Die Koning het gesê

Getuienis

Om die lied te verstaan, dink ek dit sal raadsaam wees om eers die volgende gedeelte te lees.

DANIËL 3 vanaf vers 1:

’n Goue beeld wat aanbid moet word

1 Koning Nebukadnesar het eenkeer ‘n goue beeld laat maak wat dertig meter hoog en drie meter breed was en dit in die Duravlakte in die provinsie Babilonië laat opsit. 2 Die koning roep toe al die amptenare van die provinsies op om teenwoordig te wees by die inwyding van die beeld wat hy laat maak het. Almal moes kom—die prinse, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die belastingamptenare, die regters en hofamptenare en almal wat een of ander pos in die provinsies beklee het. 3 Toe al hierdie amptenare bymekaar was vir die beeld se inwyding, moes hulle voor die beeld gaan staan. 4 ’n Aankondiger roep toe hardop uit: “Hier is ’n bevel vir al die nasies en volke en taalgroepe: 5 die oomblik wanneer julle die orkes hoor speel, moet julle almal neerbuig en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnesar laat oprig het. 6 Die een wat nie die beeld aanbid nie sal dadelik in ’n oond gegooi word.” 7 Toe die verteenwoordigers van die verskillende volke die orkes hoor speel het hulle almal neergebuig en koning Nebukadnesar se goue beeld aanbid.

Drie jode se weiering

8 Maar onmiddellik was daar van die Babiloniërs wat ’n klagte teen die Jode gemaak het. 9 Hulle het vir koning Nebukadnesar gaan sê: “Mag U Majesteit vir altyd lewe! 10 Dit was tog u bevel dat die oomblik as die orkes begin speel, almal moet neerkniel en die goue beeld aanbid, 11 en dat enigiemand wat dit nie doen nie, in die oond gegooi sal word. 12 Maar nou is daar ’n paar manne wat hulle nie aan u bevel steur nie. Hulle weier om u god te aanbid of neer te kniel voor die beeld wat u opgesit het. Dit is daardie Jode wat u aangestel het oor die Babilonprovinsie—Sadrag, Mesag en Abednego.”
13 Toe koning Nebukadnesar dit hoor, was hy woedend en het beveel dat die drie manne dadelik voor hom gebring moet word. Toe hulle voor hom staan, 14 vra hy vir hulle: “Hoor hier, Sadrag, Mesag en Abednego, is dit waar dat julle weier om my god te aanbid en neer te kniel voor die beeld wat ek opgesit het? 15 Ek gee julle nou nog ’n kans. Die orkes sal weer begin speel. As julle dadelik neerkniel en die beeld aanbid die oomblik wat julle die musiekinstrumente hoor, sal ek dit aanvaar. Maar as julle weier om voor die beeld te kniel, sal julle onmiddellik in die vuuroond gegooi word, en watter god sal julle dan kan red?”
16 Die drie manne se antwoord was: “Koning Nebukadnesar, dit is eintlik nie vir ons nodig om onsself in hierdie saak te verdedig nie. 17 As daar ’n god is wat ons uit die oond kan red, is dit die God vir wie ons dien. Hy kan ons ook uit u mag vry maak. 18 Maar al sou ons God ons ook nie red nie, wil ons hê u moet dit duidelik verstaan, U Majesteit, dat ons u god nie sal aanbid of voor u beeld sal neerkniel nie.”

Uit die vuuroond gered

19 Die koning was nou so kwaad dat sy gesig heeltemal vertrek was van woede: “Maak die oond nog sewe maal warmer as gewoonlik!” het hy beveel. 20 Hy sê toe ook ’n paar van sy sterkste soldate aan om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en in die oond te gooi. 21 Die drie manne is toe vasgebind net soos hulle was met al hulle klere aan—hulle mantels en broeke en tulbande—en so is hulle in die brandende oond ingegooi. 22 Omdat die koning so ’n streng bevel gegee het dat die oond nog warmer gemaak moes word, was die vuur verskriklik. Die soldate wat die drie manne in die oond moes gooi, is self doodgebrand. 23 Maar Sadrag, Mesag en Abednego, wat met toue vasgebind was, het binne-in die oond geval.
24 Toe spring koning Nebukadnesar skielik regop van verbasing: “Was dit dan nie drie manne wat ons geboei en in die vuur gegooi het nie?” vra hy vir sy raadgewers.
“Ja, dis reg, U Majesteit,” antwoord hulle.
25 “Maar daar sien ek dan nou vier manne,” sê die koning. “Kyk, hulle loop los rond in die vlamme en die vuur maak niks aan hulle nie! Die vierde een lyk soos ’n god!”
26 Toe gaan Nebukadnesar nader aan die oond se opening en roep na die drie manne: “Sadrag, Mesag en Abednego, diensknegte van die allerhoogste God, kom uit daar en kom hiernatoe!” Die drie kom toe uit die vuur uit. 27 Al die amptenare en die raadgewers van die koning wat daar bymekaar was, drom toe om hulle saam en sien dat daar geen teken van brand aan hulle was nie. Hulle hare en hulle mantels was nie geskroei nie, en hulle klere het nie eers na brand geruik nie.
28 Koning Nebukadnesar sê toe: “Prys die God van Sadrag en Mesag en Abednego, want Hy het sy engel gestuur om sy diensknegte te red. Hulle het op Hom vertrou en my bevel verontagsaam al moes hulle daardeur hulle lewe prysgee, want hulle wou geen ander god aanbid behalwe hulle eie God nie. 29 Daarom gee ek nou hierdie bevel: as iemand uit enige volk of nasie of taalgroep iets sê teen die God van Sadrag en Mesag en Abednego, sal so iemand uitmekaar gesny word, en van sy huis sal ’n vuilgoedhoop gemaak word. Want daar is geen ander God wat so kan red nie.”

