WAT MOET EK DOEN AS ‘N NARCIS DEEL VAN MY LEWE IS?

WAT MOET EK DOEN AS ‘N NARCIS DEEL VAN MY LEWE IS?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my oor ‘n persoon in haar lewe wie baie humeurig is en alles met sy vuiste wil regmaak.
Iemand wie heeltemal self-gesentreerd en altyd reg is.
Iemand wat jou altyd afkraak en afbreek.
Iemand wie homself groot laat doop het en so ‘n wonderlike beeld vir mense om hom voorhou en ek kan nog aan- en aangaan.

Sy vra my dan my raad wat om te doen en of so ‘n mens werklik bekeerd kan wees en of byvoorbeeld ‘n humeur ‘n demoon is.

Hier dan is my antwoord aan haar wat ek ook met jou deel.

Eerstens:
‘n Humeur is nie noodwendig ‘n demoon nie maar mag volgens my, soms deel van die manifestasies van ‘n demoon wees.
Daar is mense wat ‘n geweldige humeur gehad het wat nie kinders van ons Here gewees het nie maar besef het dat hulle ‘n probleem het en hulp gesoek het en self hard aan hulle probleem gewerk het en hulle humeur oorwin het.

So, dit is vir my die bewys dat ‘n humeur op sigself nie ‘n demoon is nie.
Net soos ‘n verkoue, griep, Covid en byvoorbeeld kanker ook nie ‘n demoon is nie.
Want jy kan verkoue en griep byvoorbeeld met medikasie genees en jy gaan werklik nie ‘n demoon met medikasie genees nie.
Jy kan Covid nou al reeds met ‘n inspuiting beheer, ek het al drie myne gehad en jy kan werklik nie ‘n demoon met ‘n inspuiting beheer nie.
Jy kan kanker met mediese behandeling genees.
Ek byvoorbeeld was in 1998 met die liefdevolle genade van ons Here behandel vir melanoom kanker en is genees en jy gaan werklik nie met enige mediese behandeling ‘n demoon uit iemand anders of jouself dryf nie.

Mense noem te maklik enige iets en soms ook sommer alles ‘n demoon en satan kruip soos hy lag.
Want terwyl iemand skreeu: “Wolf, wolf!!!” slaan satan uit ‘n ander hoek baie mense met sy ander vuis tot in die hel – omdat hulle op sy een hand, met die “wolf, wolf” geskreeu konsentreer.

Dit wat jy alles vir my beskryf het, is na my mening van die klasieke simptome van ‘n narcis en daarvoor is daar geen mediese of sielkundige genesing nie en dit is volgens my persoonlike mening verseker demonies.

Ook van so ‘n demoniese aard, dat die rede waarom sulke mense nie genees kan word nie, gewoon is, omdat hulle nie genees wíl word nie.

Praat met enige sielkundige en hy/sy sal vir jou sê en ek sê as werker van ons Here dit ook nou vir jou –

Daar is net een oplossing vir enige iemand wat so iemand in haar/sy lewe het:
Breek so gou moontlik, ek wil eintlik skryf, soos in gister geheel en alle in alle opsigte met die persoon.
Jy het net een ander tragiese keuse en dit is, jy hou die persoon in jou lewe en gaan nooit gelukkig wees nie en dit kan jou selfs in die hospitaal, of in jou graf laat beland.  Dit het al met baie ander gebeur.

Dan –
Groot doop maak jou nie ‘n kind van ons Here nie.
Ek het in my lewe al baie mense gesien wat groot gedoop was en die enigste verskil van voor hulle doop en na hulle doop was dat hulle droog onbekeerd die doopwater in is en nat onbekeerd, uit die doopwater gekom het:
Luister hierna:

HAN 2:37  Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
HAN 2:38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, (soos met jou hele hart en sigbaar in jou lewe en dan eers…) en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
HAN 2:39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

Na my mening doop baie herders mense te gou ter wille van getalle en dit is heeltemal verkeerd, teen die evangelie van Jesus Christus.

Hoe gaan die mense, ook jou intiemste vriende en geliefdes jou sien, as jy werklik as bekeerde gedoop is?

Dit is Jesus self wat dit vir jou en my sê:

MAT 7:16-23 
23 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.
18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.
19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.
21  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? (natuurlik ook soos vandag, met groot vertoon dat almal hulle kan sien en bewonder, buiten hulle intieme geliefdes, wie weet hoe hulle lewe eintlik is.)
23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, …”

Ek weet van ‘n man wat Sondae harder as al die mense in die kerk “Halleluja” en “Prys die Here” geskreeu het en nou op hierdie oomblik in die tronk sit omdat hy baie jong meisies gemolesteer het, waarvan baie in sy eie familie gewees het.

Daar is uiteindelik net een wyse dat ‘n gewone mens kan sien jy en ek is kinders van ons Here:

LUK 3:8  Dra dan vrugte (wat almal, ook jou intiemste geliefdes kan sien) wat by die bekering pas, …

Onthou jy wat Jesus gesê het, wat jy net ‘n bietjie vroeër in hierdie skrywe gelees het?

MAT 7:16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. …

Hoe lyk hierdie vrugte wat nie saam met slegte vrugte aan jou gesien kan word nie?

GAL 5:22  Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Want jy sien:

GAL 5:24  Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.

GAL 5:25  As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.

In gewone Afrikaans:
“Laat die mense om jou die familietrekke van jou Vader sien.”

Groete,

Sakkie