WAT WORD VAN MENSE WAT NOG NIE VAN ONS HERE GEHOOR HET NIE, WAT STERF?

WAT WORD VAN MENSE WAT NOG NIE VAN ONS HERE GEHOOR HET NIE, WAT STERF?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en in die skrywe kom die volgende redenasie voor:

“As jy nog nooit van Jesus gehoor het nie, hoe kan jy vir ewig hel toe gaan? Dis mos nie daardie mens se skuld dat hy nog nooit van die Jesus Evangelie gehoor het nie.”

Dit is dan hoe ek persoonlik hierdie saak sien en in my eie hart verstaan:
Met die eerste oogopslag, lyk en klink dit na ‘n baie goeie redenasie, totdat jy onthou dat daar in die Woord vanweë die mens se sondige natuur oor die mens geskryf staan:

ROM 3:10-12
10  soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.
11  Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.
12  Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.

Jy sien –
Vanweë die sondeval, wil die mens niks met die ware God te doen hê nie.
Jy gaan nog ‘n paar keer in hierdie skrywe in een of ander vorm lees, dat die mens wil ‘n god hê maar nie die een ware God nie.  Die mens soek ‘n god wat aanpas by dit wat hy van ‘n god verwag.
Dus – en dit is nie wat ek sê nie – ons Here, soos jy gelees het, sê dit vir ons in Sy Woord.  Al daardie mense wat jy van praat, is vanweë hulle sondige natuur, teen God.  Soos jy en ek ook voor ons bekeringteen God was, al sou ons dit anders wou stel.
Nuwe Lewende Vertaling:

ROM 3:11  Daar is nie een wat werklik verstandig is nie;  niemand wat werklik ernstig na God soek nie.
ROM 3:12  Almal het hulle rug op God gekeer;  almal het sleg geword;  Daar is niemand wat die goeie doen nie – selfs nie een enkele een nie.

Hulle soek oral na ’n god wat hulle pas.
Terwyl die ware God al die tyd daar is om gevind te word.

PSM 19:1-3 
1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid.
2  Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.
3  Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan:

ROM 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Daarom dan ook dat Jesus by geleentheid sê:

MAT 12:30  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.

Die mens, omdat hy vanweë sy natuur, om dit so te stel, homself in die sonde verdrink het –  kyk hy in sy geestelike doodsheid en hy hou nie van die God wat hy waarneem nie en verwerp hy God of ontwerp hy dan vir hom ‘n god wat vir hom en sy grille en giere aanvaarbaar is.

Kyk maar net na al die gelowe en hulle gode van die verlede en dit wat jy vandag om jou sien.
Om dit nader aan jou lyf te bring;  Kyk maar hoe word die evangelie van Jesus deur sekere denominasies vandag al afgewater.  So, dat hulle nou al homoseksuele leefwyses en saambly deel van die evangelie van Jesus wil maak – dit is nou buiten die wat dit reeds, wat hulle aanbetref, deel van Jesus se Evangelie gemaak het.

Vir die meeste van hierdie Christene is aborsies al lankal, wat hulle aanbetref,  vir Jesus aanvaarbaar en dus soos ‘n homoseksuele leefwyse en saambly nie sonde in die oë van Jesus nie. 

Dan het ek natuurlik nie eens al die verkeerd soos ek dit sien genoem nie.
Vir my as ek so na die evangelie van sommige Christene kyk, verkondig hulle die evangelie van ‘n jesus en nie die Evangelie van ons Here Jesus Christus nie.
  
ROM 1:21  omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.
ROM 1:22  Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword.

Die ware volgelinge van Jesus Christus word darem nie omkant gevang met al hierdie valse evangelies nie, want ons Here het dit vir ons vooruit gesê in Sy Woord, dat dit gaan gebeur:

2TIM 4:3-5 
3 Want daar kom ’n tyd wanneer mense nie meer na die regte onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle wil hoor.
4  Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg.
5  Maar jy moet in elke situasie jou teenwoordigheid van gees behou. Moenie bang wees om vir die Here te ly nie. Werk daaraan om ander na Christus te bring. (Elke ware dissipel van Jesus Christus is ‘n evangelis van Sy evangelie.  Al is dit net deur jou lewe wat jy lewe.  So..) Voltooi die bediening wat God jou gegee het.

Ons Here het na die mens, Sy hoogste skepping, wat Hy na Sy beeld geskape het,
gekyk.
Die mens wat toe deur sy selfsugtige eiewys homself in die sonde verswelg het.
Hierdie mens van wie ons Here in Sy woord laat skryf het.  Dat vanweë sy sondige
natuur, daar nie een was wat God gesoek het nie.

ROM 3:11  Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.

God het na hierdie mens, Sy hoogste skepping, wat Hy na Sy beeld geskape het en vir wie Hy so lief is, gekyk – en toe stuur Hy Sy Seun om die mens te red.