Ek het op ‘n dag die gedeelte in die Bybel gelees en sekere gedeeltes was treffend en het dadelik vir my uitgestaan. As ek dan op my kitaar begin speel, weet ek dat ons Vader vir my iets wil gee. So was dit dan ook op die besondere dag dat al hierdie dinge wat uitgestaan het in die lied gestalte gekry het.

Eerstens, hier was ‘n koning wat soveel van homself gedink het dat hy nie sommer enige god aanbid nie maar slegs ‘n god wat hy self laat maak het. Ek het nog nooit van iemand anders in die geskiedenis gehoor of gelees wat meer van homself gedink het as die spesifieke koning nie. Hy is nie net groot in sy eie oë nie, hy is selfs groter as die god wat hy laat maak het, want hy is die skepper van sy eie god.

Destyds toe ek die lied van God ontvang het, het ek slegs die 1953 brailleskrif Bybel vertaling tot my beskikking gehad en in die vertaling lees ons dat die afgodsbeeld 60 el hoog was met ander woorde 27 meter hoog. As ek dan ook verder in die 1953 vertaling lees, staan daar die volgende van musiek instrumente geskryf: Daniël 3 Vers 5 (volgens die 1953 vertaling van die Bybel) : “Sodra julle die geluid hoor van horings, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid…..” Wat ‘n groot indruk op my gemaak het was, dat alhoewel die soldate doodgebrand het wat vir Sadrag, Mesag en Abednego in die oond gegooi het, was hierdie drie manne van God se klere nie eens geskroei nie en het hulle nie eens na vuur geruik nie.

Dink hieraan: As ‘n mens ‘n stukkie vleis op die kole braai ruik jy altyd na braaivleisvuur. Hierdie drie mans het ongedeerd uit die vuuroond gestap. Wat ‘n God! Wat ‘n wonderlike God! Om te dink Hy het jou en my uitgekies om deel van Sy koninkryk te wees.

Die Koning het gesê

Vers 1
Hy was ‘n man van mag, hy was ‘n man van naam,
Maar al die mag het na sy kop gegaan.
Hy het so groot in hom self geraak.
Hy het gaan sit en hy’t sy god gemaak.

Koor 
Want die koning het gesê,
Die koning het gesê.
As die horing blaas, as die doedelsak speel,
Moet julle doen wat ek beveel.
Elke man sak op sy knieë.
En die een wat dit nie doen nie, o liewe wee.
Hy sal met sy lewe boet,
Watter god sal dit verhoed.
Hy sal met sy lewe boet,
Watter god sal dit verhoed.

Vers 2
O die beeld was groot en die beeld was mooi.
hy’t geblink as die son sy strale gooi.
hy was groot,  ‘n sestig el,
Maar hy was die poort na die hel.

Koor
Want die koning het gesê,
Die koning het gesê.
As die horing blaas, as die doedelsak speel.
Moet julle doen wat ek beveel.
Elke man sak op sy knieë.
Die een wat dit nie doen nie, o liewe wee.
Hy sal met sy lewe boet.
En watter god sal dit verhoed.
Hy sal met sy lewe boet.
En watter god sal dit verhoed.

Vers 3
Maar drie het besluit, hier moet ons staan.
Voor ‘n beeld op die knieë kan ons nie gaan.
Vir die koning sê hul waar hy sit.
U beeld sal ons so nooit aanbid.

Koor
Maar die koning het gesê,
die koning het gesê.
As die horing blaas, as die doedelsak speel.
Moet julle doen wat ek beveel.
Elke man sak op sy knieë.
En die een wat dit nie doen nie, o liewe wee.
Hy sal met sy lewe boet,
Watter god sal dit verhoed.
Hy sal met sy lewe boet,
Watter god sal dit verhoed.

Vers 4
Hy’t hul toe laat vang en vas laat maak.
Hy’t die oond nog warmer laat maak.
Toe het hy hul daar in laat gooi.
En toe staar hy stip in die rooi.

Koor
Want die koning het gesê,
die koning het gesê.
As die horing blaas, as die doedelsak speel.
Moet julle doen wat ek beveel.
Elke man sak op sy knieë.
En die een wat dit nie doen nie, o liewe wee.
Hy sal met sy lewe boet,
Watter god sal dit verhoed.
Hy sal met sy lewe boet,
Watter god sal dit verhoed.

Vers 5
Hy roep toe sy manne en sê “…Kom gou hier,
Ek gooi drie in maar nou’s daar vier.”
Toe het hy hul daar uit laat kom.
“Hierdie God aanbid nou Hom.”

Koor
En die lessie wat ons leer?
Die lessie wat ons leer?
Of die horing blaas, of die doedelsak speel.
Doen net wat jou God beveel.
Swik voor niemand, gee nie mee.
En die Here jou God bewaar jou wee.
Die Here jou God sal by jou staan.
Hy sal saam in die oond ingaan.
Die Here jou God sal by jou staan.
Hy sal saam deur die krisis gaan.
Die Here jou God sal by jou staan.
Hy sal saam in die oond ingaan.
Die Here jou God sal by jou staan.
Hy sal saam deur die krisis gaan.