As Jesus verby kom

Getuienis

Ek wil graag met jou deel wat gebeur het, toe die lied hier onder in my hart tot stand gekom het.

Ek het eendag in my eetkamer in Rustenburg gesit en werk aan ‘n preek wat ek daardie Sondag sou bring.

My dogter Debbie as ek nou reg onthou, was sy destyds in graad 11, kom staan toe langs my en sit haar hand op my skouer – sy het dit altyd gedoen as ek besig met iets is en sy wil my aandag hê.

Sy sê toe vir my dat sy iets met my wil deel.
Ek het net voordat ek in die sitkamer kom sit het, die sproeier op die gras gesit.
Sy beskryf toe vir my die mooi groen van die grasperk en vertel my van die blomme en sê toe, dat wat sy eintlik vir my wil beskryf is die voëltjies wat so heerlik in die sproeier se sproei speel.
Dit was daardie dag ‘n baie warm dag.

Na ‘n rukkie van stilte tussen ons sê sy toe vir my:
“Weet Pa waaraan dink ek nou?”
Ek sê toe:
“Nee, vertel.”

Sy sê toe:
“Ek wens, dat elke keer as Jesus by my verby kom, Hy in my hart ‘n vrolike lied sal hoor, soos die lied van daardie voëltjies wat ek nou hoor en dat my gedagtes soos daardie voëltjies, altyd oor Hom sal huppel en spring.”

Na nog ‘n rukkie loop sy toe.
Nodeloos om te sê, dat ek so diep deur my dogter se woorde getref was, dat ek nie my gedagtes verder by die preek kon bepaal nie.
Ek kry toe daardie gevoel wat ek altyd gekry het, as ons Here se Gees vir my iets wou gee.
Ek neem toe my kitaar en begin soos altyd sommer net te tokkel.

Hier volg dan nou die lied wat ons Here my daardie dag gegee het:

As Jesus verby kom

Sy kyk deur die venster na die blomme daar buite en die voëltjies wat die môre toe sing.
Lê haar hand op my skouer en sê weet jy my pappie hoe die voëltjies daar buite mooi huppel en spring.

Koor
O maar as Jesus verby kom en in my hart in kyk
Wil ek hê dat dit daar net so mooi en so rein lyk.
dat uit my hart daar ‘n liedjie vir Hom sing.
En dat my gedagtes oor Hom huppel en spring.

Sanger gesels.

Helaas, sonde het die wêreld ingekom en saam met die sonde, die onheil,
die onrus  en smarte.
En daarom sien jy vandag op so vele gesigte in die straat.
In stede van die lente in hulle lewens, net die winter in hulle harte.

Vers 2
Ja, ai kom die winter dan is alles weg,
Die blare verdor en waai weg.
In die wêreld is daar onheil, onrus en smarte.
Want, daar is so baie met winter harte.

Koor
O, maar as Jesus verby kom en in jou hart inkyk.
Wil jy nie hê dat dit daar ook so rein lyk?
Dat daar ‘n lied uit jou hart vir Hom sing.
En dat jou gedagtes oor Hom huppel en spring.

Herhaal koor.