‘n Brief aan my geliefde lesers

Goeiedag my geliefde leser,

Hierdie is net ‘n kort skrywe om te noem waarom jy lanklaas van my gehoor het.

Ek het die 27de April, die middag, ‘n geweldige pyn in my maag gekry en die aand was ek opgeneem in die hospitaal en is die volgende dag geopereer vir ‘n obstruksie in my derm stelsel.
Die oumense het sommer gepraat van ‘n knoop in die derm.

Ek was 16 dae in die hospitaal en het nou met die liefdevolle genade van ons Here te heerlik, baie werk om in te haal.

Ek het ook ‘n groot les/getuienis wat ons Here my geleer het, wat ek binne die volgende paar weke met jou gaan deel.

Ek lê daardie Donderdag in die hospitaal en wag dat hulle my moet kom haal vir die operasie en ek dink hoe vinnig dinge in ‘n mens se lewe kan verander:
Die vorige oggend het ek nog 16 kilometer gehardloop in my oefening vir die Wally 21 km waaraan ek die tweede Mei sou deelneem en nou, 24 uur later, lê ek in hierdie geweldige pyn en wag dat ek geopereer moet word.

Ek deel nou met jou net die volgende gedagte.

C. S. Lewis die groot prediker het gesê en ek deel dit met jou soos ek dit verstaan:
God fluister in ons, Sy kinders se harte in ons blydskap en geluk, iets soos:
“Dit is reg my kind, “go for it.”  Geniet die lewe in en met dit wat ek jou gegee het terwyl jy in my weë wandel”

Maar ons Here skreeu soms in ons pyn en soms is dit iets soos:
“Pas op my kind!  Jy beweeg van die pad af en die afgrond, die hel in is naby jou!”

Een van die mense op wie ons Here, jy kan maar sê uit volle bors in sy pyn geskreeu het:
Oppas, jy is van die pad af, oppad na die hel se afgrond toe!!! was een van Sy groot profete, wie Hy toe uiteindelik kon gebruik het om 120,000 mense te red van die hel.
Onthou jy?
Kyk net hoe hard skreeu ons Here op Jona:

JONA 2:1-3
1 Jona het uit die ingewande van die vis tot die Here sy God gebid. 2 Hy het gesê:
“In my groot nood
het ek die Here aangeroep
en Hy het my geantwoord.
Ek het uit die doderyk geroep
en U het my gehoor!

Lees nou hier, hoe hard skreeu ons Here op Jona:
Oppas my kind!  Jy is van die pad af naby die afgrond die hel in!!!

JONA 2:3  In die diepte van die oseaan
het U my gegooi.
Ek het tot in die hart
van die see gesink.
Strome het rondom my gekolk.
U het golf na golf oor my laat spoel.

Ek sal hard moet dink of ek van iemand weet op wie ons Here harder geskreeu het as op Jona.
Vir my is dit al klaar ondenkbaar skrikwekkend net om die omstandighede in ‘n vis se maag aan te dink.

Toe, uiteindelik kon ons Here Jona gebruik om meer as 120,000 mense te red:
Onthou jy wat ons Here vir Jona gesê het?

JON 4:11 Nineve het meer as 120 000 mense wat nie weet wat reg of verkeerd
is nie …

Met dit wat ek nou met jou gedeel het, is dit dan goed om altyd te onthou, soos in Jona se geval, dat ons Here nie net sien as ons iets doen of sê wat gedoen of gesê kan word nie –  maar dat ons Here ook kan sien en hoor wanneer ons, in ons diepste gedagtes van Sy pad af na die afgrond, die hel in beweeg:

PSM.139:7-8
7 Waarheen sou ek kon gaan
om u Gees te ontwyk?
Of waarheen sou ek kon uitwyk
om u teenwoordigheid
te ontvlug?
8 Gaan ek op na die hemel toe,
is U daar;
gaan lê ek in die doderyk,
dan is U ook daar!

HEB 4:13  En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.

Hoe heerlik om dan ook te onthou as ons verder lees:

HEB 4:14-16 
14 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.
15  Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

ROM 8:28 “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.”

Seëngroete,
Sakkie Parsons

Romeine 8:28 “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.”