WIL JY DAT JOU LIEFDESVERHOUDING MET ONS HERE NOG MEER VERDIEP? Deel 2

WIL JY DAT JOU LIEFDESVERHOUDING MET ONS HERE NOG MEER VERDIEP?  – Deel 2

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en my gevra: “Kan ek jou iets vra. Ek is bekeer ek wil meer stiltetyd met die Here spandeer. Het jy dalk enige raad hoe om meer tyd met God te spandeer?“

So tussen die lyne van die persoon se skrywe aan my, lees ek toe, dat die persoon ‘n verhouding met Jesus het, maar graag hierdie verhouding nog meer en meer wil laat verdiep.

Ek het in my vorige skrywe aan jou gewys hoe uiters belangrik dit is om ons Here se Woord te bestudeer omdat die Woord presies dit is wat ons sê dat die Woord is. Dit is ons Here se woorde aan ons. (Indien jy nie die vorige skrywe ontvang het nie, en dit graag wil ontvang, kan jy my gerus kontak sodat ek die eerste deel van hierdie skrywe aan jou kan stuur).

‘n Gesprek is egter nie ‘n gesprek as een persoon al die praatwerk doen en die ander persoon net moet luister nie.

Daarom wil ons Here ook graag hê dat jy en ek met Hom moet gesels, want ‘n mens wil graag die een vir wie jy lief is, se stem hoor sê dat die persoon ook vir jou lief is en dit is heerlik om ook te hoor wat jou geliefde se begeertes en behoeftes is.

So, wil jy hê dat jou verhouding met ons Here meer en meer verdiep?

Buiten dat jy gedurigdeur Sy Woord bestudeer en so meer en meer hoor en verstaan hoe ons Here oor jou voel en wat, om dit so te stel, Hy van jou verwag, tree in gesprek met ons Here deur gebed en doen dit baie, baie gereeld.

JESUS was hierin vir ons ‘n wonderlike voorbeeld. Na my mening is die Persoon van wie ons die meeste voorbeelde in die Woord het dat Hy gebid het, ons Here Jesus self en ek gee enkele voorbeelde:

MAT 14:23 “Daarna het Hy teen die berg uitgeklim om eenkant te gaan bid.  Laataand was Hy alleen daar.”

LUK 5:16 “ Maar Jesus het Hom gereeld in ‘n verlate plek afgesonder om te bid.”

LUK 6:12  Eendag kort hierna het Jesus na ‘n berg gegaan om te bid, en Hy het die hele nag in gebed deurgebring.

Ek bedoel nou nie dat jy elke keer as jy werklik opreg met ons Here gesels, jy nou op jou knieë moet val, of jou hande in die lug moet steek, of so iets nie. Ons Here is, so glo ek, meer geïnteresseerd in wat Hy uit jou hart hoor as wat Hy in die posisie van jou liggaam sien.

Daar is Christene wat dalk eenmaal per dag met ons Here gesels en dan wonder hulle waarom hulle nie ‘n werklik, mooi liefdesverhouding met ons Here het nie.

My groot held Paulus gee ons die volgende raad en ek is seker hy bedoel dit soos wat ek dit hier bo aan jou verduidelik het:

EFE 6:18 “ Doen alles deur gebed en smeking.  Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei.  Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

‘n Voorbeeld – na my mening – van een soort waterlose gebed, is die stel resitasies wat soms by, sê nou maar, die etenstafels opgesê word. Hoe lank dink jy sal ‘n man se vrou bemind voel as sy elke oggend hoor: “Totsiens my soetelief, jy bly nog steeds my hartedief.”

Dan, kaplaks, slaan die voordeur toe en daar gaan hy en doen wat hy moet en wat vir hom belangrik is.

Vanaand kom hy weer by die huis: “Goeienaand my soetelief, jy bly nog steeds my hartedief.”

Dan, kaplaks val hy voor die TV neer, wag vir sy kos ens en kyk die programme wat vir hom belangrik is.

Ek vra weer, hoe lank sal ‘n vrou of man wat hierdie soort optrede moet verduur, bemind voel?

Baie mense sal byvoorbeeld die ‘Onse Vader’ in MAT 6:9-14 ook opsê as ‘n soort gedig. Terwyl die’ Onse Vader’ eintlik deur Jesus vir ons gegee is as ‘n voorbeeld van wat ons Here, in watter volgorde, graag van ons sou wou hoor.

