WIE IS MY NAASTE?

WIE IS MY NAASTE?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:
“Ek wil graag weet wie is jou naaste?
Is elke liewe mens op aarde jou naaste of net die wat jy ken en mee te doen het?  Hierdie onderwerp laat my baie wonder, veral omdat die Bybel sê jy moet jou naaste liefhê.“

Hier is dan hoe ek hierdie saak sien en na die beste van my vermoë in my eie lewe probeer uitlewe:

Daar is tussen mens en mens, om dit so te stel baie soorte liefde, of dan, baie soorte maniere van liefhê.

Ek gee twee voorbeelde voordat ek met jou deel oor liefde vir my naaste:

Daar is die soort liefde vir my vrou, wat ek net vir haar het en mag hê.
Daar is die soort liefde vir my kinders, wat ek net vir hulle het en so kan ek aan en aangaan maar ek deel in hierdie skrywe met jou, hoe ek in die Woord sien wie my naaste is, vir wie ek net so lief soos myself moet wees en hoe hierdie liefde vir my naaste lyk, of dan wat hierdie liefde vir my naaste behels.

Lees net eers een van die voorbeelde uit die Woord, waar Jesus self vir ons die wet wat Hy kom vervul het kwoteer, Wat Hy wil dat jy en ek, Sy dissipel moet hou.
Kyk net hoe Jesus hierdie, wat ek ons Here se liefdeswet noem, in min eenvoudige   woorde volledig uiteen sit:

MAT 22:36-40
36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37 Jesus se antwoord was:  ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38 Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoof gebooie.”

Kom ek wys jou wat ons Here se Heilige Gees my aangaande hierdie liefdeswet vir jou en my gewys het.
Ek raak in my gees in ekstase as ek Jesus se liefdeswet vir my lees en ek vergelyk dit met die Mosaïese verbond (wet van Moses met sy ongelooflike baie moets en moenies), asook die ander godsdienste om ons met al hulle, dit mag en dit mag jy nie, dít moet jy en dít moet jy nie en ek sien dat Jesus se liefdeswet vir my net twee moets bevat. 

Die Ou Vertaling stel dit so:

MAT 22:36-40 
36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Weet jy wat is nog so wonderlik in Jesus se liefdeswet wat Hy vir jou en my gegee het?
Daar is nie een enkele moenie of mag nie nie.  Om die waarheid te sê, daar is níks maar absoluut niks negatiefs in Sy wonderlike liefdeswet vir jou en my nie en dit gewoon omdat daar, soos ek die Woord verstaan en probeer uitleef,, niks negatief in Christen-wees is nie.  Ons kan nou al, as ons wil, aste ware amper so effe proe hoe ons lewe in die hiernamaals gaan wees, as ons Jesus se liefdeswet uitlewe.

Jy sien –
As ek hierdie twee moets in my lewe wérklik uitlewe, hoef ek nooit eens, soos mense wat die ander godsdienste beoefen te wonder oor al die moets, al die moenies, sowel as, dít mag jy en dít mag jy nie wat daar as gevolg van die sonde is nie. 

Want, ons liefde vir ons Here en ons medemens sal ons die regte ding laat doen.
Dit is dan ook, so glo ek,  geen wonder nie, dat in Jesus se liefdeswet vir ons daar nie een enkele moenie of mag nie, of enige iets anders negatief is nie.

Nou wil ek vir jou wys hoe ek in die Woord sien, wie jou en my naaste is en hoe jou en my liefde vir ons naaste in ons as dissipels van Jesus gestalte kry en tot uiting kom.

Wie is my naaste?

Iemand het dieselfde vraag vir Jesus gevra en dit was iemand soos daar baie vandag is, ook hier in Suid-Afrika.  (Daarom spog ons, dat 80% van die mense in Suid-Afrika Christene is en sit ons ten spyte van die 80% sogenaamde Christene, met die hoogste misdaadsyfer per honderdduisend in die wêreld.)

