‘N BOODSKAPPER VAN GOD MET DIE OPREGTE EERLIKHEID VAN ‘N ENGEL

N BOODSKAPPER VAN GOD MET DIE OPREGTE EERLIKHEID VAN ‘N ENGEL

Soos die engel wat God se boodskap gebring het, is ons vandag God se engele wat Sy Evangelie bring aan almal om ons

Sakkie Parsons

Ek wil graag vandag met jou iets deel wat by my opgekom het.

Ek het al in die verlede met jou oor hierdie teksgedeelte gedeel maar vandag wil ek weer so effe uit ‘n ander hoek met jou ‘n gedagte uit hierdie teksgedeelte deel.

Nou goed.

Die heel eerste boodskap wat na ons Here se menswording as ons Verlosser en Saligmaker, volgens Jesus se evangelie aan ons verkondig was ‘n boodskap van eerstens, eer aan ons Here en tweedens, vrede aan alle mense in wie God ‘n welbehae het.

Dit is mense wie in gehoorsaamheid aan God, Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker.

Ons lees:

LUK 2:14  Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!

EK herhaal hierdie boodskap en nou uit die NLV vir wie ek so lief is:

LUK 2:14 “Eer aan God in die hoogste hemel,

en vrede op aarde vir almal in wie Hy ’n welbehae het.”

Hierdie eerste boodskap van ons Here uit Jesus se Nuwe Testament wat Hy vir ons, Sy volgelinge, opgestel het, is deur engele – God se hemelse boodskappers, gebring.

Daarna, beginnende by die herders, skaapwagters, van die eenvoudigste mense in daardie tyd, het Jesus begin om van Sy volgelinge gebruik te maak.

Jy sien –

Jesus se volgelinge, dit is jy en ek, is vandag God se engele – God se boodskappers – wat die goeie nuus van liefdevolle vrede aan die mense om ons moet bring.

Nou is die vraag vandag aan jou en my:

Is ek, Jesus se volgeling, ‘n boodskapper van die goeie nuus van liefde en vrede volgens Jesus se evangelie?

Eintlik stel ek die vraag nie soos wat dit eintlik is nie.

Eintlik moet ek myself afvra:

Is ek, God se boodskapper van Jesus se goeie nuus – Evangelie van liefde, ‘n boodskapper soos ‘n engel van God vir die mense om my?

Of verkondig ek die goeie nuus evangelie aan die mense om my soos ‘n duiwel?

Eintlik moet ek sê, ‘n bose gees, want dit is tog uiteindelik wat ‘n duiwel is.

Wat ek bedoel is dit:

Hoe gee ek uitvoering aan Jesus se laaste opdrag wat Hy Sy volgelinge hier op aarde gegee het?

Van watter opdrag praat ek?

MAT 28:18-20 

18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Miskien dink jy nou dat ek oordryf as ek skryf:

“Of verkondig ek die goeie nuus evangelie aan die mense om my soos ‘n duiwel, eintlik moet ek sê, ‘n bose gees, want dit is tog uiteindelik wat ‘n duiwel is.”

Omdat, ongelukkig hierdie wyse van die evangelie, juis die rede is waarom die meeste mense nie meer die evangelie van Jesus Christus ernstig opneem nie, wys ek vir jou uit die Woord dat daar sulke verkondigers van die Woord is en jy en ek moet waak en bid, dat ons nie dalk deur satan in sulke verkondigers van die evangelie van Jesus ontaard nie.

Ons lees:

JHN 6:70  Jesus antwoord hulle: Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel!

Wat!

Wil ‘n mens uitroep.

‘n Dissipel van Jesus, wat Hyself uitgekies het en hy is ‘n duiwel?

Glo my dit kan, om dit so te stel, selfs nog erger gestel word, dit is nou as om ‘n duiwel genoem te word en een te wees, nie al erg genoeg is nie.

Lees wat sê Jesus van mense wat vol godsdiens is maar dolleeg sonder Jesus se Heilige Gees ‘n valse front voorhou en die evangelie van Jesus ‘n bespotting in die oë van die wêreld maak:

MAT12:34  Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.

MAT 12:35  Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.

MAT 23:33  Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?

Hoe absoluut verskriklik, as Jesus na ‘n mens kyk vir wie Hy die verskriklike prys  aan die kruis betaal het – en Hy, God wie mens geword het, kom tot die slotsom, dat daardie mens ‘n duiwel, ‘n adder/slang is.

Dalk dink jy, dat ek oordryf en dat dit nie, sogenaamde Christene is, wie in die kerk sit en voorgee, dat hulle Jesus se Heilige Gees in hulle het , wat soveel skade aanrig, dat Jesus hulle vergelyk met adders/slange nie.  Wel lees dan nou hier:

MAT 7:22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?

Waar vind jy gewoonlik mense wat profeteer in die naam van ons Here?

Waar vind jy gewoonlik mense wat duiwels uitdryf in die naam van ons Here?

Waar vind jy gewoonlik mense wat wonderwerke doen in die naam van ons Here?

En wat sê ons Here, wat sal Hy vir baie van hulle sê?

MAT 7:23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Ek wil jou vandag, terwyl ons Here dit so gereël het dat jy hierdie skrywe lees, vra:

Wil jy nie vandag ‘n besluit neem, dat jy van vandag af, weer op nuut daar na gaan strewe, om in opregtheid Jesus se evangelie van liefde, genade, redding en  vrede uit te lewe en dan, wanneer die geleentheid hom voordoen, ook deur woorde en jou getuienis die wonderlike goeie nuus van Jesus se evangelie aan mense verkondig nie?

Onthou dan ook terwyl jy besluit dat jy met nuwe ywer, in alle opregtheid, ons Here se boodskapper vir mense om jou, na die beste van jou vermoë gaan wees, dat jy nie noodwendig iemand met die een of ander teologiese graad of sertifikaat hoef te wees nie.

Die heel eerste mense wat na Jesus se koms as mens na die aarde, Sy evangelie verkondig het, het Hy verkies, moes van die eenvoudigste onder die mense van hulle tyd wees.

Hulle was skaapwagters.

Kom jy en ek verkondig die evangelie van Jesus Christus nie “soos engele van die lig nie.”

2KOR 11:13-15 

13 Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.

14  En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in n engel van die lig.

15  Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.

Wil jy nie weer vandag, nou nadat ons Here jou hierdie gedagte uit die Woord laat lees het, ‘n besluit neem:

Ek gaan met ons Here se Gees wat in my woon, werklik, as volgeling van Jesus, ‘n wáre oprégte boodskapper van die evangelie van Jesus met die eerlikheid van ‘n engel aan die mense om my verkondig.

Eerstens deur my lewe – en as ons Here die omstandighede so reël, ook deur my getuienis van die liefdevolle genade en reddende evangelie van Jesus Christus my Verlosser en Saligmaker.

Want ek is nie ‘n Christen, soos ‘n engel van die lig nie.

Ek, met Jesus, die Lig vir die wêreld in my, ís ek die lig vir hierdie wêreld.  Beginnende by die mense hier direk om my:

MAT 5:14-16 

14 Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;

15  en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

16  Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.