WEET JULLE NIE DAT DIE HEILIGES DIE WÊRELD SAL OORDEEL NIE?

WEET JULLE NIE DAT DIE HEILIGES DIE WÊRELD SAL OORDEEL NIE

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en gevra:

“Jesus gaan mos die mense oordeel, so hoe moet ek nou hierdie gedeelte verstaan?”

Die gedeelte wat die persoon van praat, lees as volg: 

1KOR 6:2  Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?

Die Nuwe Lewende Vertaling:

1KOR 6:2 Besef julle dan nie dat ons Christene eendag die wêreld gaan oordeel nie?  Terwyl julle dan die wêreld gaan oordeel, beskou julle julleself dan onbevoeg om selfs die kleinste ou sakies te beoordeel? 

Hier volg dan nou hoe ek hierdie saak sien:
Wie is hierdie heiliges wat Paulus hiervan praat?
Dit is natuurlik ons wat Jesus Christus waaragtig aangeneem het as ons God en Verlosser.
So kom ons kyk gou na hierdie mense wat saam met Jesus die wêreld gaan oordeel.
Van ons sê die Woord:

JHN 1:12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in Sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Nou hardloop ons die wedloop om die wenstreep te bereik waar Jesus vir ons wag.

HEB 12:1-2  Met so ‘n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry.  Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, 2ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun.  Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur.  Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie.  En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!

Kyk wat sê Jesus as ons volhard en die wedloop voltooi:

OPG 2:25  Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom.
OPG 2:26  En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee,

Die Nuwe Lewende Vertaling:

OPB 2:26 Aan almal wat aanhou oorwin en enduit aan My gehoorsaam is, sal Ek mag gee oor die nasies.

OPG 3:21  Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon sit.

Nou moet jy besef, dat dit nie saak maak wat die mense in die wêreld van jou dink nie, Jy is ‘n Koning se kind en dan nie sommer enige koning se kind nie.
Jy is dié Koning van die heelal, God Almagtig se kind!

1PET 2:9  …want God het julle as Sy volk gekies.  Julle is ‘n koninkryk wat uit priesters bestaan, ‘n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ‘n volk wat heeltemal God s’n is.  Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is.  Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in Sy wonderlike lig ingeroep het.

As jy nou onthou dat by dit alles ons Here nog ook van jou sê.

GAL 4:7  Jy is dus nie meer slaaf nie, maar kind.  En as sy kind het God jou Sy erfgenaam gemaak!

Dan moet jy ook onthou, jy is ook nie sommer net ‘n erfgenaam nie.  O nee!

ROM 8:17  En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename.  Saam met Christus deel ons in God se rykdom.  As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in Sy heerlikheid.

Die Ou Vertaling stel dit so:
ROM 8:17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

As mede-erfgenaam, as ek nou “mede” reg verstaan, ontvang jy ook alles wat Jesus het en dit het alles moontlik geword toe Hy Golgota toe gestap het om dit moontlik te maak.
So, as Jesus as Regter gaan sit, gaan jy as mede-erfgenaam saam met Hom as regter sit en nie net gaan jy saam met Hom die oordeel oor hierdie wêreld uitspreek nie, jy gaan ook saam met Hom die oordeel oor die engele uitspreek.

1KOR 6:3  Besef julle nie dat ons selfs oor engele gaan oordeel nie?  …

Ons gaan verseker nie veroordeel word nie.

ROM 8:1  Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem.

Ons gaan egter verseker béoordeel word.

1KOR 3:11-15 
11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus 
12  As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik,of silwer, of edelstene of hout of hooi op stoppels. 
13  Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak.  Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou. 
14  Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.
15  Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word.  Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ‘n brand gered word.

Dit alles het die kruisdood van Jesus Christus vir jou en my en elke mens wat Hóm aanneem as Verlosser en Saligmaker moontlik gemaak.

Wat sê ek vir iemand wat ook deel van hierdie groot wonderlik Goddelike adel wil wees?
Ek sê:
”Luister na wat ons Here in Sy Woord sê en wees dan opreg gehoorsaam.”

HAN 3:19  Kom dan tot inkeer en maak reg met God sodat julle sondes uitgevee kan word.

HAN 2:37-39 
37 Petrus se woorde het hulle diep geraak.  Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra:  “Broers, wat moet ons doen?” 
38 Petrus antwoord hulle:  “Kom tot inkeer en maak reg met God.  Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang. 
39 Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.

As jy dit in werklik opregtheid doen, is jy deel van hierdie wonderlike Koninklike familie van God, met ander woorde mede-erfgenaam saam met Jesus Christus.
Want jy sien –

JHN 1:12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in Sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
JHN 1:13  Hulle is nie uit fisiese oorweging gebore nie;  ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ‘n mens nie.  Hulle is uit God gebore.

Luister wat sê Hy van die mense wat Hom aangeneem het as God en Verlosser en Saligmaker –
Luister wat sê Hy van jou bloed gewaste, heilige, mede-erfgenaam en mede-Regter:

JHN 5:24  “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe.  Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.”

JHN 10:27-30 
27  “My skape luister na my stem;  en Ek ken hulle en hulle ken My.
28  Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan.  Niemand sal hulle uit My hand steel nie.
29  My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie. 
30  Ek en die Vader is een.”

Natuurlik het ons wat saam met Jesus die wêreld gaan oordeel sekere, kom ons noem dit verpligtinge en verantwoordelikhede, wat ek nou nie hier uitgewys het nie.

As jy onseker is wat dit presies behels en jy vra ons Here om jou in hierdie verband te help en jy gaan lees weer wat ek nou vir jou geskryf het, is ek baie seker ons Here sal in Sy groot liefde vir jou ook dit baie mooi uitwys.
                 

Groete
Sakkie