WIE SY KRUIS NIE NEEM EN AGTER MY VOLG NIE, IS MY NIE WAARDIG NIE

WIE SY KRUIS NIE NEEM EN AGTER MY VOLG NIE, IS MY NIE WAARDIG NIE

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra, wat hier op neergekom het:
“Wat het Jesus bedoel dat ek my kruis moet opneem en Hom volg?”

Mense het oor hierdie saak verskillende sienswyses. Omdat ek gevra is, deel ek in kort hoe ek dit sien, en na die beste van my vermoë probeer uitlewe.

Kom ons kyk net gou wat het dit in Jesus se tyd beteken as jy ‘n kruis gedra het.
Die Romeine het, as jy gekruisig gaan word, dat jy jou eie kruis dra tot by die plek van teregstelling en dan is jy daar gekruisig.
Dan het jy aan daardie kruis gehang totdat jy dood is.
Dus, as jy in die straat afgestap het met ‘n kruis op jou skouers, het die mense wat jou gesien het asook daarvan gehoor het, geweet dat jy tot jou dood toe, onlosmaaklik aan daardie kruis verbind is.

Dit is – so glo ek: wat Jesus vir my sê as Hy sê dat as ek Hom wil volg, moet ek bereid wees om my kruis op te neem en Hom volg.
Maak nie saak hoe moeilik satan en sy trawante dit vir my maak nie. Ek moet my eie ek as’t ware kruisig, sodat net die volgeling/dissipel van Jesus lewe en dit moet onherroeplik wees, wat ookal my pad langs kom. Selfs, nie dat dit noodwendig sal gebeur nie, maar ek moet selfs bereid wees om Hom te volg, al sou dit tot die dood toe wees.

Nou weet ek daar is die “prosperity preachers” en andere wat verkondig dat dit met ‘n kind van ons Here wonderlik moet gaan. Daarop antwoord satan seker met ‘n glimlag:
“Oor my dooie liggaam” en ons weet dat hy nie kan doodgaan nie.
Jesus sê dan ook self.

JHN 16:33  “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Wat Jesus, so glo ek, vir ons sê as Hy vir ons sê dat ons bereid moet wees om ons kruis op te neem as ons Sy volgelinge wil wees, is – om dit so te stel – dit gaan nie noodwendig gebeur nie, maar as dit gebeur, moet ons bereid wees om die “punch” te vat, al sou dit tot die dood toe wees. Met ander woorde, terwille van Jesus mag geen, as jy wil, opoffering te groot wees nie.

Om verder te staaf wat ek nou gesê het, moet ek noem dat elke keer waar ons in die Woord lees dat Jesus die stelling maak dat as ons Hom wil volg, moet ons ons kruis opneem, laat Hy ons direk daarna verstaan dat ons selfs nie ons lewens bo Hom mag verkies nie. Na alles, Hy het nie Sy lewe bo ons verkies nie en as Hy nie gedoen het wat Hy gedoen het nie, was ons bestem om vir ewig in die hel deur te bring.

MAT 16:24  “Toe sê Jesus vir Sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.
MAT 16:25  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.”

MRK 8:34  “En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.
MRK 8:35  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red.”

LUK 9:23  “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.
LUK 9:24  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.”

Op ‘n ander plek lees ons:

MAT 10:38  ”En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.
MAT 10:39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.”

Daarom strewe ek daarna om soos my groot held Paulus, te sê dat die dinge in die wêreld wat nie saam met die Evangelie van Jesus gaan nie, vir my gekruisig is, met ander woorde – dood is; en dat ek vir die dinge in die wêreld wat teen die Evangelie van Jesus is, gekruisig is, met ander woorde – dood is.
 

GAL 6:14  “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”

Groete,
Sakkie