Ek deel graag met jou wat ons Here my in hierdie 12 kilometer wedloop op 10 Augustus 2026 geleer het.
Om mee te begin, was dit vir my ‘n baie moeilike wedloop. Dit was vir my baie koud en dit het bykans deurgaans gereën waar ek in die wedloop met my gids gewees het. Sonet was ‘n wonderlike geduldige en goeie gids gewees, waarvoor ek baie dankbaar is.
My rug het van af ongeveer 6 kilometer begin pyn en op 9 kilometer kon ek plek-plek amper nie vanweë die pyn loop nie – maar net soos in my daaglikse lewe, het ons Here my gehelp en ek het die eindstreep gehaal en my medalje gekry.
Dit in baie kort was hoe ek die wedloop self beleef het.
Nou deel ek graag met jou die wonderlike lewensles wat ons Here weer vir my uitgewys het en wat eintlik in ‘n mindere of meerdere wyse die pad is wat elke ware Christen deur hierdie lewe stap.
Die eerste wat ons altyd kan weet, is dat GOD, my God en my Vader en my Vriend is.
Hy is my God.
Let op as jy die volgende lees, dat Jesus nie vir Thomas korrigeer, omdat Thomas Jesus “my Here en my God” noem nie, gewoon omdat Jesus presies was wie Thomas Hom genoem het.
JHN 20:24-29
24 En Thomas wat genoem word Dídimus, een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie.
25 Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.
26 En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle!
27 Daarna sê Hy vir Thomas: (omdat Hy ook die alwetende, alomteenwoordige, onsienlike God is) Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.
28 En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!
29 Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; (dan noem Jesus jou en my) salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.
Ons Vader:
MAT 6:9 (Jesus sê:) Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
Jou en my Vriend:
JHN 15:14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. (soos wat jy en ek dit in Sy nuwe testament wat Hy vir ons opgestel het, kan vind)
JHN 15:15 Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles (in en deur Sy Woord) wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
Nou, omdat ons weet, God die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde, is my God en my Vader en my Vriend, kan ek die wedloop deur hierdie lewe met heerlike vrede doen – al is dit menslik gesproke nie altyd maklik nie:
HEB 12:1-3
1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
3 Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.
Soms is dit moeilik en soms lyk dit eintlik onmoontlik, soos wat dit vir my by die 9 kilometer merk gelyk het – maar prys die Naam van ons Here, ons weet:
ROM 5:1-5
1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;
2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.
3 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,
4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop;
5 en die hoop beskaam nie, omdat (as ons werklik volgelinge van Jesus is) die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.
Asook:
1PET 1:6-9
6 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,
7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;
8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap,
9 en (wat ‘n wonderlike vooruitsig!) die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.
En nog verder:
JAK 1:2-4
2 Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val,
3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.
4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en (uiteindelik) in niks kortkom nie.
So my vriend/vriendin wat hier lees –
Dinge raak soms moeilik.
Dinge raak soms menslik gesproke eintlik ondraaglik.
Jesus, wie aan ‘n kruis gaan hang het om dit vir ons moontlik te maak om oor die wenstreep te gaan en ons medalje te ontvang en vir ewig in die hemelse heerlik te gaan lewe, het ons vooruit vertel:
MAT 24:11-13
11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
12 En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
13 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
Om dan vir ewig in omstandighede te leef, waarvan ons onder andere in ons Here se kosbare Woord as volg lees:
1KOR 2:9 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.
Soos jy nou net gelees het, kan geen mens met ons klein menslike verstand eens amper begin dink hoe oneindig wonderlik dit gaan wees nie – maar ek sluit hierdie skrywe af met so ‘n klein kykie, wat ons Here self ons van daardie hemelse omstandighede gee.
So, as dinge soms in hierdie lewe erg vir jou word, vertroos jouself aan die voete van Jesus in gebed hiermee:
OPG 21:4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. (En dit gaan, danksy vanweë wat Jesus op Golgota gedoen het, vir ewig en altyd aanhou)
Groete,
Sakkie