WIL JY HÊ DAT GOD SE VUUR HELDER MOET BRAND OP DIE VUURHERD VAN JOU HART? – DEEL 1

WIL JY HÊ DAT GOD SE VUUR HELDER MOET BRAND OP DIE VUURHERD VAN JOU HART?
Deel 1 van 2.

Sakkie Parsons

Iemand stuur vir my die volgende groot waarheid en toe dink ek dat daar twee groot dinge uit die verlede is waaraan ek moet werk, as ek wil hê dat ons Here se vuur helder en hoog in my hart moet brand.

Ek deel nou met jou die eerste ding wat ek glo ons moet doen en oor ‘n dag of wat deel ek met jou die tweede ding wat ons moet doen, om ons Here se vuur helder en hoog in ons harte te laat brand.

Wat vir my gestuur was, was die volgende:

“Wil jy hê dat God se vuur helder moet brand op die vuurherd van jou hart?
Krap dan gister se as uit.”

Toe dink ek om die gedagtes wat in my hart opgekom het, saam met die volgende gedeeltes uit ons Here se wonderlike Woord, oor die éérste wat ons moet doen om van die as van die verlede ontslae te raak, sodat Sy vuur helder en hoog in ons harte kan brand.

Om God se vuur hoog in my hart te laat brand moet ek eers die as van my skuldgevoel oor die verkeerd in die verlede in my eie lewe uitkrap en vir áltyd weggooi.

Hoe doen ek dit?
Lees wat sê die Woord:

1JHN 1:9  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

As ek my sonde, of dan die verkeerd in my lewe, werklik in alle opregtheid teenoor ons Here bely het, het ek hierdie heerlike vrede en vreugdevolle wete dat, wat ons Here aanbetref, dit nie meer bestaan nie.

JES 1:18  Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.

Nou het ons Here my vergewe.  Nou moet ek ook myself vergewe.

Hoe doen ek dit?

Kyk hoe stel die man wat die grootste vervolger en moordenaar van Christene van sy tyd gewees het, wat hý gedoen het en wat ons ook moet doen:
Dit natuurlik, nádat ons gedoen het wat ek jou hier bo gewys het.
Paulus skryf:

FIL 3:14  Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

Nou wil ek jou ten slotte wys, hoekom dit vir Paulus gewerk het en hoekom dit vir my gewerk het.

Jy moet dit in alle opregtheid, met volle oorgawe, by die voete van Jesus doen.

Kom ek wys jou een van, wat vir my die pragtigste voorbeelde uit die Woord is,  iemand wat volgens die mens se standaard ‘n baie slegte, sondige lewe gehad het en toe by die voete van Jesus gedoen het wat ek jou hier bo gewys het.

Dit is ‘n lang gedeelte, so ek gaan vir jou net hier gee wat ek dink vir my skrywe aan jou relevant is maar jy kan gerus die hele gedeelte gaan lees vanaf  LUK 7:36.

LUK 7:44-47 
44 Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog.
45  ‘n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.
46  Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf.
47  Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.

Elkeen wat so ‘n volle oorgawe maak, sal ook verseker verstaan en ervaar wat Jesus vir ons in JHN 14:27  sê:

JHN 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

So kind van God –

Vergeet die dinge wat agter is en strek jou uit na wat voor is.
Want wat verby is, is verby, maar voor jou strek die toekoms uit tot in die Hemel.

Groete,
Sakkie