WAT WORD VAN MISKRAAM BABATJIES?

WAT WORD VAN MISKRAAM BABATJIES?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:
“Wat word van miskraam babatjies?, wag hul vir hul ouers in die hemel?.”
Iemand anders skryf weer:
“Ek weet dat ons die Heilige Gees ontvang as ons ons bekeer en Jesus aanneem as ons Verlosser en Saligmaker maar ek wonder hoe werk dit met klein kindertjies.”

Hier dan is hoe ek dit uit die Woord verstaan:

Die Woord stel dit vir my persoonlik baie duidelik, dat wanneer ons Here ‘n mens in ‘n vrou begin skep, dit ‘n volledige mens in die oë van ons Here is.  Die siel van daardie mens is reeds daar in die mens en of daardie mens net ‘n kort tydjie in die moeder gaan lewe of 100 jaar buite die moeder op hierdie aarde gaan leef, dit is ‘n mens.
Ek lees in die Woord in hierdie verband:

PSM 139:13-18 
13  U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm.
14  Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het.
U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!
15  My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is
in die dieptes  van die moederskoot.
16  U het my gesien  voor ek gebore is.
In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was.
17  Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!
Hoe onmeetlik is die totaal!
18  As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels!
Wanneer ek daarmee klaar is, sal ek nog steeds by U wees.

Het jy gesien?
Toe ons Here die mens in die moeder begin skep het, het ons Here, om dit so te stel, die mens in die moeder intiem geken.

PSM 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Weens die sonde wat die wêreld ingekom het, gebeur daar baie, om dit so te stel, vieslike dinge met ons Here se hoogste skepping naamlik die mens maar dit maak daardie mens nie minder mens nie.

Ek byvoorbeeld, is met gesigsgestremdheid gebore maar ek is nog volledig mens.

Of die mens met ‘n aborsie uit die moeder gekom, of met ‘n miskraam, of stil  liggaamlik dood uit die moeder gebore word en of jy lewendig met watter soort gebrek/gebreke, of volmaak  gebore word, jou siel is volledig jy.

Jou liggaam, hoe of in watter toestand jou liggaam is of was, is of was in elk geval maar net ‘n tydelike woning.

Ek lees in die Woord:

2KOR 5:1-6 
1 Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.
2  Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word,
3  as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie.
4  Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word.
5  Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het.
6  Daarom het ons altyd goeie moed en weet dat as ons in die liggaam inwoon, ons van die Here uitwoon.

Daar is by my absoluut geen twyfel nie, dat alle kinders wat nog nie die toerekenbare stadium in hulle lewens bereik het nie en gesterf het, ook dié wat net vir ‘n tyd in hulle moeders gelewe het, by ons Here in die Hemel is.

Die toerekenbare ouderdom, soos ek dit verstaan, is sodra ‘n kind daardie stadium in haar/sy lewe bereik het, dat die persoon ‘n keuse vir of teen ons Here kan maak.
Jesus sê in die verband van, om dit so te stel, die status van ‘n kindjie in die oë van ons Here, die volgende:

MAT 18:1-3 
1 In daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gesê: Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele?
2  Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan
3  en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!

Is dit nie wonderlik nie?

Te wonderlik!
Toe hulle, daardie hele paar groot volwasse mans wat om Jesus staan, Jesus vra wie die grootste in die hemel is, toe neem Jesus die kleinste in hulle onmiddellike teenwoordigheid om hulle te wys hoe jou gesindheid moet wees om groot in die hemel te wees.

By ‘n ander geleentheid stel Jesus dit baie, baie duidelik, dat alle kinders reeds deel aan die Hemel het.
Anders gestel, die Hemel behoort reeds aan hulle.

LUK 18:15-17 
15  En hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf.
16  Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.
17  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

So, volgende keer as jy weer ‘n klein kindjie sien, onthou dan:

LUK 18:16   … aan sulkes behoort die koninkryk van God.
   
Hiervan het jy en ek soos ek jou nou gewys het, volgens die Woord die absolute sekere wete:

Elke miskraam baba wat daar ooit gewees het, is in die Hemel by Jesus en dit geld ook vir elke geaborteerde kindjie, elke stil gebore kindjie en elke kindjie wat nog nie in haar/sy lewe toerekenbaarheids ouderdom bereik het nie en prys die Naam van ons Here dit sal altyd so wees totdat hierdie hemel en hierdie aarde verbygegaan het.

Groete,
Sakkie