EK SAL JOU BEWAAR IN DIE UUR VAN BEPROEWING WAT OOR DIE HELE WÊRELD KOM

EK SAL JOU BEWAAR IN DIE UUR VAN BEPROEWING WAT OOR DIE HELE WÊRELD KOM

Sakkie Parsons

Ek wil hierdie skrywe aan jou begin deur net te verduidelik, hoekom ek met jou iets deel wat nou ook al ‘n tyd gelede gebeur het.

Dit is om jou te waarsku teen vals e-pos wat satan se trawante rondstuur elke keer as daar iets buitengewoon gaan gebeur – en soms as daar niks buitengewoon gaan plaasvind nie, dan met satan hulle vader, dink hulle sommer die een of ander bose valsheid uit en stuur dit die wêreld in.

Ek wil maar net met hierdie skrywe by jou pleit.

Maak altyd eers baie seker, deur byvoorbeeld eers te ondersoek, of dit wat jy ontvang het en nou dalk ook wil aanstuur, van ‘n geloofwaardige bron kom.

Want onthou, as ek ‘n valse berig aanstuur, bevorder ek die werk van satan.  Want elke leuen wat ek uitstuur, het volgens Jesus sy ontstaan by satan.

Lees hier wat sê Jesus vir Sy teenstanders in die verband:

JHN 8:44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Ek deel met jou die volgende, sodat jy kan sien wat ek bedoel.

Iemand skryf by geleentheid aan my:

Hoop dit gaan goed.  Ek wil jou vra oor iets wat die hele wêreld  oor praat:  Die drie dae van donkerte.

Waar hulle praat van demone en geeste wat losgelaat word en dat jy nie jou deure en vensters moet oopmaak nie, nie eers deur dit kyk nie.

Dit gaan chaos wees en baie skrikwekkend. Ek meen die geluide ens wat daarmee gepaard gaan.

Weet jy iets van dit? Is dit Bybels?  Is dit waar?

Ek het die persoon toe gevra om my meer informasie te stuur en toe die persoon my toe geantwoord het, kon ek agter die kap van die byl kom en hier is toe wat ek die persoon geantwoord het:

Noudat jy my ‘n bietjie meer agtergrond van die nonsens wat aan jou gestuur gewees het vertel het, kan ek duidelik sien waar dit ontstaan het.

Jy kan gaan Google wat ek nou met jou deel, as jy nie daarvan weet nie.

So ‘n tyd gelede, ek kan werklik nie onthou hoe lank terug dit gewees het nie maar dit was nie te lank terug nie, was daar ‘n totale sonsverduistering in Amerika en ek gaan nou probeer verduidelik hoe dit werk maar eers –

Toe was daar ‘n klomp van hierdie valse en saam met hulle die doemprofete wat allerlei vreesagtige gemors versprei het, en saam met hulle was daar ook diegene wat ander mense nie ‘n unieke ervaring gun nie, en daarom was daar onder andere verkondig, dat jy jou deure en vensters en gordyne moes toehou, want hulle wou nie dat die wat kon die sonsverduistering kon ervaar nie.

Nou hoe werk ‘n Sonsverduistering?

Onthou nou, dat ekself blind is, so ek verduidelik vir jou nou na die beste van my vermoë hoe ek die soort ding kan onthou van hoe dit werk, uit die dae toe ek nog kon gesien het en dit is ook nou al lank terug, want ek het die sig wat ek gehad het in 1978 begin verloor.

Die son is baie groter as die maan en die aarde is ook groter as die maan.

Nou gebeur dit van tyd tot tyd, dat die maan tussen die son en die aarde deur beweeg.  Dan val die maan se ronde skaduwee op die aarde, maar net op ‘n gedeelte van die aarde, omdat die aarde groter as die maan is en die maan ook ‘n hele ent van die aarde af is.