Hierdie wetgeleerde was een van die mense wat gewoonlik self besluit het wie sy naaste is en sy naaste was deur hom volgens sy voor- en afkeure bepaal.
Soos daar ook maar vandag mense ook in Suid-Afrika is wat selfs nie in die erediens langs sekere mense sal sit nie, al is die ander mense, ook mede-Christene vir wie Jesus aan die kruis gesterf het.  Ja, al is dit ook voor ons Here hulle mede-broers en susters wat Hom aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker.
Hulle sal eerder van gemeente of kerk verander.  Ja, hulle sal selfs hulle eie kerk stig waar die mense wat hulle nie as naaste wil erken nie, nie welkom is nie.

LUK 10:25-29 
25 Eendag het ‘n wetskenner opgestaan om Jesus te toets deur Hom hierdie vraag te vra:  “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”
26  Jesus het geantwoord:  “Wat sê die wet van Moses?  Wat lees jy daarin?”
27  Die man het geantwoord:  “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.  En, Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.”
28  “Reg!” het Jesus vir hom gesê.  “Doen dit en jy sal lewe!”
29  Die man wou sy optrede regverdig en vra toe vir Jesus:  “En wie is my medemens?”

Nou wil ek net hier noem soos ek al baie in die verlede genoem het en dit waarskynlik weer in hierdie skrywe ook gaan noem.
Lees altyd met volle aandag as Jesus iets sê, want Jesus sê nooit maar nooit iets sommer net om dit te sê nie, daar is altyd ‘n baie goeie rede waarom Jesus iets sê en hoe Hy dit sê.
Jesus vertel hierdie verhaal en sê dan die volgende:

LUK 10:30  Jesus het geantwoord met ‘n voorbeeld:  “’n Joodse man was op reis van Jerusalem na Jerigo toe hy deur rowers aangeval is.  Hulle het sy klere en geld gesteel, hom aangerand en halfdood (en kaal natuurlik) langs die pad laat lê.

Nou hoekom vertel Jesus, jy kan maar sê in detail wat hulle aan die man gedoen het?

Want jy sien Jesus, God in die vlees, het geweet daar gaan mense wees, wat gaan bevraagteken, of die slagoffer ‘n Jood was soos wat dit al gebeur het as mense met my oor hierdie saak redeneer, want sommige mense wil vanweë hulle eie voorkeure en soms wrewel en haat, graag, dat God hulle ‘n keuse vanweë hulle voor en of afkeure ‘n keuse moes gee, van wie hulle, hulle naaste mag noem  maar nou vertel Jesus ons die verhaal so, dat die Samaritaan wat hom daar ontdek het, onder geen elisie kon verkeer oor uit watter bevolking daardie man gekom het nie.  Want die man was kaal, omdat die rowers ook sy klere geroof het.
Nou ek weet dit gebeur soms dat rowers iemand se klere wat sy/hy aan het sal roof maar ons weet dit is die uitsondering as iemand jou roof en Jesus gebruik hier die uitsondering.

Nou hoekom noem Jesus, dat die man daar sonder sy klere, kaal gelê het?

Want jy sien, dit is hoe ek deur die Gees gelei hierdie gedeelte verstaan.
Daar is net eenvoudig geen manier dat daardie Samaritaan toe nie kon weet dit is ‘n Jood wat hier voor hom in die Pad lê nie.  Want alle Joodse seuntjies word besny, as hulle enigsins kan, as die baba 8 dae oud is.

Daar word vertel, dat soms in die tweede wêreld oorlog, as Nazi soldate op ‘n man afgekom het en hulle het gedink hy is ‘n Jood en die man nie anders kon bewys nie, hulle net gesê het:
“Trek af jou broek.”

So, ja, Daardie Samaritaan het verseker geweet dit is ‘n Jood wat hy nou sy naaste maak.

Nou vertel Jesus verder – En let ook hier fyn op wat jy lees, want Jesus vertel dit so met ‘n baie goeie rede wat ek ook verder af met jou sal deel.

