WAT IS SONDE TEEN DIE HEILIGE GEES?

WAT IS SONDE TEEN DIE HEILIGE GEES?

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra:

“Wat is sonde teen die Heilige Gees?”

Ek wil net hê dat jy sal begryp, dit is soos ek hierdie saak sien en daar gaan sekerlik mense wees wat met my verskil.

Voordat ek enigsins verder gaan wil ek hê dat jy moet weet en ek sê dit vir almal wat my in verband met hierdie saak vra.

Jy het verseker nie teen die Heilige Gees gesondig nie, want die mees uitstaande kenmerk van iemand wat teen die Heilige Gees gesondig het, is dat die persoon nie ‘n bloue duit omgee of hy/sy dit gedoen het nie.

Ek gaan vir jou die feite gee soos ek dit sien.

Lees net eers die volgende gedeelte uit die skrif.

Mat 12:22-34

22 Toe het hulle ‘n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien.

23  En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?

24  Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.

25  Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie.

26  En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan?

27  En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees.

28  Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.

29  Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.

30  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.

31  Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.

32  En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.

33  Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.

34  Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.

35  Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.

As jy ‘n satanis is en vol duiwels is kan jy vergewe word en is dit nie te sê dat jy teen die Heilige Gees gesondig het nie.

Die gedeelte wat jy nou gelees het begin, waar Jesus ‘n man van duiwels genees het en Maria Magdalena wat baie duiwels gehad het, het ‘n groot volgeling van Jesus geword.

Mense gebruik Jesus se Naam as vloek- en skelwoorde en vertel die verskriklikste dinge deesdae van Hom maar Hy sê, dat hulle vergewe kan word.

Mat 12:32  En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.

As jy egter God se Gees, met ander woorde die Heilige Gees, vloek of beledig is dit ‘n heel ander saak volgens Jesus.

Jesus weet, dat daar mense is wat Hom maar net sien as ‘n Jood wat lank gelede gelewe het maar jy kan God se Gees maar net een manier sien en so aanvaar, of nie – en dit is dat dit God self is.

Iemand wat so ver gegaan het om God se Gees te vloek of te beledig, soos wat hierdie mense gedoen het, bekommer hulle nie daaroor nie en dit sal hulle ook nooit pla nie.

Hulle is opgeleide teoloë en het baie goed geweet, dat satan nie homself sal uitdryf nie maar om hul menslike doel te bereik, sê hulle God se Gees is die owerste van die duiwels en dit is hoekom Jesus toe vir hulle sê, dat dit die soort sonde is wat nie vergewe sal word nie.  Natuurlik beteken dit dan ook, dat maak nie saak wat gebeur nie, so ‘n mens sal nooit maar nooit tot bekering kom nie.

Hierdie mense is dan ook ‘n bewys dat dit so werk.

Want, nie net kruisig hulle op die ou end die Seun van God nie maar toe hulle ontdek dat die graf leeg is en Hy werklik opgestaan het, stuur hulle in plaas van hulle te bekeer, ‘n leuen die wêreld in.

Mat 28:2-4

2  En daar kom ‘n groot aardbewing, want ‘n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit.

3  En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu.

4  En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.

Mat 28:11-15

11  En terwyl hulle op weg was, kom daar sommige van die wag in die stad en vertel die owerpriesters alles wat gebeur het.

12  En nadat hulle saam met die ouderlinge vergader en raad gehou het, het hulle die soldate baie geld gegee

13  en gesê: Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.

14  En as dit by die goewerneur gehoor word, sal ons hom tevrede stel en maak dat julle sonder sorg is.

15  Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer was. En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe.

So iemand sal ook na jou toe kom en sê die Heilige Gees het vir my gesê om vir jou so of sus te sê, om jou so ver te kry om hierdie of daardie te doen – en dit sal hulle minder pla, as wat dit hulle pla om ‘n oog te knip.

Die laaste ding wat so ‘n persoon ooit aan sal dink, is:  “Wat is sonde teen die Heilige Gees.”

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za