WATTER DAG IS DIE SABBAT, SATERDAG OF SONDAG?

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra :

”Wat is nou eintlik die Sabbat, Saterdag of Sondag?”

Ek wil net begin deur te sê, soos ek jou sal wys –

By my is daar nie ‘n dag wat om dit so te stel, meer heilig as ‘n ander dag is nie.

Daar is sekere dae waarin daar geleenthede is wat heilig is, wat nie in ander dae voorkom nie maar dit maak nie die dag heiliger as ander dae nie, elke dag is ‘n heilige dag van ons Here.

Ek praat van wat die mense die Sabbat noem as Sondag en ek gee aan daardie naam dieselfde krag/gesag as wat ek aan byvoorbeeld Maandag gee.

Ek is in elk geval meer gemaklik om Sondag die eerste dag van die week te noem, soos wat die eerste Christene dit ook deurgaans genoem het, maar daaroor ‘n bietjie later.

Ek praat dan nou in hierdie skrywe, terwille van my lesers ook van die Sabbat.

Persoonlik dink ek nie dat dit enige iets aan my saligheid gaan doen of ek dit die Saterdag of die Sondag hou nie maar omdat ek gevra is, deel ek hier ook met jou my sienswyse oor hierdie saak, soos ek dit uit ons Here se kosbare Woord verstaan.

Mense wat die Sabbat op Sondag wil hou, soos ek, omdat dit die dag is waarop ons in ‘n erediens bymekaar kom om eer aan ons Here te gee, redeneer nie eintlik daaroor nie, ons hou dit net.

Hoe ook al, mense wat hieroor wil redeneer, of is dit nou twis, vergeet skynbaar twee belangrike sake wat van kardinale belang in hierdie soort argument is.

Nêrens in die Woord kom die woorde Saterdag en Sondag, in watter taal ook al voor nie en nêrens waar daar van die 6 dae wat jy moet werk en die 7de dag wat jy moet rus, kom die woord ‘week’ in enige taal voor nie.

Met ander woorde, nêrens lees jy:

“6 Dae van die week moet jy werk en op die 7de dag van die week moet jy rus” nie.

EXO 20:9 Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen;

EXO 20:10 maar die sewende dag is die Sabbat van die HERE jou God; …

Ons lees dat jy 6 dae moet werk en dan 1 dag rus.

‘n Mens kan nou as jy wil redeneer, soos sekere mense wat omtrent oor alles wil redeneer.  Dan nou ook as volg redeneer:

Wanneer begin die 6 dae?

Sê nou ek as Christen is siek en ek is die Donderdag gesond genoeg om te gaan werk?

Begin my eerste dag nou die Vrydag en mag ek nou my 6 dae van werk onderbreek en eers Saterdag of Sondag my Sabbat hou?

Wat dan van die 6 dae wat ek moet werk en dan eers rus?

EXO 20:9 Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen;

EXO 20:10 maar die sewende dag is die Sabbat van die HERE jou God; …

Dit net om jou te wys hoe satan jou kan besig hou met allerlei sinnelose nuttelose redenasies, om jou besig te hou en jou daarvan te weerhou om die evangelie van Jesus sonder ‘n getwis te verkondig.

Nêrens waar die opdrag van 6 dae werk en die 7de dag rus voorkom, is daar hoegenaamd ‘n aanduiding, dat die eerste dag van die 6 dae wat jy moet werk, op die eerste dag van die week moet begin nie.

Jy mag aanneem en of verstaan soos wat jy dit wil aanneem en/of verstaan, maar jy mag nie sê dit staan so of so in die Woord nie. Gewoon, omdat dit nie daar staan nie en jy dus dan sal lieg en volgens die Woord, het alle leuens hulle ontstaan in die hel.

Ons weet net verseker, dat jy volgens die Mosaïese wet 6 dae moet werk en 1 dag moet rus. Dit is nou, as jy onder die wet van Moses lewe.

Dit is ook vir my persoonlik baie insiggewend, dat die vierde gebod nêrens in die Nuwe Testament wat ons Here vir ons as Christene tot stand gebring het, voorkom nie.

Jesus het Sy Nuwe Testament so tot stand gebring en toe vir ons, Sy volgelinge, laat neerskryf:

LUK 22:19 Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.

LUK 22:20 Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.

Jesus het ‘n Nuwe Testament vir Sy volgelinge opgestel en as jy ‘n Nuwe Testament opstel, verval die ou een:

HEB 9:15  En daarom is Hy Middelaar van n nuwe testament, sodat, terwyl daar n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.

GAL 3:13  Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons n vloek te wordwant daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan n hout hang

Van die mense wat so uit die wet, (as ek dit nou reg het, is daar 613 wette), net hierdie of daardie wette selektief neem en op hulleself van toepassing maak, lees ek in die Woord:

2KOR 3:14-16 

14 Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word.

15  Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar n bedekking oor hulle hart;

16  maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem.

“Prys die Here!  Ek is nie onder die wet nie!”

GAL 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie;

GAL 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

GAL 2:21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.

