WIE VOLOP SAAI SAL OOK VOLOP MAAI

WIE VOLOP SAAI, SAL OOK VOLOP MAAI.

Sakkie Parsons

Ek word maar gereeld oor veral twee van my sienswyses in my verkondiging van die Evangelie gekritiseer.
Die een is oor my siening van naasteliefde en wie my naaste is en die ander een is oor my siening van die wet van Moses en tiende gee.
Oeps en amper vergeet ek die mense wat my gereeld trap oor my siening van die Sabbat en watter dag die Sabbat moet wees.

Ek was weer aangespreek oor my siening oor die gee van tiende en ek deel in hierdie dagstukkie my antwoord aan die persoon, omdat ek dink ons Here het my hier onder andere iets laat skryf, wat ek nog nie vantevore geskryf het nie.

Hier dan volg my antwoord met geringe veranderings aan die persoon:
Jy kwoteer MAL 3:8-10.
Ons lees dan onder andere:

MAL 3:9  “Daar rus ‘n vloek op julle, want julle hele volk besteel My”

Veral die “prosperity preachers” en diegene wat die verkondiging van “jy moet jou tiende betaal,” net die geld gedeelte natuurlik, hou daarvan om hierdie gedeelte te kwoteer, maar ‘n mens moet versigtig wees wanneer en hoé jy die Woord kwoteer, sodat jy nie dalk woorde aan ons Here toedig wat Hy glad nie gesê het nie.

As jy byvoorbeeld sê, dat daardie woorde vandag op die Christen volk van toepassing is, sê jy dat ons Here, of nie weet van die mense wat wel oor die een of ander rede ‘n tiende gee nie, om nie eens te praat van die mense en hoe heerlik, wat meer as ‘n tiende gee nie en as Hy wel van hulle weet, Hy hulle baie onregverdig in dieselfde kamp plaas, as hulle wat Hom beroof. Want daar staan dit geskryf:

MAL 3:9 “Daar rus ‘n vloek op julle, want julle hele volk besteel My”

Het jy gesien wie is met die vloek belaai?
MAL 3:9 Met die vloek is julle belaai, … julle, die hele nasie!

In die Christen se geval, as jy dit op ons van toepassing wil maak, is die vloek dan ook op die wat wel ‘n tiende gee.

Ekself verstaan natuurlik, dat ons Here hier met die wet van Moses in my gedagte, met die Israeliete praat.

Dan skryf jy:
“Jy sien, ek het grootgeword onder die lering van Dr Gert Horak, en een van sy gunsteling sinne was: "God sê wat Hy bedoel in Sy Woord, en Hy bedoel wat Hy sê". God is nie dubbelsinnig nie.“

Nou, daarmee kan ek saamstem. So kom ons kyk gou na die een en ander wat ons Here van die wet van Moses sê.

Eerstens lees ek:

JAK 2:10 Julle weet mos:  iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree.
JAK 2:11 Want dieselfde God wat gesê het:  “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê:  “Jy mag nie moord pleeg nie.”  As jy dan nou aan jou huweliksmaat ontrou is, maar tog moord pleeg, het jy mos al die gebooie oortree.

Jy sien:
Wat die Wet van Moses aanbetref, is dit, om dit so te stel, álles of níks.
So, as iemand verkondig, dat jy volgens die wet jou tiende moet gee, al is dit net die geld gedeelte, moet jy ook verkondig, dat jy die héle wet van Moses op jouself van toepassing moet maak en al is daar baie wat dit gerieflikheidshalwe wil vergeet, is die tien gebooie net ‘n soort opsomming van die wet vir Israel en natuurlik almal wat dit wil hou.

Ook as iemand dink dat die hele wet nie alles insluit wat vir Israel in die wet bedoel is nie, stem ten minste my groot held Paulus en ek nie saam nie.

Hy skryf:

GAL 5:3  Ek sê dit weer:  Elkeen wat besny word, is verplig om die hele wet na te kom.

