WIE SOU AS GOD SE RAADGEWER KON OPTREE?

WIE SOU AS GOD SE RAADGEWER KON OPTREE?

JESUS het die wêreld reeds oorwin daarom kan ons in hom ons rus en vrede vind

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:

Kan jy asseblief vir my ROMEINE 11:33 tot 36 verduidelik?

Kom ons lees net weer die gedeelte:

ROM 11:33-36
33  Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! Sy beslissings gaan ons begrip te bowe; sy manier van doen kan ons nie deurvors nie.
34  Wie van ons kan regtig verstaan hoe God dink?
Of wie sou as sy raadgewer kon optree?
35  Of wie sou ooit aan Hom ’n guns kon bewys vir wie Hy dit sou moes vergoed?
36  Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag, en alles is op Hom gerig.
Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.

‘n Ouer Vertaling lees as volg:

ROM 11:33-36
33  o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!
34  Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?
35  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
36  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Paulus, was spesifiek hier in verwondering oor die 3 eienskappe van God se denkwyse wat gaan oor God se groot barmhartigheid oor die hele mensdom, of hulle goed of sleg na ons mening is en of hulle gered of ongered is.

Jy sien dit as jy net ‘n bietjie vroeër in die hoofstuk begin lees.  Sê daar van vers 31 af, maar ek wil nou graag hierdie gedeelte en die 3 eienskappe van ons Here wat Paulus en ook vir my in groot ontsag en verwondering bring, om dit so te stel, deurtrek na jou en my omstandighede vandag.

Paulus praat van die diepte van ons Here se rykdom en ons Here se wysheid en ons Here se kennis.

Persoonlik dink ek natuurlik ook dat die Woord “diepte” wat Paulus hier gebruik, is baie kragtig en toepaslik.
Dit is vir ons gewone mense ‘n baie toepaslike woord om te wys hoe onmoontlik dit vir my, ‘n gewone mens is, om die rykdom en wysheid en kennis van ons Here te verstaan.

As ek dit so mag verduidelik:
Ons het al op die maan geloop en ons vlieg nou al met helikopters op Mars rond maar ons het nog nie dit kon regkry om op enige menslike wyse eers naby die diepste plek in die see op ons eie planeet te kom nie.

Die domste, (ek dink “domste” in hierdie geval is die beste woord om te gebruik).
So – Die domste wat ‘n mens vandag in sy ‘probeer om slim te wees’ kan doen, is om ons Here, ons Skepper se diepte van Sy rykdom in wysheid en kennis te probeer verstaan.

Hy sê dan self ook vir ons:

JES 55:8-9
8  “My gedagtes is anders as julle s’n,
en julle paaie is nie my paaie nie,”
sê die Here.
9  “Want soos die hemel hoër is as die aarde,
so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen,
en my gedagtes hoër as julle gedagtes.

Nog verder vra ons Here in Sy kosbare Woord vir ons:

JES 40:13-14
13 Wie kan die Gees van die Here advies gee?
Wie weet genoeg om Hom raad te gee of Hom te leer?
14 Het die Here al ooit raad van ander nodig gehad?

Het Hy nodig dat iemand Hom vertel wat die goeie is of wat die beste is?

Om nou die gedeelte waaroor aan my gevra is deur te trek tot by ons omstandighede vandag:

Ons hoor van al die verkeerd om ons.  Ek hoef nie vir jou op te noem nie.  Dink maar net wat sien jy as kind van ons Here verkeerd en boos om jou en jy beleef dalk self baie moeilike omstandighede in jou eie lewe.

Ek wil by jou pleit –
As jy so na dinge om jou kyk en satan wil dat jy jou en my Skepper wil bevraagteken, of tot orde wil roep, dat Hy vir jou moet sê hoekom Hy só of só doen en hoekom Hy só of só toelaat –
Onthou dan saam met my, dat ons, ons Here se skepping is – Wie Hy geskape het tot Sy eer, om Hom te verheerlik en dat ons dan moet onthou, maak nie saak wat ons omstandighede is nie:

ROM 9:20  O mensekind, sit jou hand op jou mond! Wie is jy om God te kritiseer! Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?” (of hierdie of daardie in my lewe toegelaat?)

ROM 9:21  As ’n pottebakker byvoorbeeld kleikruike maak, is dit nie sy volste reg om uit dieselfde klei ’n sierkruik én ’n vullisbak te maak nie?

Die Pottebakker, ons Here, het die reg om met ons, en alles ín en óm ons te doen, soos wat Hý die beste dink en ons kan met ons klein verstandjie daarna kyk en ‘n raaisel sien wat ons soms geheel en al nie verstaan nie – maar in die wete:

1KOR 13:12  Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ’n dowwe spieël,
maar eendag sal alles vir ons glashelder wees.
Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan,
net soos God my nou ten volle verstaan.

So –
Al verstaan ek nie al die, vir my ‘persoonlik verkeerd’, wat ekself sien en belewe nie – Ek weet, want my God het dit vir my in Sy word laat skryf:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle (dit is jy en ook ek) wat Hom liefhet, hulle (dit is jy en ook ek) wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. (Ook jou en my lewe)
ROM 8:29  Want God het hulle (dit is jy en ek Sy kinders) reeds vooruit geken, en Hy het hulle (dit is jy en ek) aangewys om net soos (hoe absoluut wonderlik!) sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters. (dink net – jy en ek gaan ’n suster en ‘n broer van ons God en Saligmaker wees)

Daarom –
As jy ooit weer wonder en God jou Skepper op die een of ander wyse wil bevraagteken en Hom om ‘n verduideliking of rede te vra, hoekom Hy nou só of só in jou, of om jou lewe toelaat – Onthou dan, en jubel dit saam met Paulus uit, wat toe hy dit geskryf het, gesit en wag het dat hulle hom moet kom haal om sy kop af te kap:

ROM 11:33-36 
33 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!
34  Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?
35  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
36  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Terwyl jy in jou hart hierdie, wat jouself aanbetref groot sekerheid het, omdat jou en my God en Saligmaker vir jou en my gesê het en ek gebruik Sy eie woorde:

JOH 16:33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind.
In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Hy gaan nie die wêreld oorwin nie, Hy het reeds:

JOH 16:33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:
Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Groete,
Sakkie