WIE IS DIE RAM EN DIE BOK IN DANIËL 8

WIE IS DIE RAM EN DIE BOK IN DANIËL 8?

Sakkie Parsons

Iemand het my ‘n paar vrae oor DanIël 8 gevra.  Onder andere skryf die persoon aan my as volg:

“Ek lees gisteraand in die NLV Daniël 8 en ek verstaan glad nie die gedeelte wat ek gelees het nie en het gewonder of jy my kan help om dit beter te verstaan.  Wie is die bok en wie is die ram?”

Ek sal die eerste wees om ruiterlik te erken dat ek nie al die profesieë in die Woord verstaan of kan verklaar nie maar sommige, so glo ek, het ons Here ook vir my laat verstaan, wanneer ek daaroor gebid en die inligting tot ons beskikking gebruik het.

Kom ons begin met die ‘ram’.
Nou dit is gelukkig baie maklik om te sê wie dit is, want die Woord sê vir ons in Dan 8:20 presies wie dit is.

DAN 8:20  Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse.

Soos ek dit verstaan, was Die Meders die hedendaagse Irak en die Perse was die hedendaagse Iran.

Alhoewel die ‘bok’ ‘n bietjie moeiliker is om te verklaar omdat dit nie so direk genoem word nie, is dit ook maklik om te verklaar as jy ‘n bietjie van die geskiedenis weet.
Ek is baie lief vir antieke geskiedenis en daar is veral een groot Generaal/heerser wat my nog altyd gefassineer het en dit is Alexander die grote.
Ek is baie, baie seker, dat die horing van die bok wat hier van gepraat word, Alexander die grote gewees het.
Ek verduidelik graag vir jou waarom ek so glo en dan moet jy maar self besluit hoeveel meriete my sienswyse het.
Die eerste wat ons van die ‘bok’ weet, is dat dit die Grieke is.

DAN 8:21  En die harige bok is die koning van Griekeland; …

Ons weet ook dat Alexander sy pa wat in elk geval baie oorlogsugtig gewees het opgevolg het en dat Alexander daarna in minder as twee dekades vir alle praktiese doeleindes die hele beskaafde wêreld oorwin en onderwerp het.

Hier volg dan hoekom ek dink, eintlik moet ek sê, hoekom ek weet, dat die bok se horing tussen sy oë Alexander die Grote gewees het:

Alexander het geleef van af 356 v.C tot 323 v.C.
In 331 v.C. verslaan Alexander finaal vir Daríus 3 van die Persiese ryk en onderwerp dit.  Daríus ontvlug maar word later vermoor terwyl hy op vlug is.

Nou wil ek jou iets baie interessant vertel:
Volgens ‘n baie geloofwaardige geskiedskrywer naamlik Josephus, wat sover ek weet nie gelowig gewees het nie, het Jerusalem, toe Alexander met sy leër daar aankom, besluit om nie te veg nie maar sy poorte vir Alexander oop te maak.  Die mense wys toe vir hom die boek Daniël en spesifiek hoofstuk 8, die gedeelte van die bok met die horing tussen die oë ens –  waarop Alexander toe nie Jerusalem verwoes nie..

Nou kom ek by die vier Horings:

DAN 8:21  En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning.
DAN 8:22  En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het—vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.

In Junie 323 v.C. sterf Alexander op die jong ouderdom van 32 jaar in die paleis van Nebukadnesar 2 in Babilon.  Die horing word gebreek.

DAN 8:22  En dat dit gebreek is …

Alexander het egter nie soos die gewoonte gewees het, gesê wie sy opvolger moes wees nie.
Na baie getwis word sy massiewe ryk uiteindelik onder sy vier grootste generaals in vier koninkryke verdeel.
Die vier horings:
Omdat Alexander nie sy opvolger genoem het nie, het die vier koninkryke ontstaan maar nie deur wat hy wou nie.  Anders gestel:

DAN 8:22   … vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.

Die profesieë van Daniël gaan nog aan tot daar waar Die Heerser van die heelal al Sy
vyande verslaan.

Nou wil ek jou aandag op iets groots en heerlik wys:
Die Boek Daniël is volgens die mense wat weet êrens tussen die jaar 540 en 530 v.C. geskryf en ons weet dat baie van Daniël se profesieë  reeds uitgekom het, soos die van Alexander ± 200 jaar na Daniël.  Ja, selfs tot op die kruisiging van Jesus.

Jesus self sê byvoorbeeld van een van Daniel se profesieë  die volgende:

MAT 24:15  Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet—

As daar reeds van byvoorbeeld Daniel se profesieë  waar geword het, is dit mos net logies om te weet dat al die ander profesieë in die Woord is betroubaar en waar.
Wel, hierdie Woord, naamlik die Bybel, wat eintlik niks anders is, as God se woorde/gesprek met jou en my nie, sê ook vir ons van Jesus:

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Ek wil jou vandag die vraag vra:  Wil jy graag gered word en nie verlore gaan nie?
Hierdie Woord/Bybel, wat vol profesieë is wat reeds vervul is, sê ook:

JHN 1:12  … almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

Glo jy in Jesus Christus?
Het jy al jou hart vir Jesus oopgemaak?

As jy dit nog nie gedoen het nie, is die feit dat jy nou hierdie skrywe aan jou lees, ‘n bewys van die volgende uit die Woord:

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

Die heel beste wat jy nou kan doen, is om te doen wat hierdie Woord ook sê.  Hierdie Woord/Bybel wat nog altyd net gesê het wat die waarheid is, sê nou hier vandag vir jou.

HEB 3:7  Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,
HEB 3:8  verhard julle harte nie …

As jy dit werklik wil doen, bid dan nou net daar waar jy is die volgende gebed en dan kontak jy ‘n herder van ‘n Christelike gemeente wat die hele Woord, as die Woord van God aanvaar en vertel hom dat jy jou hart vir Jesus oopgemaak het en verdere leiding soek.

As dit jou erns is, sê dan nou vir Jesus:
“Here Jesus ek wil aan U behoort.  Ek wil deel wees van U koninkryk.  Ek antwoord op U geklop aan die deur van my hart.”

Dan leef jy jou lewe verder vol uit vir ons Here met hierdie heerlike wete:
Al die profesieë in die Bybel, ‘n 100% van hulle wat tot vandag toe in vervulling moes gaan, het in vervulling gegaan.  So, jy kan 100% seker wees dat al 100% van dié wat nog in vervulling moet gaan, ook in vervulling sál gaan – waarvan die vernaamste, vir my altans wat volgende in vervulling moet gaan Jesus Christus se terugkeer is – en dit was nie eens deur ‘n gewone mens, om dit so te stel, geprofeteer nie:

HAN 1:9-11 
9  En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.
10  En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle,
11  wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.

Groete,

Sakkie