GAL 5:4 Julle wat deur God vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, het julle van Christus losgemaak.  Julle het God se onverdiende goedheid (genade) verbeur.

Ek is seker, dat jy tog saam met my sal stem, dat ek dan wat die tiende en ander wette van Moses aanbetref, die pas gelese gedeelte met reg ook só kan verstaan:

1953 Vertaling:
En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, (verkondig, dat jy tiende moet betaal en van die ander wette op jouself van toepassing maak) dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.
Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, (om tiendes te betaal en sommige van die ander wette van Moses op julleself van toepassing te maak) is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

Dan ook, so met GAL 5:3-4 wat jy nou net gelees het in gedagte.
Tiende gee, is net so deel van die wet van Moses, as wat die besnydenis deel daarvan is.

Met ander woord, as ek die Woord nou reg verstaan, mag jy nie terwyl jy die een doen, die ander nalaat nie.

Dan skryf jy:
“En as 'n mens dan wil redeneer dat in die Ou Testament die mense onder die Wet gelewe het, dan kan ek mos ook redeneer dat die tien gebooie ook nie meer regtig van toepassing is nie?“

‘n Mens sou seker so kon redeneer, as jy nie onthou het nie, dat Jesus vir ons Sy liefdeswet gegee het.

MAT 22:36-40
36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37 Jesus se antwoord was:  ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38 Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39 Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoof gebooie.”

As jy hierdie twee wette onderhou, sal jy vind, dat jy uit heerlike liefde en nie as gevolg van enige dwang nie, nie een van die 10 gebooie volgens ons Here, soos Hy dit vir ons die Christene, Sy kinders gegee het, sal oortree nie.

Daarom dan ook dat my groot held Paulus kon skryf:

ROM 13:9  “Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: "Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself."
ROM 13:10 Die liefde doen niemand kwaad aan nie.  Daarom voldoen die liefde aan al God   se vereistes.

Die 1953 Vertaling stel vers 10 as volg:
ROM 13:10 Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

Jesus sê in verband met die vervulling van die wet van Moses die volgende:

MAT 5:17  Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie.  Ek het nie gekom om ‘n streep deur die wet of die profete te trek nie.  Nee, Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom.
1953 Vertaling:
MAT 5:17 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie.
      Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.

Hoe het Hy vervul?
Ek gee ‘n voorbeeld of wat – en as jy dit lees onthou dan ook jou stelling aan my:
"God sê wat Hy bedoel in Sy Woord, en Hy bedoel wat Hy sê". God is nie dubbelsinnig nie.“

Ons lees in die wet van Moses, waarvan tiende gee, al wil jy net hê dit moet “die geld gedeelte” wees, (Dit is natuurlik nie al wat tiende gee in die Mosaïese wet behels nie), die volgende:

EXO 21:22-25
22 As mans met mekaar baklei, kan dit gebeur dat hulle in die proses ‘n vrou wat swanger is, omstamp.  Sy kan haar baba verloor, maar nie self permanent beseer word nie.  Die persoon wat dit veroorsaak het, moet daarvoor aan haar man vergoed volgens die bepaling van die regters.
23 As daar permanente skade is, moet hy in ooreenstemming met die skade gestraf word.  As sy dood is, moet hy self doodgemaak word.
24 ‘n Oog wat beseer is, moet met ‘n oog se skade vergoed word.  As ‘n tand verloor is, moet iemand se eie tand uitgeslaan word.  ‘n Hand se skade moet met ‘n hand vergoed word, ‘n voet vir ‘n voet,
25 ‘n brandplek vir ‘n brandplek, ‘n wond vir ‘n wond en ‘n kneusplek vir ‘n kneusplek.

Dan kom ons Here Jesus, die Vervuller van die wet en Hy sê:

Moenie wraak neem nie – wees inskiklik

MAT 5:38 “Julle het gehoor dat daar gesê is:  ‘’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.’
MAT 5:39 Maar Ek sê vir julle, julle moet julle nie teen ‘n slegte mens verset nie.  As mense jou op jou regterwang klap, draai vir hulle ook jou ander wang.”

