Chamberlain Capital Classic 21,1km wedloop op 08-10-2022

My wedloop op die 8ste Oktober 2022

Ek deel graag met jou die volgende as ‘n gedagte uit die Woord maar ook as ‘n getuienis van hoe goed ons Here in Sy liefdevolle genade vir my Saterdag die 8ste Oktober 2022 gewees het.

Ek wou so graag na my 75de verjaarsdag, halfpad op my pad na 80, as ons Here dit so sou wil en ek lewe, ‘n 21 kilometer wedloop hardloop.
My gids Marix Venter het geweet dat ek dit baie graag sou wou doen en al was sy nie te lank voor die wedloop ongesteld, het sy nog haar weg oopgesien om saam met my die wedloop aan te pak.
Ons Here was vir my baie, baie goed en ek het die wedloop so baie geniet.

Omdat dit gelukkig vir my ‘n dubbel rondte wedloop was, kon ek vir Lynette vooraf vra om by die halfpadmerk vir my ‘n energiedrankie te gee, soos jy links bo in die collage kan sien.
Annalie du Plessis wat gewoonlik, al is sy baie vinniger en fikser as ons, aan my linkerkant hardloop om te keer dat atlete wat ons van agteraf verby hardloop, nie dadelik voor my insny en in wie ek dan vashardloop nie, het van ongeveer 16 kilometer af by Marix oorgeneem en my net so ongelooflik mooi gelei, al was dit haar eerste keer.  As iemand dalk wonder, as jy op my webtuiste na die foto’s gaan kyk hoekom ons met Skotse rompies gehardloop het.  Die hoof borg het aan almal wat met ‘n Skotse rompie gehardloop het en binne die afsnytyd klaar gemaak het, ‘n koopbewys gegee om by hulle te gaan spandeer maar die meeste van ons het dit sommer terwille van die tradisie van die wedloop gedra.

Ek is ons Here so dankbaar vir Hennie, Marix en Annalie wat ‘n wenspan is om my te help, saam met Lynette wat altyd voor en na ‘n wedloop my bystaan en help.

Almal mense wat ons Here in my lewe gestuur het om ‘n wedloop so ‘n heerlike ervaring te maak.

Toe ek in nabetragting terug dink aan die wedloop en ook die krampe wat ek naby die einde gekry het en hoe mooi Annalie my toe bygestaan het, kon ek ook die volgende uit ons Here se kosbare Woord onthou wat ek ook nou met jou deel en mag jy dit ook onthou in jou wedloop deur hierdie lewe.  Veral daar waar jy soms moeg raak en selfs soms die krampe van hierdie lewe moet trotseer, ook as ons Here jou daar vir iemand plaas, soos wat ons Here Saterdag die 8ste Oktober vir Annalie ook langs my in die 21 kilometer wedloop geplaas het, om my gids te wees en ook te help toe ek krampe begin kry het.

1THS 5:11  Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.

Dan, onthoud at jy in ‘n wedloop na jou ewige bestemming oppad is en jou teenstander is die satan.
So sorg dat jy geestelik fiks is en dan ook self sal kan getuig:

1KOR 9:26  Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie.

Sodat ook jy jou beloning van ons Here sal ontvang wanneer jy uit hierdie lewe oor die wenstreep draf:

OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
OPG 3:22  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Hoe heerlik om te weet, dat as ek Jesus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker, ek hierdie sekere wete het:

1KOR 15:57  Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.

Groete,
Sakkie.

Romeine 8:28 “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.”

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za
Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za
Sel:                         083 457 6669