WATTER SOORT VERHOUDING HET JY MET JESUS?
Sakkie Parsons
Ek deel graag vandag met jou ‘n gesprek wat ek ‘n tyd gelede met ‘n paar mense gehad het toe ons oor Jesus gesels het.
Na aanleiding van iets wat iemand in die geselskap gesê het, begin ek toe met hulle oor Jesus gesels en soos dit soms gaan as ek met mense oor Jesus en Sy groot liefde vir ons gesels, flits daar deur my kop soms so ‘n paar groot dinge wat Jesus al vir my in my lewe gedoen het en dan en soms voel ek verleë as dit gebeur, raak ek sommer bewoë terwyl ek met mense oor Jesus gesels. Dit het daardie dag ook gebeur. Toe iemand ‘n opmerking daar oor maak, het ek te heerlik sommer in ‘n hoër rat gegaan.
Ek deel dan nou sommer vir die groot heerlike gevoel in my hart met jou ook wat ek met hulle gedeel het.
Ek gebruik ‘n voorbeeld van ‘n baie bekende persoon wat mense van weet – dit kan byvoorbeeld ‘n bekende sanger, dit kan ‘n beroemde filmster wees, of ‘n politieke figuur wees waarvan miljoene mense van weet en die meeste van hulle kan dalk nog met jou die een en ander deel oor wat hulle van hom weet.
‘n Baie klein getal van daardie miljoene mense het hierdie bekende persoon geken.
Ek praat nou van byvoorbeeld mense wat na optredes of toesprake geluister het en hom dalk selfs ontmoet het en ja, selfs ‘n paar woorde met hom gedeel het.
‘n Nog baie, baie kleiner gedeelte van daardie miljoene mense wat ek nou genoem het, het egter ‘n persoonlike vriendskaplike intieme en of liefdesverhouding met hom gehad.
En hier gebruik ek maar weer Suid-Afrika as ‘n voorbeeld om te demonstreer wat ek sê, omdat dit die voorbeeld is wat ek die beste ken, want ek is midde in hierdie gemeenskap. Ongeveer 80% van die mense in Suid-Afrika, daar is menings pyle wat dit so hoog as 85% maak, vertel vir jou dat hulle Christene is en hulle almal weet van Jesus maar dit is min of meer waar dit ophou en die bewys vir wat ek nou gesê het, is dat volgens die laaste syfer wat ek van weet en dit is ‘n taamlike ou syfer, is ons een van die lande met die hoogste misdaadsyfer per 100,00 mense in die wêreld.
Hulle kan jou vertel, dat die Bybel oor Jesus praat en die meeste van hulle, nie almal nie, kan selfs vir jou sê waar Hy gebore was. Nog ‘n baie kleiner gedeelte van daardie 80/85% mense in Suid-Afrika, ken Hom goed genoeg, om byvoorbeeld met vrymoedigheid teenoor ander mense van Hom te getuig, of het selfs die behoefte om so iets te doen. Al sit hulle Sondag vir Sondag in byeenkomste waar daar oor Hom gepraat word en waar Hyself na hulle kom en met hulle praat en by hulle pleit om ‘n liefdes-vriendskapsverhouding met Hom te begin, sodat Hy hulle van die hel kan red.
Dan is daar egter en in vergelyking met die 80/85% van mense wat ek vir jou van vertel het, is hulle ‘n baie, baie klein persentasie van mense vir wie Jesus hulle sterke God, hulle Ewige Vader, hulle Vredevors en hulle Vriend is.
‘n Baie, baie klein persentasie mense, wat graag oor Hom wil praat.
Wat opgewonde raak as hulle die geleentheid kry om met mense oor Hom te praat.
Wat vanweë hulle liefde vir Hom, bewoë kan raak as hulle met mense oor Hom praat.
Ek vra jou, as jy bely, dat jy ‘n Christen is, om jouself vandag te ondersoek en jouself te vra:
“Wie is Jesus Christus werklik vir my?”
