WEES NUGTER EN WAAKSAAM

WEES NUGTER EN WAAKSAAM

Sakkie Parsons

By geleentheid stuur iemand ‘n epos waarin sy op ‘n heftige wyse reageer dat sy van my verskil en onder andere maak die persoon ook melding van die feit dat sy al 20 jaar ‘op die pad’ is.

Ek wil graag met jou deel oor, dat dit nie saak maak hoe lank ek op die pad is nie maar hoe ek lewe terwyl ek op die “pad” is en veral natuurlik of ek end uit op die regte “pad” bly.”
Ek reken ook, dat sodra ek roem op hoe lank ek op die “pad” is en hoe goed ek die Bybel ken en wat ek al vir ons Here vermag het, ens, my eie ek en nie die Heilige Gees in beheer van my lewe is.
Ek wil graag vir jou ‘n paar dinge in iemand se lewe wys om te demonstreer wat ek bedoel.
Hierdie persoon was seker loshande een van die mees gerespekteerde mense wat ooit gelewe het en verseker volgens al die getuienis tot ons beskikking die mees wyse en rykste man wat ooit gelewe het.

Ek praat natuurlik van Salomo.
Van Salomo word gesê, dat hy lief was vir ons Here.

1KON 3:3  En Salomo het die HERE liefgehad deur in die insettinge van sy vader Dawid te wandel; …

Weet jy, God was so tevrede met Salomo se lewe, dat ons Here een nag self na hom
toe gegaan het en vir hom gesê het, dat hy ons Here enige iets kan vra en ons Here sal
dit vir hom doen.

2KRO 1:7  In dieselfde nag het God aan Salomo verskyn en aan hom gesê: Begeer wat Ek jou moet gee.

Lief vir God, lief vir sy medemens, soos wat dit ‘n ware kind van God betaam, antwoord hy:

1KON 3:7-9 
7 Nou dan, HERE my God, U het u kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek; maar ek is ‘n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie.
8 En u kneg is midde onder u volk wat U verkies het, ‘n groot volk wat nie getel of bereken kan word weens die menigte nie.
9 Gee dus aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?

Hierdie liefde vir God en sy medemens plus die feit dat hy, homself op die agtergrond geskuif het, het God beïndruk.
Ek glo dit maak ‘n groot indruk op ons Here as ek sonder enige bybedoelings die eie ek op die agtergrond skuif.

1KON 3:10  En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het.

Salomo skuif homself met onselfsugtige eerlikheid op die agtergrond en kyk hoe reageer ons Here daarop:

1KON 3:11-13
11 En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou ‘n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom begeer het en nie die lewe van jou vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor,
12  so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou ‘n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie.
13  Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer, sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie.

Dan sê ons Here vir Salomo nog ‘n baie, baie belangrike ding:

1KON 3:14  En as jy in my weë wandel, deur my insettinge en my gebooie te onderhou, soos jou vader Dawid gewandel het, dan sal Ek jou dae verleng.

Kyk nou wat getuig die Woord op een plek oor Salomo se wysheid:

1KON 4:34  En van al die volke het hulle gekom om na die wysheid van Salomo te luister, van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het.

Ons Here het mos ook gesê:

1KON 3:13  Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer, sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie.

Kyk nou wat getuig die Woord oor Salomo se rykdom.
Ek gee net drie voorbeelde.

1KON 10:21  En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer was daar nie by nie: dit is in die dae van Salomo as niks gereken nie.

2KRO 1:15  En die koning het die silwer en die goud in Jerusalem gemaak soos die klippe, …

1KON 10:23  So het koning Salomo dan groter geword as al die konings van die aarde, in rykdom en wysheid.

Met al die eer en rykdom, so lyk dit vir my, haal Salomo toe sy oë van ons Here af.

Jy sien.
Ons moet gedurig waak en bid.

Jesus sê:

MAT 26:41  Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

Ons moet waak en bid omdat ons weet.

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Toe Salomo sy oë van ons Here afhaal en meer begin fokus op al sy rykdomme en sy menigte vroue, wat jy maar self in die Woord van God kan gaan lees, toe is dit al die pad af tot heel onder.

1KON 11:1  En koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad; en wel behalwe die dogter van Farao, Moabitiese, Monistiese, Edomitiese, Sidoniese, Hetitiese—
1KON 11:2  uit die nasies waarvan die HERE aan die kinders van Israel gesê het: Julle mag nie met hulle meng nie, en hulle mag nie met julle meng nie; hulle sal voorwaar julle hart verlei agter hulle gode aan—Salomo het hulle met liefde aangehang.

1KON 11:4  En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die HERE sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie.

Nou is dit afdraand en letterlik “hoe later hoe kwater.”

1KON 11:6  So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en nie volgehou om die HERE te volg soos sy vader Dawid nie.

Al hoe vinniger…

1KON 11:7  Toe het Salomo ‘n hoogte gebou op die berg wat oostelik van Jerusalem lê, vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Molog, die verfoeisel van die kinders van Mammon.
1KON 11:8  En so het hy gedoen vir al sy uitlandse vroue wat rook laat opgaan het en geoffer het aan hulle gode.

Dan lees ons hierdie hartseer einde van die slimste en rykste man wat ooit gelewe het.

1KON 11:9-11 
9  Daarom was die HERE toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het,
10  en hom bevel gegee het omtrent hierdie saak om nie agter ander gode aan te loop nie; maar hy het die bevel van die HERE nie gehou nie.
11  Daarom het die HERE vir Salomo gesê: Omdat dit so ver is met jou dat jy my verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, (dit is ook die insettinge  oor vroue) nie hou nie, sal Ek verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee.

Kyk net hoe gevaarlik is dit as jy jou oë van ons Here af haal.
Die slimste man wat ooit geleef het, aan wie ons Here twee keer verskyn het, kniel saam met sy vroue voor afgode.
Toe en hoe absoluut tragies, sterf die man wie ons Here die slimste en rykste man gemaak het wat ooit gelewe het, ‘n afgodsdienaar.
Die slimste man op aarde en hy buig voor ‘n beeld wat hy self gemaak het en sê ten minste deur sy optrede:
“my here en my god.”

Gelukkig is daar ‘n wonderlike manier om gefokus te bly en het ons die Heilige Gees om ons te help.

MAT 26:41  Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

HEB 12:1  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
HEB 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, …

Groete,
Sakkie