Verder lees ons in die wet, wat almal geheel en al moet nakom wat ‘n deel daarvan wil hou – soos tiende gee – al bedoel jy ook met “tiende gee” net die geld gedeelte, die volgende:

EXO 20:8-10
8  “Onthou om die Sabbatdag vir God te vier. 
9  Ses dae lank kan jy met jou daaglikse werk aangaan.
10 Die sewende dag is die HERE jou God se rusdag.  Niemand in jou huis mag op daardie dag aangaan met gewone werk nie.  Dit sluit in:  jy, jou seuns en dogters, jou manlike en vroulike slawe, die vee wat aan jou behoort en alle buitelanders wat by jou oorbly.”

Ek dink net met watter skuldgevoelens sommige polisie en byvoorbeeld verpleegsters op ‘n Sondag gaan werk, omdat hulle verkeerd geleer word.
Ek weet, want toe ek nog gewerk het, was daar ‘n tyd toe ek in my onkunde, gewonder het, of ek nie maar my werk moet bedank nie, omdat ek soms op ‘n Sondag moes werk.

Gelukkig kan hulle, die Christene wat op ‘n Sondag moet werk, soos ek wat soms lang ure op ‘n Sondag agter my rekenaar sit, die optrede van Jesus, die Vervuller van die wet in ons harte onthou:

Mense is baie belangriker as sabbatswette.

MRK 2:23 Een Sabbatdag, terwyl Jesus deur die koringlande geloop het, het sy dissipels so al lopende are afgepluk om te eet.
MRK 2:24 Die Fariseërs het vir Jesus gesê:  “Kyk wat doen hulle!  Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.”

Toe na Sy verduideliking aan hulle sê Jesus, die Vervuller van die wet vir hulle:

MRK 2:27 Toe sê Hy vir hulle:  “Die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie.
MRK 2:28 Daarom het Ek, die Seun van die Mens, seggenskap ook oor die Sabbat.

Hoekom praat ek so baie oor hierdie na my mening sommer boosheid wat van sommige kansels verkondig word, dat jy verplig is om jou tiende te gee en dan praat hulle natuurlik net van die geld gedeelte.

Ek het dit in die verlede gekry en ek kry dit vandag nog, dat wonderlike kinders van ons Here my kontak en my dan in een of ander variasie met groot skuldgevoelens laat verstaan:

“Ons Here wil niks met my te doen hê nie, omdat ek seker nie my tiendes betaal nie, want ek het nie eens geld vir kos nie.”
Of:
“My lewe is in ‘n gemors. Ek dink dit is omdat ek nie my tiende betaal nie en omdat ek nie geld vir ‘n tiende het nie, sal my lewe maar die gemors bly wat dit is.”

Hoe goor is die evangelie wat verkondig word, as mense tot sulke slotsomme kom.

Dan weet ek uit ondervinding, dat daar mense is wat tiendes betaal, sodat ons Here hulle tog net moet uitlos, dat hulle met hulle lewens kan aangaan soos wat hulle aangaan.

Ander gee weer, wat hulle ‘n tiende noem, sodat ons Here hulle tog asseblief moet seën. Met ander woorde, om dit so te stel, hulle betaal eintlik omkoopgeld en hulle kry dit van sommige kansels af, omdat die man op die kansel, in stede dat hy die ware Evangelie verkondig, gebruik hy die voorreg om daar te staan, om ‘n leuen te verkondig ter wille van geld.

Weer sê ek –
Wat ‘n goor evangelie om te verkondig.
Ek is van mening, dat die meeste wat hierdie soort evangelie verkondig, het nie genoeg vertroue in ons Here om te glo, soos wat ons – en ek gebruik my groot held Paulus as voorbeeld – van wat ons siening omtrent ons werk vir ons Here behoort te wees.

FIL 1:6  Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom.