Hierdie Jesus wat aan ‘n kruis gaan hang het nadat Hy so verskriklik mishandel is, voor hulle Hom gekruisig het, dat Hy volgens die getuienis soos ek dit verstaan, wat ek in die Bybel vind, die eerste van dié wat daardie dag gekruisig was, gesterf het.
Hou dan ook in gedagte, dat dit nie die spykers is wat Hom daar aan die kruis vasgehou het nie. Dit was Sy liefde vir jou en vir my en omdat Hy nie vir jou of vir my in die hel wou sien nie, wat Hom aste ware daar aan die kruis vasgenael gehou het.
Ons Here se heilige kosbare Woord gee ons op ‘n paar plekke so ‘n klein bietjie insae van wat Sy grootse groot Liefde vir jou en vir my Hom laat verduur het – en ek deel net een van die voorbeelde met jou en ek kwoteer dit uit die NLV:
JES 53:1-9
1 Wie het ons boodskap geglo?
Aan wie het die Here sy reddende mag openbaar?
2 My dienaar het gegroei soos ’n loot wat uitspruit in die teenwoordigheid van die Here,
soos ’n plant wat groei in droë grond.
Hy was nie mooi of koninklik sodat hy ons sou aantrek, of met ’n voorkoms dat ons van hom sou hou nie.
3 Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het.
Hy was soos iemand vir wie mense die gesig wegdraai,
verag (so was Hy mishandel) en ons het hom nie geag nie.
4 Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het.
Hy het ons pyn verduur.
Ons het aan hom gedink as dat God hom slaan, kasty en teister.
5 Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes.
Hy is gestraf sodat ons in vrede kan leef.
Hy is geslaan sodat ons gesond kan word.
6 Almal van ons het weggedwaal soos ’n klomp skape.
Ons het ons eie pad gevolg.
En toe het die Here ons almal se skuld en sondes op Hom laat neerkom.
7 Hy is geslaan en mishandel, maar hy het sy mond nie oopgemaak nie. (Hy kon byvoorbeeld net ‘n woord gespreek het en hulle, sy vyande, sou nie eens meer bestaan het nie)
Hy is soos ’n lam wat ter slagting gelei word.
Soos ’n skaap stil is voor sy skeerders, so het ook hý sy mond nie oopgemaak nie. (sodat jy en ek vir ewig kan lewe as ons Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker)
8 Hy is verdruk, skuldig bevind, en weggelei na sy dood.
Wie van sy mense het besef dat hy vir hulle (en jou en my) sondes doodgemaak word?
Dat hy eintlik in húlle (en in jou en my) plek gestraf word?
9 Hy het niks verkeerds gedoen nie, en het nooit enigiemand bedrieg nie.
Tog is hy soos ’n misdadiger begrawe, in ’n ryke se graf neergelê. (wat ook gebeur het, sodat jy en ek presies kan weet van wie hier gepraat word)
Kan ek jou net weer herinner van Wie, dit wat jy nou gelees het, ons Here se Heilige Woord hier praat?
JES 9:5 Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—
JES 9:6 tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.
En nog verder en ek kwoteer weer die NLV:
Die Woord … self God!
JOH1:1-9
1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.
Die Woord was by God, en die Woord was self God.
2 Hy was reeds in die begin by God.
3 Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.
4 In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense.
5 Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie!
JOH 1:14 En die Woord (soos jy gelees het, wie God self is) het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader (volledig God en volledig mens, soos wag God Almagtig alleen dit kan doen) vol
liefdevolle goedheid en waarheid.
Weet jy,
Dit maak nie saak van watter naam van ons Here jy al gehoor het nie. By ons Here, volgens Sy heilige Woord, is daar geen maar geen naam wat groter is, of wat meer krag het, as Sy wonderlike Naam, Jesus Christus, nie:
FIL 2:9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n Naam gegee wat bo elke naam is,
FIL 2:10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
HEB 7:26 Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het;
HAN 4:12 En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. (Jesus alleen)
Weet jy wat sê Jesus Christus weer vandag vir jou wie hier lees?