LUK 10:31-37 
31 Toevallig kom daar ‘n Joodse priester verby, maar toe hy die man daar sien lê, het hy die pad oorgesteek en aan die ander kant by hom verbygaan.
32  ‘n Leviet het oorgestap en die man bekyk wat daar lê, maar hy het ook aan die ander kant van die pad verbygegaan.
33  Toe het ‘n veragte Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry.
34  Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit.  Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ‘n herberg geneem en daar verder versorg.
35  Die volgende dag gee hy vir die herbergier twee silwer muntstukke en vra hom om die man te versorg.  ‘As die rekening meer as dit is,’ het hy gesê, ‘sal ek die verskil betaal wanneer ek weer hierlangs kom.’
36  “Nou, watter van hierdie drie sou jy sê, was ‘n naaste vir die man wat deur die rowers aangeval is?” het Jesus gevra.”
37  Die man het geantwoord:  “Die een wat aan hom medelye bewys het.”  Toe het Jesus gesê:  “Ja, gaan nou, en doen dieselfde.”

Die eerste wat jy hier in gedagte moet hou, soos ek reeds genoem het, is: Jesus doen of sê nooit iets sommer net om dit te sê of om dit te doen nie.  As Jesus ‘n Samaritaan as voorbeeld gebruik om naasteliefde te demonstreer, dan moet jy weet dit was die beste voorbeelde wat daar was om naasteliefde te demonstreer.

Ek wil dan begin om na my mening, jou vervolgens iets baie insiggewend in hierdie besondere verhaal te wys, wat my dadelik getref het omdat ek weet oor hoe die Jode en die Samaritane oor mekaar gevoel het.
Ek glo dan ook absoluut, dat dit een van die redes is waarom Jesus ‘n Samaritaan as naaste vir die gewonde man in Sy verhaal gekies het.

Aan die einde van die verhaal sê Jesus nie vir die wetgeleerde wie die gewonde man se naaste is nie, nee Jesus wil die wetgeleerde en vir jou en vir my iets leer, daarom
vra Jesus vir die man:

LUK 10:36  “Nou, watter van hierdie drie sou jy sê, was ‘n naaste vir die man wat deur die rowers aangeval is?” het Jesus gevra.”

Die man antwoord vir Jesus:

LUK 10:37 Die man het geantwoord:  “Die een wat aan hom medelye bewys het.”  Toe het Jesus gesê:  “Ja, gaan nou, en doen dieselfde.”

Jy sien die Jode het Samaritane so gehaat en verag, dat jy nie ‘n goeie welopgevoede Jood so ver sal kry om daardie, wat vir die Jode ‘n  vieslike woord gewees het, naamlik “Samaritaan” te sê nie.

Jesus sê met ander woorde vir hierdie man en vir my en jou, dat al sou iemand so verfoeilik in my oë wees, dat ek myself nie eens so ver kan kry om sy bevolkingsgroep se naam te noem nie – as hy my pad kruis, dan volgens ons Here, is daardie persoon my naaste en as ek werklik ‘n Christen/dissipel van Jesus is, moet en sal ek hom liefhê.

Ja, Jesus leer vir my hier, dat as iemand, om dit so te stel, my pad kruis, dan het ons Here besluit hierdie persoon is my naaste.  Met ander woorde as kind van ons Here, het ek nie ‘n keuse nie, soos daardie gewonde man ook nie ‘n keuse gehad het nie – maar hoe heerlik, as my verhouding met my God en Verlosser reg is, wil ek ook nie ‘n keuse hê nie.  Die enigste wat ek dan wil, is om die liefdeswet van my Here uit te lewe.

Ek sê weer:  Onthou ek word nie deur God ‘n keuse gegee nie, ek word ‘n bevel gegee, omdat ons Here klaar die keuse vir my gemaak het.

Vir diegene wat self hulle naaste wil kies en dan is dit natuurlik net mense met wie hulle hulleself kan vereenselwig, vir hulle wil ek maar net daarop wys:

Die Jood wat daar in die pad gelê het, het nie die keuse gehad en besluit hiérdie Samaritaan is my naaste nie.  Toe hy daar lê en die Samaritaan kruis sy pad, toe volgens Jesus, het die Samaritaan die man in die pad se naaste geword, en die man in die pad het die Samaritaan se naaste geword.

Ons het nou gesien dat elke mens wat my pad kruis, my naaste is en my die geleentheid gee, al is dit net deur my manier van lewe/optrede om aan hom/haar  die liefdes-evangelie van Jesus te verkondig.

