AS GOD SE VOLK, BESTAAN ONS UIT VERSKILLENDE STAMME, VOLKE, TALE EN NASIES

AS GOD SE VOLK, BESTAAN ONS UIT VERSKILLENDE STAMME, TALE, VOLKE EN NASIES

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg en ek deel met jou die relevante gedeeltes uit die brief, waaroor hierdie skrywe gaan:

“‘n Vriend van my het met ‘n swart dame getrou en hulle het nou ook ‘n kindjie.

Sy familie wil nou niks met hom te doen hê nie, want volgens hulle verbied ons Here dit.

Kan jy my skrif gee waar ons Here Christene verbied om met mekaar te trou, as hulle nie van dieselfde kleur is nie?”

Net voor ek jou antwoord.

Ek wonder maar net –

Wie sê sy familie, wie het daardie kindjie geskape?

Dan nou my antwoord oor jou vraag.

Nee, ek weet ook nie waar dit geskryf staan, dat een Christen nie met ‘n ander Christen mag trou nie.  Alle Christene behoort dan tot dieselfde volk; God se heilige volk:

1PET 2:6-10 

6 Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.  (Ongeag uit watter stam of taal, of volk, of nasie jy of ek is)

7  Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het n hoeksteen geword; en: n Steen des aanstoots en n rots van struikeling

8  vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.

9  Maar julle (dit is almal wie Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker) is n uitverkore geslag, n koninklike priesterdom, n heilige volk, n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, (almal wat van dieselfde volk, dit is van ons Here se heilige Christen volk is, mag tog met mekaar in die huwelik tree)

10  julle wat vroeër geen volk was nie, (omdat ons ongelowig gewees het) maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.

 (omdat ons, dit is elke mens op aarde, ongeag tot watter stam, taal, volk of nasie sy/hy is – wie Jesus Christus aangeneem het, wie aan die kruis op Golgota Homself geoffer het, sodat daar eenmaal n volmaakte offer vir ons geoffer is.)

Ai hoe heerlik kom daardie koortjie nou weer in my hart na vore wat ons altyd so lekker in die kerk sing en ek kwoteer sy woorde sommer direk uit die Woord vir jou:

OPG 5:9  Toe sing hulle n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,

Dan sing ons net aan die einde en herhaal dit twee keer:

Halleluja, halleluja, duur gekoop deur Jesus bloed!!!

Ek kon baie voorbeelde genoem het om te bewys dat die nie-meng met ander nasies in die Ou verbond op Israel van toepassing gewees het maar hierdie skrywe aan jou gaan al klaar ‘n bietjie lank wees, so ek volstaan met een voorbeeld.

ESRA 10:10  Die priester Esra staan toe op en sê vir hulle:  “Julle was ontrou deur met heidense vroue te trou.  Daardeur het julle Israel se skuld nog net meer gemaak.

ESRA 10:11  Bely teenoor die HERE, die God van julle voorouers, en doen wat Hy wil hê julle moet doen.  Maak julle los van die mense van die land en van die hierdie heidense vroue.”

Na my mening word Christene nêrens in die Woord ontmoedig om hulself met medegelowiges uit ander volke of as jy wil, uit ander sogenaamde rasse te verbind nie. 

Ook nie wat die huwelik aanbetref nie.  Inteendeel, ‘n mens sou selfs kon sê dat dit aangemoedig word eerder as om met iemand van jou volk of sogenaamde ras te trou wat nié ‘n belydende Christen is nie – maar daaroor moet jy maar self besluit met dit wat ek jou gaan wys.

Ek is wit.

God het my wit geskape en niemand het die reg om neer te kyk op die kleur wat God my geskape het nie.

Iemand wat op my neerkyk, of teen my diskrimineer omdat ek wit is, kyk neer en diskrimineer teen God se handewerk en dit is gewoon net boos, verwaand, arrogant.

Dieselfde wat vir my geld, gaan vir elke ander mens op aarde in watter kleur ook al dit God behaag het om haar/hom te skape.

Daar staan geskryf:

2KOR 6:14  Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg?  Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis? 

2KOR 6:15  Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial (‘n naam vir die duiwel)Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige?

Dus, ons Here verbied my byvoorbeeld, wat ‘n Afrikaner is, om met ‘n Afrikaner te trou wat nié ‘n belydende Christen is nie maar baie Christene voel net eenvoudig vere vir hierdie bevel van ons Here, dat ‘n Christen nié met ‘n ongelowige mag trou nie.

Soos ek gesê het:

Hierdie bevel word deur die meeste Christene net eenvoudig geïgnoreer en dit is na my mening een van die groot redes waarom die Christene nie ‘n millimeter vir die wêreld hoef agteruit te staan, as dit by egskeidingsyfer kom nie maar die hel is behoorlik los as ek dit sou waag om met ‘n ander gelowige te trou, as daardie bloedgewaste kind van God nie dieselfde kleur as ek het nie.

Wat ek sê is dit:

Ek mag volgens die Woord van ons Here nie teen ‘n Christen gelowige uit ‘n ander volk of sogenaamde ras diskrimineer nie, ook nie wat die huwelik aanbetref nie.

Na my mening mag ek net – en behoort ek my van iemand te onttrek, as die persoon ongelowig is en nadat ek oor en oor en oor probeer het en dit duidelik geword het, dat die persoon niks met Jesus te doen wil hê nie. 

Dit na my mening is die absolute enigste rede en dit geld natuurlik ook vir my eie sogenaamde ras, volk en familie.

Jesus gee ons in die verband die volgende opdrag:

MAT 10:14-16 

14As hulle julle nie wil ontvang of wil luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp en skud die stof van julle voete af. (As teken dat julle hulle aan hulle eie lot oorlaat.)

15  Ek verseker julle, op die oordeelsdag sal dit met die sondige stede Sodom en Gomorra beter gaan as met daardie dorp.

16 “Let op, Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in.  Wees dan skerp soos die slange, (slange is as intelligent beskou)  maar terselfdertyd opreg soos die duiwe. (Sonder valsheid of kwaad).

LUK 10:10-12 

12 “Maar as ‘n dorp weier om julle te ontvang, gaan uit in die strate en sê: 

11  Ons vee die stof van julle dorp van ons voete af as ‘n openbare aankondiging van julle oordeel.  En moenie vergeet dat die koningsheerskappy van God naby is nie!

12  Ek verseker julle, selfs die bose Sodom sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as só ‘n dorp.”

In die Ou Testament, volgens die Ou Verbond, was daar net twee groepe onder die menseras:  Israel en die Heidene.  Die Heidene, onder wie jy en ek sou geval het, as ons in daardie tyd geleef het.

In die Nuwe Testament, volgens ons Here se Nuwe Verbond, is daar ook net twee groepe onder die menseras en dit is die gelowiges, dit is almal wie Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker – en die tweede groep.  Die ongelowiges,  dit is die mense wie nié vir Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker nie.

Ek sluit af met een gedeelte van baie, uit ons Here se kosbare Woord wat uiteindelik geld vir élke mens op aarde.  Ongeag uit watter stam, taal, volk of nasie sy/hy is:

JHN 3:16-18 

16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

18  Hy wat in Hom glo, (dit is elke mens wie Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker) word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, (dit is elke mens wie nié vir Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie) is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.