Sakkie en Lindie Strydom op Groot FM

Goeiedag,

Ek deel met ‘n heerlike groot dankbaarheid in my hart met jou die volgende getuienis.

Ek het net voor my 70ste verjaarsdag besluit om die nuwe dekade in my lewe met iets anders te begin en omdat ek vroeër jare langafstand wedlope gedoen het, besluit om dit weer te doen en my eerste Wally Hayward  gedoen.

Toe ek begin dink het aan die Wally Hayward van 2020,’n dag na my 73ste verjaarsdag, het ek besluit, dat ek aan ‘n klub wil behoort.

Ek skakel toe die Agapé klub en ‘n baie vriendelike man antwoord die foon en help my om na my verduideliking, dat ek blind is, my sommer oor die foon en skryf my in en is ‘n lid van die klub.

Hennie Venter, noem toe sommer verder, dat hy my weekliks sal kom optel om saam met die klub se groepie te oefen.

Toe hy my die eerste keer kom haal is sy vrou Marix by en so in die gesels oppad na die oefengroep, noem sy, dat as ek dit wil waag, sal sy probeer om my gids te wees en soos ons Here nou mos maar werk met Sy kinders, is sy toe die wonderlikste gids wat ek al gehad het.

Ek sluit toe ook aan by ‘n gim maar hulle het twee treadmills en in al die tyd wat ek daar geoefen het, het albei nog nooit terselfdertyd gewerk nie en baie van die tyd het ek daar gekom, dan werk nie een nie en omdat die oefening wat ek met my gidshond Pedro kan doen heeltemal ontoereikend is vir die afstande wat ek in gedagte het, was dit maar moeilike tye wat my oefening aanbetref.

Ek deel toe my probleem natuurlik met my gids en Marix, die mens wat sy is met haar mooi gesindheid, besluit om iets aan die saak te doen.

Sy kontak toe vir Lindie Strydom van Groot FM en in baie kort, kry ek eendag ‘n e-pos van Lindie Strydom met haar so mooi Jesus gesindheid en sy noem, dat hulle ‘n treadmill vir my het en dat die treadmill by my afgelewer sal word en dat Spar die treadmill vir my borg.

Nou het ek en hoe absoluut heerlik geen verskoning om nie my droom te verwesenlik, om weer my passie van langafstand hardloop te beoefen nie.

Terwyl ek hier sit en skryf kom daardie gedeelte uit ons Here se kosbare Woord weer in my hart op:

PSM 37:4-7

4 Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee.

5 Vertrou jou lewe toe aan die Here.

Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg.

6 Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die lig, en die regverdigheid van jou saak soos die middagson.

7 Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom.

Ek laat jou dan met hierdie gedeelte uit die Woord, wat altyd ‘n prioriteit in ons lewe moet wees:

ROM 10:8-10

8 die verlossing wat joune word deurdat jy glo – en dit is juis hierdie boodskap wat ons verkondig – is sommer hier by jou. Om die waarheid te sê, die Skrifwoord lui:

‘Die boodskap is hier by jou, op jou lippe en in jou hart.’”

9 Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.

10 Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons verlos.

11 Soos die Skrif sê: “Wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.”

Asook:

ROM 1:16-17

16 Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode (dit is jy en ek).

17 Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”

Groete,

Sakkie.