TOM JENKINS CHALLENGE WEDLOOP

Ek deel graag met jou die volgende foto’s en getuienis van my laaste wedloop van die jaar, naamlik die 'Tom Jenkins Challange' wat ek op 19 November 2022 gehardloop het.  Sommer as ‘n getuienis van hoe wonderlik goed ons Here vir my is.

Toe my vrou wie aan dementia op haar ergste gewees het, net voor ons Here haar kom haal het, en ek toe al 7 jaar van erge trauma agter die rug gehad het en ek 70 jaar oud geword het, was ek op ‘n absolute laagtepunt in my lewe en het ek gevoel of ek niks, of dan amper niks meer krag gehad het om die lewe voort te sit nie.

Ek besluit toe, dat ek iets daadwerklik sal moet doen, anders gaan ek heeltemal agteruit gaan.
Toe besluit ek om te probeer om iemand te kry wat elke jaar na my verjaarsdag, ten minste een wedloop te probeer hardloop.
Ek het op net een wedloop per jaar besluit, omdat ek niemand gehad het om saam met my te oefen nie, behalwe my gidshond en ek kon nie met hom ver afstande oefen nie.

Dit is nou ‘n lang storie, wat in kort hier op my webtuiste gelees kan word maar ons Here is so goed vir my, dat ek nou te heerlik met Marix Venter as my gids en haar man Hennie se hulp, te wonderlik kan beplan om ten minste 12 wedlope, een elke maand van die jaar, te hardloop.

Ek deel dan nou met jou die een foto van Annalie, Marix en myself.
Annalie hardloop met haar mooi gesindheid altyd aan my linkerkant, sodat hardlopers wat van agter kom, nie dadelik voor my kan insny as hulle verby hardloop nie.
Marix – die wonderlike gids wat ons Here in my lewe gestuur het – is natuurlik altyd aan my regterkant terwyl sy my lei maar nie net lei sy my deur elke wedloop sonder dat ek selfs een keer struikel nie maar sy sorg ook, dat ek by elke wedloop waar ons gaan hardloop ingeskryf word en dat ek my inskrywingsnommer altyd op die regte plek het voor ons wegspring.
Lynette, wat op die ander foto saam met my en Marix is, is altyd saam met my by die wedlope om my oë voor en na wedlope te wees.
Hennie, wie altyd sorg dat ek veilig by ‘n wedloop uitkom en daarna weer veilig by my woonstel kom en gedurende die wedloop die lewe altyd interessant maak, het nie in hierdie wedloop gehardloop nie.  Want dit was ook ons Klub, die Agape klub, se 35ste verjaarsdag en hy het gesorg vir heerlike warm worsbroodjies en koffie vir almal van die klub wat klaar gehardloop het.

Die ander foto is waar jy die moordende Tom Jenkins bult kan sien, wat ons, so dink ek, omtrent na 6 kilometer moet uit.
So, met ‘n baie klein gedagte in my hart, wat begin het van net dalk een wedloop per jaar, omdat ek gedink het dat dit baie moeilik gaan wees om iemand te kry om gereeld saam met my te oefen en ek nog nie ‘n treadmill gehad het wat ons Here deur Sy groot liefdevolle genade vir my gegee het nie, het ons Here toe al hierdie wonderlike mense in my lewe gestuur en kan ek so my tweede grootste passie, naamlik padwedloop hardloop, in die lewe te heerlik uitlewe.

Ek wou dit sommer met jou deel.
Dankie dat jy my webtuiste besoek het en ek dit toe met jou kon deel.

Groete.
Sakkie.