Jy het tot hier gelees, sodat Jesus vir jou weer vandag wil sê – Hy wil nie hê jy moet net van Hom weet nie.
Hy wil nie hê jy moet Hom net ken en daarom gaan jy soms na dienste toe en sing saam met ander mense van en vir Hom nie en praat jy net soms oor Hom, as jy by ander mense is wie ook oor Hom praat nie.
Hy wil nie net hê jy moet met Hom praat oor dit wat vir jou in jou lewe belangrik vir jou is nie.
Hy wil ‘n liefdesverhouding met jou hê.
Daardie verhouding, wat jou opgewonde kan maak as jy aan Hom dink.
Daardie verhouding wat jou sommer so ‘n lekker gevoel gee as jy met iemand oor Hom praat.
Ja, daardie verhouding wat jou sommer soms trane in jou oë laat kry as jy dink en onthou, wat Hy nie al vir jou gedoen het nie.
Hy sê in Sy Woord, Hy wil jou Vriend wees:
Ja, Hy is jou Sterke God en Hy is jou Ewige Vader maar Hy wil so ‘n intieme verhouding met jou hê, dat jy Hom ook as jou Vriend sien en ervaar:
JHN 15:13-15 Jesus sê:
13 Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.
14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.
15 Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
Ek wil jou mooi vra,. Eintlik pleit ek by jou.
Werk daaraan, want dit is eerstens wat Jesus wil hê en dan ook, omdat dit so wonderlik is om op daardie plek te kom, dat jy na ons Here kan kyk en vir Hom met daardie heerlike groot liefde in jou hart kan sê: “My God, my Vader en my Vriend.
Dit, soos alle liefdesverhoudings, is egter nie iets wat sommer soos verliefdheid sommer net kom nie.
Liefde is nie ‘n emosie nie. Liefde, ook jou en my liefde vir ons Here, is ‘n aksie waaraan gedurig gewerk moet word, om die heerlike emosie wat daarin gevind kan word, te ervaar.
Jy het ‘n keuse in jou Christen-wees godsdiens.
Jy kan op daardie plek bly, waar jy eintlik net van Jesus weet.
Jy kan selfs al verder gevorder het. Jy ken Jesus. Jy weet van baie van die dinge wat Hy van jou verwag en jy doen selfs sommige daarvan. Ja, jy weet van kere in byeenkomste waar jy gewees het, waar Hy ook met jou kom praat het. Jy kan selfs so ver gaan, om te getuig, dat Jesus omtrent by elke byeenkoms waar jy gewees het, met jou kom praat het en jy weet diep in jou hart, dat jy nie regtig ‘n wonderlike intieme vriendskapsverhouding met Hom het nie.
Ek vra jou. Nee, ek pleit by jou, werk daaraan, dat jy só ‘n groot liefde in jou hart vir Hom kry, dat jy vir Hom kan sê:
“U is werklik vir my. Jesus my Here en my God. Oor U kan en wil ek praat. Oor U kan en is my hart met blydskap gevul.Oor U, kan ek vanweë my liefde vir U, heerlik emosioneel raak.”
Onthou, dat om van Jesus te weet gaan jou nie uit die hel hou nie.
Selfs om Jesus te ken, gaan jou nie uit die hel hou nie.
Die mense wie Jesus gekruisig het en ook Judas sy verraaier het van Hom geweet en ja, Hom geken en met die getuienis uit die Woord tot ons beskikking, is Judas en die meeste van hulle hel toe.
Wat iemand in die hel gaan laat beland, is as jy aan die anderkant van die graf sonder Jesus arriveer:
JHN 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
Ek sluit af met woorde wat Jesus met ‘n eed gesê en vir ons laat opskryf het. So jy kan weet dit is so waar as wat jy dit nou kan lees:
JHN 5:24 Voorwaar, voorwaar (dit is ‘n eed) Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan (jy is klaar daarvan verseker, as jy dit deel van jou lewe hier op aarde maak) uit die dood in die lewe.
Groete,
Sakkie