Daardie gedeelte op die aarde waar dit dan dag is, en waar die maan se skaduwee op die aarde val, sal dit dan presies so donker soos in die nag wees maar omdat die maan baie vinnig beweeg, sal dit op daardie gedeelte van die aarde vir net 4 minute nag wees.

Nou, toe die maan nou kort tussen die son en die aarde deurbeweeg het, het die maan se skaduwee net op dele van Amerika geval en dit het in Meksiko begin.

So vir 4 minute het die mense in Meksiko in die dag, nag vir 4 minute beleef en hierdie skaduwee van die maan het vinnig oor Amerika geskuif, omdat die maan so vinnig tussen die son en die aarde verby beweeg het.

Al die mense in groot dele van Amerika het die kans gekry om vir 4 minute in hulle dag, nag te belewe en dit het begin by Meksiko en op deur Amerika beweeg tot oor Kanada en mense het van oor die hele wêreld gegaan om êrens in een van die plekke te wees waar die maan se skaduwee gaan beweeg.

As iemand wil verstaan hoe dit lyk en gebeur, kan jy in ‘n donker kamer ‘n flits byvoorbeeld, op ‘n sokkerbal laat skyn en ‘n end voor die flits jou hand voor die flits verby beweeg en so sien hoe jou hand se skaduwee oor die sokkerbal beweeg.

Die volgende sonsverduistering gaan in 2030 wees, as ons Here vertoef om te kom en dan gaan die skaduwee van die maan oor Namibië en die Vrystaat in Suid-Afrika beweeg en oral waar dit vir 4 minute gaan donker wees, gaan besighede baie geld maak met die toeriste wat weer van oor die hele wêreld gaan kom, om vir 4 minute in die dag, heeltemal nag te beleef.

Dan kan jy ook seker wees, gaan satan weer sy volgelinge gebruik om allerlei gemors te versprei om vrees by mense aan te wakker en soos dit ook nou gebeur het, wolf-wolf te skreeu, terwyl daar nie eens ‘n pasgebore klein hondjie gewees het nie.

So sal satan maar kort-kort iets misbruik, sodat sy volgelinge “wolf-wolf” namens hom moet skreeu.

As kind van God, moet jy en ek net altyd hierdie twee feite onthou as mense sulke gemors aan jou stuur:

Eerstens –

Ons kry alles in die Woord wat ons nodig het om te weet, wat gaan gebeur voor ons Here ons kom haal.

Tweedens.

Jy en ek, ons Here se kinders, het absoluut niks om te vrees van wat oor hierdie wêreld gaan kom in die eindtyd nie.

Ons Here gaan ons, wat dan nog lewe, eers kom haal voor die hel letterlik op hierdie aarde gaan losbars – maar moenie ‘n fout maak nie, al die tekens is daar dat Sy koms baie naby is.

In verband wat ek nou vir jou genoem het, lees ons in Sy kosbare Woord – en ek laat jou dan met die gedeeltes, wat jy onder andere altyd kan onthou as mense aan jou as kind van ons Here hierdie bangmaak gemors stories stuur:

ROM 8:15  Want julle het nie ontvang n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!

Vervolgens en dit is Jesus wat hier praat:

MAT 24:24-26 

24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.

25  Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.

26  As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie.

Jy en ek, volgelinge van Jesus, het nie nodig, dat iemand ons hierdie of daardie van Jesus se koms of wat dit vooruitgaan te vertel nie.

Ons het wat ons moet weet in Sy Woord en glo my, elke mens op hierdie aarde, sal weet wanneer ons Here kom.

Dit is weer Jesus wat hier praat:

MAT 24:27  Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.

Wat jy en ek verseker altyd in gedagte moet hou en sorg dat ons paraat teen satan is en bly, is die volgende – en weer is dit Jesus wat dit sê:

MAT 24:42  Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.

Dan lees ons verder:

1THS 5:8-10 

8  Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.

9  Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus

10  wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.

OPG 3:10  Omdat jy die woord van my (dit is Jesus) lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.