VERNEDERD, NIE JALOERS

VERNEDERD,  NIE JALOERS.

Sakkie Parsons

By meer as een geleentheid het ek al pos in hierdie verband ontvang en omdat ek nou weer soortgelyke pos van iemand ontvang het, het ek gevoel om ook met jou te deel hoe ek hierdie groot probleem in sommige mans se lewens, met die lig uit die Woord tot my beskikking verstaan.

By geleentheid gesels ‘n dame met my en vertel my hoe vernederend dit vir haar is om net saam met haar man in die straat te stap.  Want sê sy hy staar behoorlik na omtrent elke vrou wat binne sy sig kom.

Nou, daar is ‘n verskil tussen bewonder en wellus/begeer en as iemand so optree, soos die man wat ek hier beskryf het, is dit gewoon net wellus.
So, kom ons kyk eers wat die Woord oor “wellus” sê:

MAT 5:28 Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ‘n wellustige oog na ‘n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg.

As enige man wat hierdie soort probleem het, voorgee, dat hy nie ‘n probleem het nie,
Of die probleem wil goed praat.
Of soos hulle in engels sê: “Trying to pass the buck.”
Deur byvoorbeeld voor te gee, dat sy vrou sommer net jaloers is –
Dan het hy nog nie so ‘n verhouding met ons Here dat hy kan, of wil luister wat die Heilige Gees in sy hart sê nie.

Want midde in die aanslae van satan op hom, sal die ware Christen man verseker hoor en of onthou wat ons Here onder andere vir ons laat skryf het en daarop reageer:

1 TES 4:3-8
3 Dis God se wil dat julle aan Hom toegewy moet lewe. Weerhou julle van seksuele sondes.
4 Elkeen van julle moet weet hoe om op te tree wanneer julle 'n vrou soek. Tree op soos mense wat aan God behoort en wat sy eer soek.
5 Moenie uit seksuele drange 'n vrou soek soos die ongelowiges wat God nie ken nie.
6 Niemand moet in hierdie opsig sy medegelowige benadeel of misbruik nie, want die Here wreek al sulke dinge. So het ons ook vroeër vir julle gesê
en julle ernstig gewaarsku.
7 God het ons mos nie geroep tot 'n onrein lewe nie. Hy het ons geroep om onsself al hoe meer aan Hom toe te wy.
8 Iemand wat hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie 'n mens nie, maar God wat sy Heilige Gees aan julle gee!

Ek sê nie vir een oomblik, dat ‘n ware Christen man nie met hierdie soort van fantasie gedagtes sal aangeval word nie maar ek sê verseker, dat die ware Christen man dit nooit as die norm van die lewe sal aanvaar, of sal bly vertroetel nie.
Hy sal daadwerklik daar teen stry en daaraan werk, om dit uit sy lewe te kry, omdat hy sal luister na die Heilige Gees in hom, wat altyd op die een of ander wyse in sy hart vir hom sal laat verstaan:

JAK 4:7 Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug.

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

JAK 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Verseker sal die Heilige Gees ook met die een of ander bewoording is sy hart ook vir hom laat verstaan en hy sal daarvolgens optree:

1 PET 1:15 Julle totale leefstyl moet nou heilig wees, soos God heilig is – Hy wat julle sy kinders noem.

Wat sê ek vir dames wie in verhoudings met ‘n man is, wat nie sy oë van ander vroue kan of wil af hou nie en ook gedurigdeur “flirt.”
Ek is so baie jammer maar uiteindelik is daar maar net drie opsies, wat uitgeoefen kan word, waarvan daar ongelukkig net twee in jou hande is.

Die man moet hom tot ons Here bekeer, sodat hy werklik wil en kan veg teen hierdie soort fantasie gedagtes oor ander vroue.
Dit is die opsie wat nie in jou hande is nie.

Of jy moet verlief daarmee neem dat dit nou maar altyd deel van jou lewe in julle verhouding gaan wees.  In elk geval, totdat die man in jou lewe hom werklik tot ons Here bekeer.
Dit is die eerste opsie waaroor jyself besluit.

Of, en ek is jammer om dit ook te noem maar dit is ongelukkig die harde werklikheid en ook die tweede opsie wat in jou hande is –
Jy sal die verhouding moet beëindig.  Want sonder werklike bekering, gaan hy nooit verander en ophou in sy hart egbreuk pleeg nie.
Want verseker is dit wat hy doen egbreuk:

MAT 5:28 Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ‘n wellustige oog na ‘n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg.

Die onbetwisbare werklikheid is dan ook, dat egbreuk, uiteindelik niks anders is as hoereer nie.
Persoonlik dink ek, dat dit ‘n verskriklike onreg is wat jy aangedoen word, om emosioneel so mishandel te word en ek dink nie dat ‘n mens moet toelaat dat iemand dit aan jou doen nie.
As daar nou iemand is wat dink ek oordryf, plaas jou gou in die skoene van die dame van wie ek jou vertel het en dink eerlik hoe jy dit sou ervaar het.
Vir alle Christen mans wat met hierdie probleem worstel wil ek sê:
Moet nooit daardie swakheid in jou lewe as die norm aanvaar nie.

1 TES 4:7 God het ons mos nie geroep tot 'n onrein lewe nie. Hy het ons geroep om onsself al hoe meer aan Hom toe te wy.
1 TES 4:8 Iemand wat hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie 'n mens nie, maar God wat sy Heilige Gees aan julle gee!

Daarom is my bede ten slotte vir alle Christen mans met hierdie probleem:

1 TES 5:23 Mag die God van vrede julle volkome aan Hom toewy. Ja, mag God julle so bewaar dat julle na gees, siel en liggaam volkome vlekkeloos sal wees
wanneer ons Here Jesus Christus terugkom.

Groete,
Sakkie