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Nou is die vraag by baie, soos wat jy ook hier bo gesien het:

Wat dan van so baie mense wat nog nooit van Jesus gehoor het nie, waarvan baie, aan menslike standaarde gemeet, nie net goeie mense is nie maar selfs, goeie godsdienstige mense is?

Die Woord leer my baie duidelik, dat ‘n mens se goedheid, of sy godsdienstigheid en ja, selfs sy goeie godsdienstigheid, hom nie kan red nie.
Ek deel met jou ‘n voorbeeld uit die woord, naamlik die van Cornelius.  Jy kan dit gerus self gaan lees.  Dit begin daar in Handelinge 10:

HAN 10:1  En daar was in Cesaréa ‘n man met die naam van Cornelius, ‘n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling.
HAN 10:2  Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God. (en tog nie gered nie)

Gaan lees ‘n bietjie, watter moeite, om dit so te stel, het ons Here nie gedoen, sodat die Evangelie van Jesus by hom kon uitkom en hy en sy gesin hulle kon bekeer nie en dit ten spyte dat die Woord sê, dat hy “vroom en godvresend” gewees het – hy en sy gesin het hulle toe bekeer en toe was hulle nie meer net “vroom en godvresend “ nie maar, was hulle deel van die koninkryk van Jesus.

Jy sien –
Die mens, soos ek jou uit die Woord gewys het, se natuur is nie om die ware God te soek nie maar om, as hy wel ‘n god soek,  ‘n god soek wat by hom en sy grille en giere kan aanpas.
As daar egter êrens iemand, soos byvoorbeeld Cornelius is, wat werklik in opregtheid na Hom, die ware God  soek nadat Jesus op Golgota Homself vir ons boosheid geoffer het, sal ons Here sorg dat die Evangelie van Jesus by hom uitkom.
Al moet Hy soos in Cornelius se geval ‘n engel na hom stuur:

HAN 10:3  Hy het duidelik in ‘n gesig omtrent die negende uur van die dag ‘n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius!

En daarby terselfdertyd met Petrus in gesprek tree, op ‘n huis se dak, in ‘n ander dorp:

HAN 11:7-9 
7 En ek hoor ‘n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet!
8  Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie.
9  En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.

Ja, vir die wat Hom soek, sal ons Here altyd seker maak dat hulle hom vind.  Al moet Hy dan ‘n man in ‘n droom na ‘n Evangelis stuur:

HAN 16:9  En Paulus het ‘n gesig in die nag gesien—daar staan ‘n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons!

Nou is daar mense wat redeneer dat ons Here mense wat mooi lewens byvoorbeeld lewe en nog nooit van Hom gehoor het nie, jy kan maar sê, outomaties Hemel toe laat gaan.

Nêrens in die Woord sien ek iets wat hierdie sienswyse ondersteun nie.
Inteendeel, as dit die geval sou wees, is die gevaarlikste ding wat ek kan doen, om die evangelie na mense te neem wat nog nooit van ons Here gehoor het nie en mooi godsdienstige lewens lewe.

Nou gaan ek vir ‘n oomblik redeneer soos ‘n dwaas:
Liewer moet ek die Evangelie van daardie mense weghou, want hulle gaan Hemel toe
maar as ek die Evangelie aan hulle bring en daar is van hulle wat dit nie wil aanneem
nie, keer ek hulle van die Hemel af weg, hel toe.

JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Uiteindelik egter, soos ek dit verstaan, behoort ons nie te wonder oor of die mense wat nog nie van Jesus gehoor het nie, Hemel toe gaan nie.  Ons moet ons bes doen om so veel van hulle te help om by Jesus Christus uit te kom, sodat hulle ook die ewige lewe in die hemel kan deurbring.

Ons Here het, deur Sy Seun álles gedoen om álle mense in die Hemel by Hom te kry.

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Nou, soos wat Hy vir Petrus en Paulus gebruik het, so wil Hy nou vir jou en my gebruik, om almal wat werklik na die Een ware God soek by Hom uit te kry.
Want, die Woord en in die eerste voorbeeld wat ek gee – by monde van Jesus self – sê dat daar net een manier is om by God uit te kom:

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Daar is werklik nie énige ander manier nie:

HAN 4:12  En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.

Jy en ek moet nie wonder of hulle Hemel toe gaan of nie.
Ons moet liewer wonder hoe ons kan beplan, om van ons kant af reg te laat geskied aan die bevel wat aan ons gegee is, sodat hulle die ware Evangelie kan hoor:

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
MAT 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Jy en ek is die Petrus en die Paulus van wie jy hierbo gelees het van vandag.

Ek laat jou met die volgende uit die Woord, om biddend oor te dink, van hoe jy van jou kant af kan help om die Evangelie by van daardie mense uit te bring, wat nog nooit van Jesus gehoor het nie.

ROM 10:14  Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?

Groete,
Sakkie