WIE IS DIE ANTICHRIS?

WIE IS DIE ANTICHRIS?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my ‘n hele paar vrae oor die Antichris.  Al sy vrae kan na my mening in sy heel eerste vraag opgesom word, dit is in elk geval hoe ek na die beste van my vermoë na die vraag gaan kyk.

Sy vraag dan:  “Ek was vanaand by ‘n mannebediening gewees en die volgende vraag is gevra:  Wie is die Antichris?”

Dit is dan hoe ek in my lewe na hierdie saak kyk:

Ek weet dat daar êrens in die toekoms iemand gaan opstaan wat ons almal verwag die Antichris gaan wees.  Ekself sien egter daardie persoon eerder, vir gebrek aan ‘n beter benaming, as die leier of dan hoof induna van die Antichriste in die wêreld,

In my gedagtes, as mense so, om dit baie lig uit te druk, met versigtigheid oor die Antichris praat, sien ek die volgende prentjie in my gedagte:

Satan kry dit reg, so lyk dit altans vir my, om die Christene, hand bokant die oë in die verte te laat tuur, op soek na ‘n groot gevaar waarvan hy/sy gehoor het, terwyl die slang tussen sy/haar voete op die grond orent kom en gereed maak om hom/haar te pik.

Want sien – soos ek die Woord verstaan, is die Antichrist al lankal tussen ons en die Antichris is nie ‘n indiwidu nie, daar is baie.

1JOH 2:18 Kinders, dit is die laaste uur;  en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.

Om beter te verstaan wat ek probeer sê, moet ons verstaan, wat die betekenis van die woord ‘Antichris’ is.

Die HAT, of dan Die Verklarende Handwoordeboek Van Die Afrikaanse Taal, sê van die ‘Antichris’ die volgende:

Antichris:  Beliggaming v.d magte wat teen die Christendom optree.
Anti-Chris’telik, -e.  Teen die Christendom gekant.

As jy dit eers verstaan, dan lees jy in die Woord van die Antichris en een en een maak twee.

1JOH 2:22 Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is?  Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.

Ekself spandeer, ek wou eers skryf; mors nie tyd, om dit so te stel, oor wie die groot Antichristelike induna gaan wees nie.  Ek spandeer die kosbare tyd wat ons Here my gegee het, om ons Here se Evangelie met soveel as moontlik mense te deel.  Ja, selfs met die Antichriste wat my padlangs kom.  Want wie weet of ek nie een van hulle met die hulp van die Heilige Gees vir ons Here kan win nie en as iemand vir my sê dat dit nie moontlik is nie, sê ek maar net:

GEN 18:14 Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? …

Ten slotte deel ek met jou net weer hoe ek na die Antichris vraag en talle ander vrae kyk:

Ek lees en bestudeer die Woord en dit wat ons Here vir my oopmaak gebruik ek.

Dit wat ek nie op die oomblik verstaan nie, skuif ek tydelik eenkant met die sekere wete, dat wanneer ek moet weet wat ek moet weet, sal ons Here sorg dat ek, Sy kind, weet wat ek moet weet.

In die tussentyd, weet ek egter verseker, dat ek so ver moontlik, beginnende deur die voorbeeld van my lewe, ‘n getuie vir ons Here moet wees en as Hy my meer wil laat doen, sal Hy my ook daarvoor toerus.

HAN 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

By dit alles het ek hierdie heerlike wete, dat ons, Sy kinders, nie meer hier gaan wees as, om dit so te stel, “die pawpaw die fan slaan nie”

Ek moet net sorg dat ek deurentyd paraat is.

1THES 5:8 Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.

1THES 5:9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus.

Groete,
Sakkie