Verkruin 15km wedloop Maart 2022

Ek deel graag met jou die volgende wat my 15 kilometer wedloop aanbetref op 26 Maart 2022  – die verste wat ek op die pad kon hardloop sedert Februarie 2020.

Ek moet natuurlik begin deur te getuig van hoe wonderlik ons Here in Sy liefdevolle genade teenoor my is met die 3 wonderlike mense wat ons Here deel van die span gemaak het om dit vir my moontlik te maak.
Op die een foto sien jy vir Hennie Venter, wie my altyd by my woonplek kom oplaai vir ‘n wedloop, anders sal dit natuurlik in die eerste plek vir my moeilik gewees het om by die wedloop uit te kom.
So met ‘n glimlag.
Van eerste plekke gepraat –
Hy begin altyd saam met ons en al die ander mense die wedloop maar dan hardloop hy vir ons weg.
Aan my regterkant is Marix Venter, Hennie se vrou en wat my aanbetref die beste hardloopgids is vir ‘n blinde persoon in die hele wêreld.
Aan my linker kant sien jy laastens maar verseker nie die minste nie vir Annalie Du Plessis, wat veral aan die begin maar verder ook dwarsdeur die wedloop die moeilike taak het om so te hardloop, dat mense wat aan my linkerkant verby kom, nie dadelik voor my kan inswenk en ek dan in hulle vas hardloop, of hulle tekkies uittrap of so iets nie.
Ek is haar natuurlik altyd baie dankbaar vir haar opoffering, aangesien sy baie vinniger as ons is en tog al die tyd langs my bly, om ‘n ongeluk te voorkom.

Ek wou hierdie drie mense net vir jou noem, om te getuig van hoe wonderlik ons Here in sy groot liefdevolle genade hierdie drie wonderlike mense in my lewe gestuur het, sodat ek die sport waarvoor ek so ‘n groot passie het, te kan geniet.

Gewoonlik na ‘n wedloop kom ook altyd die volgende twee gedeeltes uit ons Here se kosbare Woord in my hart op waarmee ek hierdie skrywe wat ek met jou deel, met groot dankbaarheid afsluit:

1KOR 9:24  Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang.
1KOR 9:25  Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ’n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ’n ewige prys.
1KOR 9:26  Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. …

Met die oog vasgenael op Jesus sal ons nie uitsak nie

HEB 12:1  Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral
die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,
HEB 12:2  ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs
deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!

Seëngroete,

Sakkie Parsons