeerd is wat ons Here toelaat nie – maar ek is ‘n mens, met ‘n mens se verstand en Hy, my liefdevolle God en Verlosser is GOD Almagtig, wat vir my sê:

JES 55:8  Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.
JES 55:9  Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

Dan onthou ek ook in my eie lewe en in hierdie bediening:

EXO 4:11  En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond (en natuurlik alles wat my liggaam buite en binne uit bestaan, soos wat dit bestaan) gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? (of wat jy ook al as voorbeeld wil gebruik) Is dit nie Ek, die HERE, nie?
EXO 4:12  Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê. (Wat myself aanbetref, ook wat hierdie bediening aanbetref)

Die tweede voorbeeld waarmee ek ook gewoonlik gekonfronteer word is:
Wat van ‘n vrou wie se lewe ook in gedrang kom?

Dan geld, (en ek noem dit weer alles ook wat hierdie voorbeeld aanbetref, sodat jy dit weer moet lees) Die eerste feit wat geen ware volgeling van Jesus Christus kan weerspreek nie is die volgende:
God het in Sy groot wysheid toegelaat dat die vrou swanger raak.

Die tweede feit is die volgende, wat geen ware volgeling van Jesus Christus kan weerspreek nie:
God het in Sy groot wysheid toegelaat dat die swanger vrou daardie mediese toestand in haar lewe moes hê.

Wie is ek – vir wie Hy ook met, om dit so te stel, Sy eie hande geskape het, net soos Hy daardie vrou met haar eie persoonlike mediese omstandighede geskape het om, aste ware Hom eenkant toe te stoot en Sy handewerk, waarmee Hy in Sy groot wysheid besig is, te vernietig en deur my optrede vir GOD Almagtig te sê:
“Staan eenkant toe Here, want in hierdie saak is ek wyser as Jy. Dit wat ek gaan doen is nou nie volgens Jou Woord nie maar dit is nou maar soos dit is.”

Ekself sal nooit volgens wat ek in die Woord lees, kan verkondig dat God se handewerk en dit by dit alles, waar ‘n lewende siel by betrokke is, deur ‘n mens vernietig mag word nie.

Ek deel dan vervolgens nou met jou hierdie groot heerlikheid uit ons Here se Woord en ek deel dit eerstens met almal wie ongelukkig vanweë die een of ander rede, veral omdat ek in hierdie skrywe daaroor skryf, ‘n aborsie deel van hulle verlede is – maar dit geld vir wat ook al uit jou verlede deur satan misbruik word om jou vrede in ons Here weg te neem.

As ek as Christen / volgeling van Jesus Christus in alle opregtheid  my sonde teenoor Hom bely, het ek die versekering uit Sy kosbare Woord:

1JHN 1:9  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Dan het ons ook by dit wat jy nou gelees het, hierdie heerlike versekering:

EFE 1:3-5 
3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,
4  soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld (lank voor Hy jou liggaam begin skep het vir jou siel, wat toe reeds geskep was, wie Hy deur en deur reeds geken het)  om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, (in jou ewige lewe by Hom, na jou reistog deur jou lewe hier op aarde)
5  deurdat Hy ons (nog lank voor Hy jou liggaam in jou moeder in gereedheid begin bring het vir jou siel wat toe reeds geskep was) voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van Sy wil,

Ten slotte in hierdie skrywe net die volgende:
Ek het vir jou aan die begin van hierdie skrywe genoem dat ek met jou wil deel oor die gevaarlikste plek in Suid-Afrika om in te lewe en dit is na my mening; die baarmoeder.

Dink net –
In 2021 was daar – en jy kan dit maar gaan Google as jy wil seker maak of ek nie dalk per ongeluk ‘n ‘0’ te veel ingesit het nie – maar daar was net in 2021 die skrikwekkende syfer van 260,000 aborsies in Suid-Afrika.  Dit is net so oor die 21,666 aborsies per maand. Inligting volgens die ‘World Health Organization wys statistieke van rofweg 73 miljoen aborsies wêreldwyd per jaar.  Dit is, om dit sag te stel, mense wat van hulle lewe en reg ontneem was, om dit wat ons Here vir hulle bestem het hier op aarde uit te lewe.

Ek kyk so na hierdie astronomiese syfers en ek wonder hoeveel duisende profete, evangeliste, ware herders en gewone getuies van Jesus Christus se blye boodskap naamlik, die evangelie van Jesus Christus, is al sommer deur satan, deur die misbruik van onkundige maar soms ook baie gewillige mense vermoor – nog voor hulle die kans gekry het om uit te lewe, wat ons Here wou dat hulle moes uitlewe.

Voeg daarby al die genieë uitvinders en oplossers van al die groot probleme wat die mensdom mee worstel, wie se kundigheid ons Here wou gebruik en die ontsettende tragedie vir die mens, wat ons oor onsself bring is vir my te enorm om eens te probeer verwerk.

Groete,
Sakkie