WIEROOK EN DIE CHRISTEN

WIEROOK EN DIE CHRISTEN

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra die volgende:

“Ek wil net baie graag iets vra: Jy praat hier in die gedagte uit die woord oor olie waarmee die mense iemand gesalf het maar ek sou so graag meer wou verstaan oor die wierook wat die katolieke gebruik.”

Die gedagte uit die Woord waarvan die skrywer aan my melding maak is:
“Laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het.”
Ek stuur dit graag op aanvraag aan jou as jy dit sou wou lees.

Terug by wierook.
Ons lees die eerste keer van Wierook in Eksodus 30:34-38:

34  Die Here het verder vir Moses gesê: “Meet gelyke hoeveelhede speserye af van hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook.
35  Meng dit soos ’n apteker en maak daarvan suiwer en heilige wierook.
36  Maal dit tot ’n fyn poeier en strooi daarvan voor die ark van die verbond waar Ek jou ontmoet in die tent van ontmoeting. Dit is besonder heilige wierook.
37  Jy mag nooit hierdie wierook vir jouself maak nie. Dit is uitsluitlik vir die Here. Dit is vir die Here alleen.
38  Die een wat so ’n mengsel maak, sal uit die gemeenskap verwyder word.”

In Matteus 27:51, Markus 15:38 en Lukas 23:45 lees ons dat die voorhangsel geskeur het met Jesus se offer en volmaakte verlossingswerk aan die kruis wat sodoende vir ons toegang en die vryheid gegee het om met vrymoedigheid ons Here te aanbid sonder enige rituele, of dan die brand van wierook:

MAT 27:50-51 
50 Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
51  Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars.

HEB 9:15
15  Daarom is Hy (Jesus) ook die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en ons sodat almal wat geroep is, die ewige erfdeel kan ontvang wat God vir hulle beloof het. Want Christus het gesterf om hulle te verlos van die straf op die oortredings wat onder die eerste verbond begaan is.

HEB 10:19-22
19  Broers en susters, ons het dus nou deur die bloed van Jesus volle vrymoedigheid om in die hemelse heiligdom in te gaan.
20  Hy het hierdie nuwe, lewegewende pad wat deur die binneste voorhangsel tot by God gaan, vir ons oopgemaak deur vir ons te sterf.
21  Wat meer is, ons het ’n groot priester wat toesig hou oor die huis van God.
22  Kom ons gaan dan die heiligdom binne, ja tot voor God, met ’n opregte hart en absolute vertroue, terwyl ons harte deur besprinkeling gesuiwer is van ’n skuldige gewete en ons liggame gewas is met skoon water.

Nêrens in die Woord lees ons egter dat Christene van wierook in hulle aanbidding of enige ander afdeling van die Christelike godsdiens gebruik moet maak nie.

Wat ek wel kan sê is, dat baie buite-Christelike godsdienste  ‘n taamlike groot waarde aan wierook gee.
Die Katolieke kerk, wat ek persoonlik nie as ‘n Christelike denominasie beskou nie, is een van die godsdienste wat, om dit so te stel, ruimskoots van wierook gebruik maak – maar dan die Katolieke kerk maak ook ruimskoots van, kom ek noem dit maar sogenaamde heilige aandenkings, gebruik.
Jy weet, dinge soos, ‘n stukkie van Jesus se kruis.
Ek dink as jy al die stukkies hout wat glo van Jesus se kruis afkomstig is bymekaar kan sit, sal jy tientalle volwaardige kruise hê.

Vir wat ek kan onthou, omdat daar ‘n tyd was wat ek baie daarin geïnteresseerd was, is die, soos ek dit maar sal noem, die bekendste heilige aandenking in die Katolieke kerk se besit, die kleed van Turin.
Een van die grootste mistastings vir my van die Katolieke kerk, van baie, baie wat ‘n mens sou kon noem wat jy nie in die Bybel vind nie, is die goddelike status wat hulle aan Maria, Jesus se moeder gee.
Soos ek al van tevore gesê het:  ‘n Mens sou selfs kon sê, dat sy die vierde persoon in die drie-eenheid is.

Die rede waarom ek iets oor die Katolieke kerk noem, want ek kon baie ander gelowe ook genoem het, is omdat jy my na die Katolieke se gebruik van wierook gevra het.

Buiten dat dit vir sommige mense lekker ruik, het wierook geen ander status in die Christen se godsdiens nie en as daar wel dinominasies is wat dit deel van hulle godsdiens, byvoorbeeld van hulle aanbidding maak, is dit onbybels.

Die enigste, om dit so te stel, wierook in jou en my godsdiens, behoort onsself te wees en my groot held Paulus stel dit so:

2KOR 2:14-15
14 Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons aan Christus verbind is, altyd saamneem in sy triomftog. Deur ons versprei Hy die aangename geur van sy kennis op elke plek.
15  Ons is die welriekende geur wat deur Christus vir God opstyg, onder dié wat verlos word sowel as onder dié wat verlore gaan.

Groete,
Sakkie