Vir die onder ons wat nie ‘n tiende kan gee nie, wil ek sê:

Gee vir ons Here van wat jy ook al vir Hom wil gee byvoorbeeld, van jou geld, tyd, ensovoorts wat jy heerlik in liefde vir Hom wil gee.

Gee dit met liefde, want jy sien al die dinge wat jy het, behoort uiteindelik tog aan Hom maar jou liefde, dit kan net jy vir Hom gee.

Gee vir Hom en Sy kerk ens, want dit is reg vir ‘n kind van God om heerlik te gee maar gee dit soos dit van ons Here van ons verwag word om te gee –

2KOR 9:7  Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

Dan, wil ek net iets sê oor een stelling wat jy gemaak het, wat ek glo jy by ‘n iewers moes gekry het om te kwoteer.
Die bietjie wat ek van jou weet, kan ek net eenvoudig nie glo, dat dit spontaan uit jou hart kon gekom het nie.
Jy skryf:
“Daar is 'n spreukwoord wat sê; "Money makes the world go round", en dit is tog waar vir die kerk ook.”

Sjoe! Dit klink darem baie na mammon aanbidding.
Weet jy wat glo en verkondig ek?
“God makes the World go round” en dit is tog waar van die kerk ook!  Prys die Here!  Dit is juis waar vir die kerk!

Ten slotte:
Ek sê, gee ‘n tiende as jy wil en so wil glo, al is dit net die geld gedeelte.
Ek glo nie ons liefdevolle Here sal as gevolg daarvan jou tot die hel verdoem nie maar moet nie verkondig, dat dit deel van Jesus se Evangelie is nie. Want dit soos ek die Woord verstaan, is ‘n leuen en ‘n leuen is deel van die evangelie van satan.

Ek en baie ander Christene , is soos ek die Woord verstaan, volgens die Evangelie van Christus, onder die genade en nie onder die wet nie.

ROM 6:14 Die sonde mag hoegenaamd nie oor julle heerskappy voer nie.  Julle leef immers nie meer onder die verslawende mag van die wet nie, maar onder die bevrydende mag van die genade.

GAL 2:21 Ek verwerp nie die onverdiende goedheid (genade) van God nie.  As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!

Ons wat onder die genade is en nie onder die wet nie, onthou as ons gee – en hoe heerlik om dit te weet:

2KOR 9:6  Dus staan die saak só:  Wie suinig saai, sal karig oes;  wie ruimhartig saai, sal volop oes.

Die 1953 Vertaling stel dit so:
2KOR 9:6 Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.

Luister hierna:
In die Wet van Moses in die Ou testament was dit vir Israel verpligtend onder die Ou Verbond om ‘n tiende te gee.

In die Liefdeswet van Jesus  in die Nuwe Testament Is dit vir die Christen onder die Nuwe Verbond ‘n voorreg om as volg te gee:

2KOR 9:7 … soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie.

Dan, terwyl die Christen op daardie wyse gee, hoe heerlik om te onthou:

2KOR 9:7 … want God het ‘n blymoedige gewer lief.

Onthou kind van God, terwyl jy heerlik met ‘n blymoedige hart gee, dat nêrens in die Woord is daar ‘n teks of gedeelte van ‘n teks, wat iemand met ‘n skoon gewete voor ons Here eens amper kan gebruik om te sê:
Volgens hierdie gedeelte is dit duidelik, dat ‘n Christen verplig is om ‘n tiende van sy inkomste aan ons Here moet gee nie.

Die volgende dagstukkies wat ek geskryf het, kan help om hierdie sienswyse van my nog beter te verduidelik en ek stuur dit op aanvraag met die grootste liefde aan jou.

• Hoe heerlik! Jy en ek is vry – Kom ons Wandel met hierdie vryheid in die weë van
ons Here
• Die wet deur Moses en die genade en waarheid deur Jesus
• Die liefde – Die vervulling van die wet
• Want God het ‘n blymoedige gewer lief

Groete,
Sakkie