PHOBIANS 15KM OP 19 AUGUSTUS 2023

Ek deel graag met jou hierdie oor my Phobians 15 kilometer wedloop wat ek op die 19 Augustus 2023 gehardloop het.

Ek het met die liefdevolle genade van ons Here die groot heerlike voorreg gehad om op die 19de Augustus 2023, ‘n 15 kilometer wedloop te hardloop saam met my gids Marix Venter en Annalie Du Plessis.

Ek noem Annalie my mede-gids as ons so ‘n heerlike lang wedloop aanpak.  Want sy hardloop altyd met haar so mooi gesindheid aan my linkerkant en help, nommer een, dat mense wat ons van agter af verby kom nie dadelik voor my inswaai en ek dan in hulle vas hardloop nie.  Verder help sy ook vir geduldige Marix kyk vir gate en ongelykhede in die pad terwyl ons hardloop.

Sy hou ook vir Marix geselskap terwyl ons hardloop, want ek is maar ‘n swak geselser in so ‘n wedloop.  Ek konsentreer te hard om alles te hoor en in te neem wat om my gebeur.

Jy kan maar sê, ek kyk teveel met my ore om my rond.  Onthou, dit is nie elke dat wat ek so heerlik  lank buite my woonstel die wêreld om my kan ervaar, terwyl ek my tweede groot passie in die lewe uitlewe nie.

Marix moet my nie net lei nie maar ook soms baie geduldig maar hier langs my bly, al wil sy soms, so dink ek, liewer voet in die hoek sit.

Deur die liefdevolle genade van ons Here was dit weer deur hulle twee en Lynette wie my aan die begin voor die wedloop en weer in alles na die wedloop so wonderlik bygestaan het ‘n wonderlike wedloop ervaring.

Groete met Jesus liefde  en dankie dat ek my wedloop ervaring met jou kon deel.
Sakkie.