SKOSANA WEDLOOP FEB 2022

Ek deel graag met jou hierdie foto’s oor my wonderlike ondervinding na bykans twee jaar wat ek nie ‘n 10 kilometer wedloop op die pad kon hardloop nie.
Ek het die voorreg om, wat my gesiggestremdheid aanbetref, vir Marix te kan hê as seker loshande die beste gids om my te help, en soos die getuienis op my webtuiste uitwys van hoe Marix en haar man Hennie in my lewe gekom het, kan dit natuurlik ook nie anders nie, ons Here het haar dan saam met Hennie in my lewe gestuur.

Dit was weer vir my ‘n heerlike ondervinding, om so in die pad te mag hardloop en so na al die klanke/geluide te luister soos ons nader aan dit kom en dan soos dit weer agter ons verdwyn.
Dit was ook weer te heerlik om na die ander drawwers om my se gesels en kommentaar te luister.
Als en als was dit ‘n heerlike fees gewees met my gids wat ek so gemaklik mee saam kan hardloop en Hennie wat aan my ander kant hardloop.  Soms voor en dan weer agter ons en elke nou en dan eers so in die hardloop met ‘n bekende gesels wat ons teëkom of wie ons van agter af verby kom.

So met ‘n glimlag.
Ek het natuurlik weer opnuut ontdek, wat is die mooiste wyse om vir iemand te sê:
“Kom, kom nou, moet nie lyf wegsteek nie.” ☺ ☺
Dit is veral wat met my gebeur het naby die einde, as Marix vir my baie vriendelik of is dit nou, baie simpatiek gesê het:
“Sal ons maar weer draf?”
En Hennie dan aanmoedigend sekondeer met iets soos:
“Dit is nou nie meer ver nie.”
Ek waardeer hulle twee net so ongelooflik baie.

Nie net is Marix ‘n wonderlike gids en Hennie altyd byderhand om te bemoedig en help waar hulp sou nodig wees nie, maar hulle kom haal my altyd by my woonplek vir ‘n wedloop en neem my ook altyd weer terug huis toe.

Nou wil ek ook vir elkeen vra wat hier lees:
Sal jy my nie in jou gebede onthou nie asseblief?
Ek het jare terug ‘n groot besering in my linker voet opgetel en hy gee my taamlik probleme deesdae.
‘n Paar jaar terug het ‘n ortopeed vir my gesê, ek moet ophou hardloop, of ek sal later nie meer kan loop nie maar vra nou vir enige drawwer, of is dit nou “draf verslaafde” om sommer net op te hou met hierdie heerlike sport.
Baie dankie dat ek hierdie met jou kon deel.

Dankie ook, dat jy my Webtuiste besoek het.
Onthou om in die afdeling waar die gedagtes uit die Woord is onder die opskrif: 'Eposbediening' te gaan kyk.  Ek glo daar is iets daar wat ons Here met jou wil deel.  Dit is verseker een van die redes waarom Hy jou by my webtuiste laat besoek het.

Groete met Jesus liefde en sluit sommer aan as jy nog nie het nie – deur ‘n e-pos aan my te stuur.  Al die inligting is hier onder.
Sakkie.