Vervolgens wil ek die volgende logiese vraag aangaande hierdie onderwerp probeer beantwoord:

Hoe lyk hierdie liefde wat ek vir my naaste moet voel en hoe ervaar ek hierdie liefde vir my naaste?

Ekself noem hierdie liefde “compassion “ liefde.
Die rede waarom ek die Engelse woord “compassion “ gebruik is die volgende:
Lees net watter wonderlike Afrikaanse woorde, wat so absoluut deel behoort te wees van ‘n ware Christen se lewenswyse, gebruik die woordeboek alles onder andere vir “compassion.”
“Compassion:” Barmhartigheid, bejammer, deelnemend, erbarming, empatie, medelye, simpatie,

Weet jy, soos ek die Woord verstaan –
As jy en ek met “compassion” liefde na die mens kyk en waar nodig, soos die barmhartige Samaritaan, met “compassion” liefde teenoor die mens wat nou my naaste geword het, optree – dán my vriend/vriendin, sê die Woord, het ons die wet, Jesus se liefdeswet, vervul.

ROM 13:8  Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê.  As jy  jou naaste liefhet, vervul jy die wet.
ROM 13:9  “Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: "Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself."

Nee, – ek Sakkie, – het nie die vrou/man in die straat wat my pad kruis, lief soos ek byvoorbeeld my vrou of my kind of familie het nie, maar ek, – Christen/dissipel van Jesus, kyk na haar/hom, wie of wat sy/hy ook al is, met medemenslike liefde.  Ja, ek kyk en ek sien met “compassion” ‘n mens, vir wie Jesus aan die kruis gesterf het.

Opsommend dan –
Wie is my naaste?
Elke mens, om dit so te stel, wat my pad kruis.

As ek dit nie in my hart kan vind, om vir daardie mens medemenslike liefde “compassion “ te kan voel nie, moet ek met ons Here daaroor praat en hard aan my Christen-wees/dissipel van Jesus wees, werk. 
Want dan, soos ek Jesus in Sy gesprek met hierdie wetgeleerde verstaan, kan ek hoogstens, soos hierdie wetgeleerde, godsdienstig wees maar verseker nog nie Christen/dissipel van Jesus nie.
Dit is, so glo ek dan ook waarom Jesus wat nooit sommer iets sê of doen sommer net om iets te sê of doen nie, ‘n priester en leviet, (godsdienstige mense), gebruik
het, om te wys wie nié soos ‘n Christen/dissipel van Jesus opgetree het nie.

LUK 10:31  Toevallig kom daar ‘n Joodse priester verby, maar toe hy die man daar sien lê, het hy die pad oorgesteek en aan die ander kant by hom verbygaan.
LUK 10:32  ‘n Leviet het oorgestap en die man bekyk wat daar lê, maar hy het ook aan die ander kant van die pad verbygegaan.

Daar is ook iets anders baie, báie belangrik in hierdie gesprek van Jesus met die wetgeleerde wat ek net weer jou aandag op moet vestig:

Onthou jy, dat die wetgeleerde vir Jesus gevra het, wat hy moes doen om die ewige lewe te kan beërwe.
Jesus sê vir die wetgeleerde, nadat die wetgeleerde Jesus se liefdeswet vir ons reg kwoteer het:

LUK 10:28  “Reg!” het Jesus vir hom gesê.  “Doen dit en jy sal lewe!”

Die vraag wat ek myself moet vra as ek so om my na my naaste kyk is die volgende:

Is ek werklik in my hart ‘n Christen/dissipel van Jesus?

Of is ek hoogstens net godsdienstig, soos hierdie wetgeleerde en ook die priester en Leviet van wie Jesus ons in Sy Woord vertel, net godsdienstig gewees het?

Luister:

KOL 3:13 Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand ander het, vergewe mekaar.  Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. 
KOL 3:14  Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde.  Die liefde bind alles volmaak saam.

ROM 13:8  …  As jy  jou naaste liefhet, vervul jy die wet.

Ek sluit hierdie skrywe aan jou af met Jesus se woorde aan die wetgeleerde:

LUK 10:28 “… doen dit, en jy sal lewe.”

Groete,
Sakkie