WIL JY HÊ DAT GOD SE VUUR HELDER MOET BRAND OP DIE VUURHERD VAN JOU HART? – DEEL 2

WIL JY HÊ DAT GOD SE VUUR HELDER MOET BRAND OP DIE VUURHERD VAN JOU HART? – DEEL 2

Sakkie Parsons

Ek het reeds met jou gedeel oor die een soort 'as' van gister, wat ‘n mens uit die vuurherd van jou hart moet krap as jy wil hê die vuur in jou hart se vuurherd moet helder en hoog vir ons Here brand.

Nou wil ek jou graag die tweede soort 'as' wys wat jy uit jou hart se vuurherd moet krap.

As dit wat vir my gestuur was, wat ons Here gebruik het om my op hierdie gedagtes te bring, jou dalk ontgaan het, hier is dit weer:

“Wil jy hê dat God se vuur helder moet brand op die vuurherd van jou hart?
Krap dan gister se as uit.”

Die tweede soort 'as' wat jy uit jou hart se vuurherd sal moet krap, as jy wil hê dat die vuur in jou hart mense vir ons Here moet verhit en hul lewens moet verhelder, is slegte gevoelens oor iets wat gebeur het of nog nooit opgehou gebeur het nie.

Hoe doen ek dit?
Daar staan geskrywe:

MAT 5:23  As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het,
MAT 5:24  laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.

Verder staan daar ook:

MAT 5:43-48 
43 Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.
44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;
45  sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.
46  Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie?
47  En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie?
48  Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

Hoe kan ek volmaak in hierdie saak wees?
Is dit enigsins moontlik om volmaak te wees wat hierdie saak aanbetref?

Natuurlik is dit moontlik, anders sou Jesus ons nie hiérdie opdrag gegee het nie.
Lees ook hier:

KOL 3:13  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
KOL 3:14  En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.

Jesus sit die Liefdeswet van God aan jou en my só uiteen:

MAT 22:37-40 
37 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Ek sluit dan hierdie skrywe so aan jou af –
Daar staan dit geskrywe:

ROM 13:8-11 
8 Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.
9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
10  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.
11  En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.

As jy dit nog nie reg gekry het om al die as van gister uit jou hart se vuurherd te krap nie, moenie moedeloos word nie, maar moet ook nie ophou krap nie.  Want as ek die Woord reg verstaan wat hiérdie saak aanbetref, is dit haalbaar en ek vir een probeer dit te bereik en al sou ek dit ook nie ten volle regkry nie, gaan ek nie ophou probeer nie.

Want hoe meer as ek uitgekrap kry, hoe hoër en helderder brand die vuur vir ons Here en die mense om my in die vuurherd van my hart.

2KOR 13:11  Verder, broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.

Groete,
Sakkie