WIL JY ‘N WARE EN GOEIE LEIER WEES?

WIL JY ‘N WARE EN GOEIE LEIER WEES?

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra of ek nie iets wil skryf oor wat die eienskappe van ‘n leier behoort te wees nie.

Iemand het my ook al gevra wat ‘n mens moet doen om fiks te wees en my antwoord toe aan die persoon was ‘n teenvraag:
“Fiks vir wat?”
Fiks vir swem.
Fiks vir gewig optel.
Fiks vir boks en so kan ‘n mens aangaan.
Die Engelse het ‘n gesegde:
“Different horses for different courses.”

So kry jy ook leiers op verskillende gebiede wat verskillende vereistes  aan die leier stel -maar na my mening is daar ‘n paar eienskappe waaraan elke wáre goeie leier aan behoort te voldoen en ek deel dit graag met jou.

Hou ook in gedagte, dat Jesus Christus my Aanvoerder is en ek antwoord dan uit die perspektief van ‘n volgeling/soldaat van Christus.

Natuurlik is daar ander mense wat ander eienskappe in ander volgorde sal wil noem maar hier is my antwoord op die vraag wat aan my gestel was, soos ek deur ons Here gelei voel om met jou te deel:

Eerstens moet jy in ons Here as jou Leier glo.

Jesus stel dit so:

JHN 14:1  Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.

As jy hierdie weg volg, is jyself ‘n oorwinnaar, wat ander tot allerlei oorwinnings kan lei:

JHN 3:36  Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; (leef in oorwinning) maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, (het verloor nog voor jy eens begin het) sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

Tweedens:
Om ‘n leier te wees, moet ek ook besef, dat ek eers ‘n dienskneg is van die mense wie ek lei.

Jesus stel dit so:

MAT 20:25-26
25  Jesus roep hulle toe bymekaar en sê: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle.
26  Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort julle dienskneg te wees.

Toe by geleentheid, demonstreer Jesus, ons leier deur Sy voorbeeld hoe dit werk:

JOHANNES 13:12-17
12  Toe Hy dan hulle voete gewas en sy bo-klere geneem het, gaan Hy weer aan tafel en sê vir hulle: Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het?
13  Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.
14  As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.
15  Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.
16  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, (in Jesus se weermag) ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.
17  As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.

Derdens:
‘n Ware leier se woord, om dit so te stel, is sy eer:

KOL 3:9  Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die (klere wat ek in die wêreld gedra het) oue mens met sy werke afgelê het
KOL 3:10  en julle (die uniform van ‘n soldaat van Christus, in die weermag van Christus aangetrek het) jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper. (Jesus Christus)

Ja, ‘n leier, of dan iemand met ‘n rang op sy skouer in die weermag van Christus maak nie van leuentaal gebruik nie:

EFE 4:25  Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.

‘n Ware Christen-leier maak nie van leuentaal gebruik nie, gewoon omdat iemand wie van leuentaal gebruik maak, na ‘n ander aanvoerder se opdragte luister, wat aan hom/haar uit die hel aangestuur word:

Jesus stel dit so:

JHN 8:43  Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie.
JHN 8:44  Julle het die duiwel as vader, (julle aanvoerder of dan leier) en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. (satan is die skepper van leuens)

Vierdens:
Doen altyd aan ander soos jy sou wou dat hulle aan jou moet doen:

LUK 6:31  En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.

Want jy sien –
As ek anders optree, tree ek nie op soos een van Jesus se volgelinge nie maar soos een van die vyand, in die geval, satan se volgelinge:

LUKAS 6:32-34 
32 En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet.
33  En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde.
34  En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.

Ek sluit dan nou af en ek deel dit uit aan almal wat ‘n ware goeie leier wil wees:

HEB 12:1-3 
1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
3  Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.

Groete,
Sakkie