WIE NIE AAN MY KANT IS NIE, IS TEEN MY

WIE NIE AAN MY KANT IS NIE, IS TEEN MY

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

Help my asb ek het n groot geveg in my binneste oor die Moslems.
Wat is jou siening deur Die Woord van God?“

Die Woord leer ons, dat almal wat nié Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie, ongeredde mense is – vir wie ons Here aan die kruis gesterf het, maar wie Hom nog nie aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie.

JOH 14:6  Daarop het Jesus gereageer:  “Ek is die pad en die waarheid en die lewe.  Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

Daarom, indien ‘n Moslem of enige ander mens nié vir Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie, is hulle verlore – en daarom moet ek in Jesus liefde, as ek die geleentheid kry, hulle van Jesus vertel en my bes probeer om hulle so aan Jesus Christus voor te stel, sodat Sy Heilige Gees dan verder met hulle in hulle hart kan gesels, as hulle wil luister.

HAN 4:10-12 Petrus en Johannes lewer hulle getuienis voor die Joodse Raad
10 “Ek (dit is Petrus) wil dit baie duidelik stel aan die hele volk Israel dat hy (‘n verlamde man) gesond gemaak is in die Naam van Jesus Christus van Nasret, dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. 
11 Hý is: ‘Dié klip wat deur julle bouers geminag is, Hy het nou die hoekklip geword.’
12 Daar is geen redding by iemand anders nie.  Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie.” (Net Jesus alleenlik)

Met ander woorde, ek sien dus dat almal wat nié Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie, as ongeredde mense vir wie ons Here aan die kruis gesterf het maar wie Hom nog nie aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie.

ROM 10:9-10
9 Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. (Anders sal jy ongered bly)
10 Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons gered.

In die Ou Testament onder die Ou Verbond was daar net twee groepe mense:
Die Jode en die heidene.
In die Nuwe Testament onder die Nuwe Verbond is daar ook net twee groepe mense:
Die Christene en die heidene – en jy kry nie ‘n heiden wat ‘n groter heidin as ‘n ander heidin is nie.

Daar is gewoon net een maatstaf en Jesus self stel dit so:

MAT 12:30  “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar.

Dus, ek kyk na enige mens wat nié Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie – en ek onthou:  Hier is iemand vir wie Jesus aan die kruis gesterf het, sodat hy/sy die ewige lewe kan beërwe – ás hy/sy net vir Jesus sal aanneem as Verlosser en Saligmaker.

Ja, al is jy selfs ‘n moordenaar as gevolg van dit wat jy glo, soos my groot held Paulus ook maar ‘n moordenaar gewees het van Christene voor sy bekering.

Ons lees:

HAN 9:1-2  Intussen het Saulus (wat later Paulus sou word) met elke asemteug dreigemente uitgespreek. Hy wou die volgelinge van die Here doodmaak, en het daarom na die hoofpriester toe gegaan.2 Hy het briewe van hom aan die sinagoges in Damaskus gevra waarin hulle versoek word om hom te help om dié wat aan “Die Pad” behoort, mans én vroue, op te spoor, en hulle geboei na Jerusalem toe te bring. (waar hulle doodgemaak kon word, soos wat hy gehelp het om ook vir Stefanus dood te maak.)

HAN 7:58  Hulle het hom uit die stad gesleep en hom met klippe doodgegooi. Die amptelike getuies het hulle klere uitgetrek en by die voete van ’n jong man met die naam Saulus (wie later Paulus sou word) neergesit.

Paulus self getuig van sy lewe voor sy bekering as volg en onthou as jy dit lees, dat ons Here ná sy bekering soveel vertroue in hom gehad het, dat Hy Paulus die grootste gedeelte van die Nuwe Testament laat skryf het:

HAN 22:3-5  Hy (dit is Paulus) gaan toe voort: “Ek is ’n Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, en hier in Jerusalem het ek grootgeword en my opvoeding by Gamaliël gekry. Aan sy voete het ek geleer om ons Joodse wet streng na te kom. Ek het ’n kampvegter (vol godsdiens maar sonder God) vir God geword, net soos julle almal vandag is.
4 Ek het jag gemaak op “Die Pad” tot die dood toe. Mans én vroue het ek gearresteer en in tronke laat stop. 
5 “Só kan selfs die hoofpriester vir my getuig, en die hele Joodse Raad. Van hulle het ek selfs briewe aan ons volksgenote in Damaskus gekry om ook dáár hierdie mense te gaan arresteer en vir strafoplegging (wat ook soms die doodstraf in gesluit het) Jerusalem toe te bring.

Ek kyk so na die verloregaande wêreld om my en dan onthou ek:

ROM 10:14  Maar hoe sal hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring?

Dan pak ek die bevel wat ons Here vir my as Christen gegee het, met nuwe ywer aan.  Veral deur my lewe wat ek lewe en ook deur my mondelinge getuienis, as ek die geleentheid kry 

Van watter bevel praat ek?

MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
MAT 28:20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker:  Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Ek glo dit wat ek nou aan jou geskryf het, sal jou ook in jou hart help en as jy weer na ‘n Moslem of enige ander mens kyk wat nog nie vir Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker aangeneem het nie, jy sal soos ek ook maar my uiterste probeer om te strewe om na hulle te kyk soos wat ons Here wie se Gees in ons is na hulle kyk:

JOH 3:16  “God het die mensewêreld (mensdom – dit sluit die Moslems in) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense (dit is alle mense) deur Hom gered kan word.

Groete,
Sakkie