WATTER BELONING VERKIES JY?

WATTER BELONING VERKIES JY?

Sakkie Parsons

Ek deel graag met jou die volgende gedeelte uit ons HERE se kosbare Woord waar JESUS ons onderrig aangaande ons beloning en ek plaas dit wat in my hart opkom in blou kleur in hakkies.

MATTEUS 6:1-6 

1  Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; (onthou die “lief” in liefdadigheid.  Dit strek oor die hele aspek van menswees, fisies sowel as psigies, of dan geestelik, as jy wil en as jy dit doen in jou hart, ter wille, dat die mense  iets van jou moet dink en hulle doen dit dan omdat jy dit so wou hê, dan het jy daardie loon verkies) anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie.

2  Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, (van af ‘n glimlag, tot daardie R100,00 wat jy iemand gee, doen dit om Jesus vir die mense te wys) moenie ‘n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. (kyk hoe vriendelik of vrygewig ek is) Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. (Jy wou menslike beloning hê, wel jy het dit gekry.  Jy is nou klaar beloon, met die beloning wat jy wou hê.  Moet nou nie nog ‘n ander meevallertjie verwag nie.)

3  Maar jy, as jy liefdadigheid (in watter opsig ook al) bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, (Laat die loon wat jy moet ontvang in die hande van die een wie die beste weet wat en hoe jy, Sy kind, beloon moet word.)

4  sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde. (en dit geld vir alles wat liefdadigheid in watter opsig aanbetref.  Ook in wat nou volg.)

5  En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het.

6  Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.

Groete,
Sakkie