Daar is mense wat die ‘Onse Vader’ in nog meer dele sou wou opdeel maar ek deel met jou hoe ek dit sien, verstaan en probeer uitlewe. Eers sal ek met aanbidding begin:
MAT 6:9   “… Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;”

Nadat ek heerlik aanbid het sal ek dan met ons Here gesels oor al die dinge waarvoor ek Hom vertrou in dit wat ek om my sien. Éérs oor dit in Sy koninkryk waaroor ek voel ek met Hom wil praat en dan die ander dinge om my, soos byvoorbeeld die regering, armoede ens., waarmee ek uiteindelik tog net Hom met ‘n oplossing kan vertrou:
MAT 6:10  “Laat U koningsheerskappy spoedig kom.  Laat U wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel.”

Dan sal ek met ons Here gesels oor al my behoeftes en versoeke wat op daardie oomblik vir my belangrik is, omdat dit op daardie oomblik in my hart opgekom het:
MAT 6:11  “Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het.”

Dan sal ek my sondes bely en sal ek sommer met ons Here gesels oor die verkeerd in my lewe waarmee ek nog worstel:
MAT 6:12  “En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het.;”

Dan sal ek met ons Here gesels oor Sy beskerming teen satan en alle ander booshede wat op my pad mag kom,
MAT 6:13  “Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie;  en bevry ons van die greep van die bose.”

En sluit ek gewoonlik met ‘n groot, heerlike gevoel af om my Vader sommer weer te vertel hoe wonderlik Hy vir my is, al weet ek die laaste gedeelte van die ‘Onse Vader’ wat ons in die Woord lees, kom nie in die heel oudste geskrifte voor nie en is dus later by gevoeg:
MAT 6:14 “Want aan U behoort die koningskap (koninkryk) en die krag en die heerlikheid vir altyd.  Amen.”

Dit is min of meer wat my gebed ten mínste een maal op ‘n dag behels. As jy jou so afsonder, probeer dit doen op ‘n plek waar jy heeltemal alleen met ons Here kan wees en gesels sommer hardop met ons Here. Dit help my persoonlik om gefokus te bly, want onthou, dat satan weet ook wat jy besig is om te doen.

Vir my is nog ‘n heerlikheid van alleen met ons Here gesels – dat as ek aangedaan raak, ek sommer heerlik kan huil en ek nie hoef te dink dat iemand nou gaan kom kyk wat aan die gang is nie.

Jesus het, soos jy gelees het, ook Homself afgesonder, weg van almal af.

Die res van die dag sal ek sommer so in die loop, tik, eet ens., met ons Here gesels.

Ek sal hierdie, om dit so te stel, resep sterk by jou aanbeveel, want dit werk vir my en help my om te groei en ook om ‘n heerlike verhouding met ons Here te hê, wat steeds, volgens my, elke dag groei.

Al weet ek dat jy en ek nooit in hierdie lewe ‘n volmaakte verhouding met ons Here sal kan hê nie, wil ek jou aanmoedig om dieselfde uitkyk in jou verhouding met ons Here te hê wat my groot held Paulus gehad het, en waarna ek ook strewe, al faal ek soms so bitterlik in my poging:

FIL 3:12  “Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie.  Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!

Hoe wonderlik is ons Here se liefde nie vir ons nie, want al sal jy, soos ek, baie struikel en soms selfs val:

1JHN 1:9  “As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.”

Hoe is dit moontlik, sal iemand dalk vra, dat ‘n God wat so groot en so heilig is soos wat ek verkondig, mense kan bly vergewe, mense wat bly probeer en bly swik en faal?  Want – en hoe wonderlik, wonderlik, wonderlik om te weet –

1JHN 2:1-2 “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie moet sonde doen nie.  As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die Regverdige.  2Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes.”… 

Ek jubel dit uit!

HEB 12:1-2  Met so ‘n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry.  Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, 2ons oê vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindsreep steun.  Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur.  Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie.  En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! 

Ek het in hierdie twee gedagtes uit die Woord gepoog om jou te wys hoe jy en ek heerlik deur Sy Woord en ons gebede kommunikasie met ons Here kan hê en so al hoe meer in ons verhouding met ons Here kan groei.

Nou wil ek jou ook net weer herinner, want ek het dit in my eerste skrywe oor hierdie onderwerp ook aan jou genoem. Of jy die Woord lees en of jy met ons Here praat, moet nooit die volgende uit die oog verloor nie:

1. Jy is nou in gesprek met God Almagtig, die Skepper van die Hemel en die aarde, wat dit ook in die holte van Sy hand in stand hou en –
 

2. Jy is nou in gesprek met die Persoon wat jou liewer het as wat enige ander wese, jouself ingesluit, jou ooit kan hê.

Groete,
Sakkie