SO MOET JULLE DAN BID

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my ‘n langerige skrywe, waarin hy met my deel oor sy vriend wat vra, hoe moet hy bid.

Hy wil kragtig bid en hoekom kan hy nie dieselfde resultate kry as, – en dan noem hy ‘n, kom ons noem hom, ‘n groot TV prediker se naam en ander soos hy, se gebede nie?

Ek wil in my antwoord aan jou begin met iets wat jy geskryf het:

“Uit gesprek blyk dit dat hy met krag wil bid en dinge sal gebeur.“

Een van die groot verkeerd in baie predikers se dienste na my mening is, dat ons aste ware God wil manipuleer soos óns wil en dinge wil laat gebeur soos óns wil en dan mense so verkeerd lei en hulle ook met daardie soort optrede, of is dit nou vertoon, die voorbeeld stel, dat hulle dan ook op daardie wyse wil te werk gaan.

Ek volstaan met twee van die baie voorbeelde wat ek kon gebruik het, wat mense oor aan my skryf.

Ek kry byvoorbeeld, dat mense aan my skryf, dat daar vir hulle gebid word en as hulle nie wil omval nie, daar aan hulle gestoot word om hulle so ver te kry om om te val.

Dan kry jy dit, dat mense vir ander mense sal bid vir die een of ander probleem, en God aste ware beveel word om te doen wat hulle gevra het.

Iets soos:

“Here ek bid vir … en dan doen hy dit met ‘n harde, soms skreeu stem, so of God dalk nie goed kan hoor wat hy bid nie:

“Doen dit Here, doen dit nou!”

Jesus en Sy dissipels het die evangelie verkondig en as ons Here op een of ander wyse gewerk het, prys die Here, dan het hy gewerk en as Hy nie vir die mens sigbaar gewerk het nie, dan het hulle steeds voortgegaan en die evangelie verkondig.

Dit is nou maar ongelukkig so, dat baie mense wie in die openbaar bid, bid om die aandag op hulle te vestig.

Jesus spreek hom so oor hierdie groot verkeerd in die kerk uit:

MAT 6:5  En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het.

Ek gee nou vir jou ‘n voorbeeld hoe ek soms in die geheel, soos my omstandighede my lei, en soms net gedeeltelik in volgorde bid – maar dit is net ‘n baie wye voorbeeld, want elke mens se omstandighede is anders en by elke mens ook die een dag anders as die volgende dag.

So hierdie is net ‘n voorbeeld, of dan riglyn van hoe ek bid en hoe ek dink ons kan bid:

MAT 6:9  Só moet julle dan bid: (Sê vir ons Here, jy weet jy praat met die almagtige alleenwyse God, die Skepper van hemel en aarde en almal en alles wat daarin is) Onse Vader wat in die hemele is, (bid dan, dat die mense in en deur jou Jesus sal sien en ons Here se naam, so deur jou, voor die mense geheilig sal word) laat u Naam geheilig word;

MAT 6:10  (Praat dan met ons Here oor Sy koninkryk, Sy kinders en sy kerk, soos jy gelei voel) laat u koninkryk kom; (vervolgings, onthou jouself, jou geliefdes, jou vyande, Israel en sy vyande en gee julle almal oor in die hand van ons Here) laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

MAT 6:11  (Bid vir julle daaglikse behoeftes) gee ons vandag ons daaglikse brood;

MAT 6:12  en (Bid vir vergifnis van jou sonde en vra ons Here, vir Sy hulp, dat jy jou vyande van watter aard ook al sal vergewe) vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

MAT 6:13  en (Vra ons Here, dat Hy nie moet toelaat, dat satan jou sal laat struikel of val nie) lei ons nie in versoeking nie, (en dat jy vry sal wees van satan en sy boosheid) maar verlos ons van die Bose. (sê dan vir ons Here, dat jy weet, dat jy so met Hom kon gesels, want jy weet en bely, Hy het die finale sê in alles) Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Dan, net die volgende:

Ek moet altyd onthou, om altyd in die naam van Jesus na ons Here te gaan:

In die verband lees ons:

JHN 14:5  Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Dan kom Paulus en onder leiding van die Heilige Gees, omdat hy weet wat Jesus gesê en verkondig het, skryf hy:

KOL 3:17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Dan nog net dit:

Met gebed, soos met so baie aspekte van die Evangelie van Jesus Christus:

Mense maak dit soms so ongelooflik en ongelooflik is hier vir my die absolute korrekte woord om te gebruik.

Ja, mense maak aspekte van die evangelie van Jesus soms so ongelooflik ingewikkeld, dat ek sukkel om hulle verkondiging van die evangelie van Jesus te verstaan, soos byvoorbeeld, met gebed.

By geleentheid praat Jesus met ons Here in sy hoedanigheid as Seun van die mens, soos Hy byna deurgaans na Homself verwys het:

MAT 11:25  In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.

MAT 11:26  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.

Jesus se evangelie in al sy aspekte is so eenvoudig, dat Jesus by geleentheid vir ons sê:

MRK 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

Iemand skryf byvoorbeeld aan my en sê, dat hy nou elke woord “bid” in die Bybel gaan opsoek en lees, om uiteindelik te sien en verstaan hoe ons moet bid.

Jesus sê, en hoe eenvoudig is dit nie, as ons net na die Heilige Gees luister wat in ons is, om ons in alle waarheid te lei.

Lees nou net weer ten slotte, met die geloof van ‘n kind, onder die leiding van die Heilige Gees:

MAT 6:9-13  JESUS :

9  Só moet julle dan bid: (dan gee Hy ons heerlik eenvoudig, al die riglyne in die regte volgorde waarvolgens ons moet bid) Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;

10  laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

11  gee ons vandag ons daaglikse brood;

12  en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

13  en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Vir my kan dit regtig nie meer eenvoudig wees van hoe ‘n mens moet bid nie.

Anders gestel –

Kan dit regtig meer eenvoudig gestel word van hoe ons moet bid?

Met al die slim redenasies wat soms die rondte doen oor hierdie of daardie uit die evangelie van Jesus Christus, is daar een ding wat ek altyd probeer onthou, as ek mense se vrae antwoord en die evangelie verkondig en ek wil in nederigheid jou vra om dit ook so te doen:

In hierdie bediening is my eerste prioriteit om mense Jesus se eenvoudige evangelie te bring, hulle so aan Jesus voor te stel en te probeer help, dat hulle ‘n liefdesverhouding met Jesus kan begin –

En dit probeer ek deur die Woord, nét die Woord, – ja net die heerlike eenvoudige ware Woord/evangelie van Jesus Christus aan mense te bring:

1KOR 2:2  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Groete,

Sakkie