WIL JY DAT JOU LIEFDESVERHOUDING MET ONS HERE NOG MEER VERDIEP? Deel 1

WIL JY DAT JOU LIEFDESVERHOUDING MET ONS HERE NOG MEER VERDIEP – DEEL 1

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en my gevra: “Kan ek jou iets vra; ek is bekeer en ek wil meer stiltetyd met die Here spandeer. Het jy dalk enige raad hoe om meer tyd met God te spandeer?“

So tussen die lyne van die persoon se skrywe aan my lees ek dat die persoon ‘n verhouding met Jesus het, maar graag hierdie verhouding nog meer en meer wil laat verdiep.

In my antwoord aan die persoon moes ek toe ook in gedagte hou dat duisende mense hierdie gedagte uit die Woord gaan lees.

Ek wil begin deur te sê dat, ten einde enige verhouding met wie ook al, te laat groei, is dit van kardinale belang dat jy die persoon leer ken. Hoe beter jy die persoon leer ken en hoe meer jy met die persoon te doen kry,  soos in byvoorbeeld wedersydse kommunikasie en jy sodoende meer van die persoon te wete kom, hoe meer groei en verdiep daardie verhouding.  Meer so nog as dit ‘n liefdesverhouding is.

Met my liefdesverhouding met ons Here is dit ook nie anders nie. Inteendeel, in my liefdesverhouding met Hom is dit nog veel meer so. Want, in my verhouding met byvoorbeeld my vrou, is daar nie gedurig ‘n derde party wat probeer om ons verhouding te vernietig nie, en om jou is daar genoeg bewyse van wat kan gebeur as daar wel so ‘n derde party kom inmeng; maar in my verhouding met ons Here, is daar satan wat dit deurentyd 24/7 doen.

Ek deel nou graag met jou wat ek probeer uitlewe, want dit werk vir my in my liefdesverhouding met ons Here. Na my mening is die beste, fisiese manier om ons Here te leer ken, om Sy Woord te bestudeer en daagliks daarin te lees.

Ek sê: fisiese manier, omdat jy Sy Woord, die Bybel, fisies in jou hand kan neem en dit wat Hy met jou deel, fisies voor jou kan sien. Jy sal ook goed doen as jy saam met die Woord ook een of meer goeie Bybelse kommentare aanhou wat jy dan kan gebruik om jou dit wat jy byvoorbeeld vandag gelees het, beter te laat verstaan en hier wil ek graag die Bybelverklaarder “Albert Barnes” aanbeveel (op die internet beskikbaar) asook Die Bybel in praktyk en Die Bybel Verklaar, om dan saam met die Bybel (Nuwe Lewende Vertaling) te gebruik.

Want, die Woord is presies dit – Die Woord is ons Here se woorde aan ons. Iemand het dit so gestel: “Die Woord is ons Here se liefdesbrief aan ons.”

Ek het gehoor van ‘n gemeente wat ‘n daaglike joernaal hou wat goeie vrugte afwerp en wat hulle ‘SOAP’ noem:

S – Seek:  Lees daagliks ‘n hoofstuk uit die Bybel en skryf dan die Skrif wat vir jou uitstaan neer in jou Joernaal.
O – Observation:  Skryf dan wat die Skrif beteken in konteks met die hoofstuk. 
A – Application:  Maak nou hierdie Skrif van toepassing op jou lewe en skryf neer hoe dit jou persoonlik raak.
P – Prayer:  Skryf nou aan die einde ‘n gebed vir ons HERE neer. 

Op hierdie manier gaan jy verbaas wees as jy terugkyk en sien hoe ons HERE met jou gepraat en jou gebede verhoor het.

Toe iemand aan Billy Graham, (na my mening een van die grootste Godsmanne van my tyd) vra: “As jy jou lewe oor kon hê, is daar iets wat jy anders sou gedoen het?”, was sy antwoord glo: “Ek sou meer die Bybel bestudeer het en ek sou meer gebid het.”

Sien jy? – Wedersydse kommunikasie.

Na my mening is die Bybel die één Boek wat jy jou lewe lank kan lees en áltyd iets nuut daaruit kan kry.

Iemand het dit ook al so gestel: “Die Woord is oud maar altyd nuut.”

Ek bestudeer die Woord al 42 jaar en ek kry nog steeds die wonderlikste boodskappe vir my daaruit.

JESUS self sê van Sy Woord die volgende:

MAT 24:35  “Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal My woorde nog vir altyd vas bly staan.”

Dus, hoe meer jy ons Here se Woord lees en bestudeer, hoe beter gaan jy ons Here leer ken en hoe meer gaan jou verhouding met Hom verdiep.

Hy het dan ook aan ons laat skryf:

JOS 1:8  “Hou hierdie wetboek altyd by jou.  Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is.  Jy sal dan sukses behaal op jou pad.  Jy sal voorspoedig wees.

Want jy sien:

2TIM 3:16  “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe.  Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl.
2TIM 3:17  Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen.

HEB 4:12  Die Woord van God is vol lewenskrag en energie.  Dit is skerper as die ontleedmes van ‘n chirurg.  Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg.  Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop.

Om dan hierdie eerste skrywe aangaande ‘n beter verhouding met ons Here op te som, sluit ek af met die volgende twee gedeeltes uit die Woord. Wil jy dat jou liefdesverhouding met ons Here nog meer verdiep?

ROM 10:17  Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap.  En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus.

Lees net hier wat sê Jesus van iemand wat Sy Woord bestudeer en in die geloof glo wat sy/hy daar lees:

JHN 5:24  “Dit verseker Ek julle, wie My woorde hoor en vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe.  Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.”

Nou wil ek jou nog net op een úíters belangrike aspek van jou wandel met ons Here wys, as jy Sy Woord oopmaak en lees. Twee baie, baie belangrike waarhede moet jy áltyd, maar áltyd, onthou:

 

1. Jy lees die woorde van God Almagtig, die Skepper van die Hemel en die aarde, wat dit ook in die holte van Sy hand in stand hou en

2. Jy gesels met die Persoon wat jou liewer het as wat enige ander wese, jouself ingesluit, jou ooit kan hê.
                 
Groete,
Sakkie