GAL 3:13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ʼn vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—

GAL 3:24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

GAL 4:4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,

GAL 4:5 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.

ROM 6:14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.

GAL 5:4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

Ek onderstreep aste ware al die Skrif wat jy nou gelees het met:

KOL 2:16 Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of Sabbat nie,

KOL 2:17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.

Asook –

MRK 2:24-28

24 Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die Sabbat wat nie geoorloof is nie?

25 En Hy sê vir hulle: Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het nie—toe hy in die nood was, en hy en die wat by hom was, honger gehad het—

26 hoe hy in die huis van God gegaan het in die tyd van Abjatar, die hoëpriester, en die toonbrode geëet het wat vir niemand behalwe die priesters geoorloof is om te eet nie; en ook aan die wat saam met hom was, gegee het?

27 En Hy sê vir hulle: Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie.

28 Daarom is die Seun van die mens Here ook van die Sabbat.

Iemand wat my weer onder die juk van die wet wil plaas, moet onthou, dat daar van die wet geskryf staan:

JAK 2:10-13

10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, (soos om maar net een voorbeeld te noem, jou nie te laat besny nie) het aan almal skuldig geword.

11 Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ‘n oortreder van die wet geword.

12 Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word.

13 Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel.

Ek wil nou net iets weer uitwys, al hamer ek nou ‘n bietjie daarop, soos wat diegene wat Saterdag as die Sabbat wil hê daarop hamer.

Wat diegene wat die Christen geloof aanhang wat so hamer op die Sabbat wat deel is van die wet, veral diegene wat daarop hamer dat dit Saterdag gehou moet word, net moet onthou –

Die besnydenis is deel van die wet.

GEN 17:10 Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word—

GEN 17:11 julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en julle.

Ek wonder partykeer hoeveel van die Christene wie se godsdiens se verkondiging hoofsaaklik uit die hou van die Sabbat bestaan, veral die wat so hamer daarop dat die Sabbat op ‘n Saterdag gehou moet word, asook die wat aan Sondag ‘n heiliger status as enige ander dag wil gee, ook besny is?

Want onthou, daar staan dit geskryf – Jy het dit gelees. Dat, as jy aan één deel van die wet ongehoorsaam is, jy aan die héle wet ongehoorsaam is.

As iemand sou sê, dat die besnydenis nie deel van die wet is nie, sê ek dan maar weer net, dat Paulus en ek nie saamstem nie:

GAL 5:1-3

1 Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.

2 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie.

3 En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.

Paulus het die probleem gehad dat mense verkondig het, dat al is jy ‘n Christen, jy jou nog moet laat besny, net soos wat ek nou die probleem het dat mense verkondig, dat ‘n Christen die Sabbat op ‘n Saterdag moet hou en net soos wat daar mense is, wat nog ander wette uit die wet van Moses op ons Christene wil afdwing.

Ek sê vir iemand wat hamer op, dat Saterdag die Christen se Sabbat moet wees, of enige van die ander mosaïese wette op my van toepassing wil maak, –

As jy onder daardie juk wil buk, buk, maar moet nie my en ander onder die genade probeer uitruk nie.

ROM 3:21-24

21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig,

22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie;

23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,

24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.

As jy jouself en die manier wat jy die Sabbat hou, wet gebonde wil maak, onthou dan wat jy gelees het:

GAL 5:4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

Laat satan ons nie gebruik om mense te verwar nie maar laat ons hierdie kosbare tyd gebruik om meer mense van ons God en Verlosser Jesus Christus te vertel.

Ek glo, dat ons Christene ons Sabbat vier op die dag na die Jode se Sabbat, omdat ons Verlosser en Saligmaker, die Koning van die konings en die Here van die heersers, op daardie dag opgestaan en uit die graf uitgestap het, as Oorwinnaar van alles wat boos is.

Ek is net jammer, dat sommige mense aan die dag self ‘n meer heilige status gee, as aan een van ons Here se ander ses heilige dae en ek sê weer, dat die geleenthede tot eer van ons Here heilig is. Soos byvoorbeeld die erediens maar die dae waarop dit gehou word is net so heilig soos al die ander dae.

Ek noem net weer, dat ek nie graag in my hart eens van ‘n Sabbat praat nie.

Vir my is elke dag die dag van die Here maar dit is heerlik om een van ons Here se heilige dae uit te sonder, om saam met my mede broers en susters in ‘n erediens bymekaar te kom maar ek leef daardie dag nie anders as die ander dae nie, want elke dag is vir my die dag van ons Here.

PSM 118:24 Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.

Ek sluit af met ‘n paar gedeeltes uit die Woord, wat so glo ek, vir die meeste van ons wys dat die dag wat ons die Sabbat noem, nie vir ons Here aanstoot gee nie.

JHN 20:19 En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!

As jy nou sê dat Johannes 20:19 se eerste dag net ‘n toeval van bymekaar kom gewees het, kyk dan hier.

Wat nou volg lyk vir my baie na ‘n Nagmaalsdiens, wat dwarsdeur die nag aangehou het:

HAN 20:7-11

En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe.

8 En daar was baie lampe in die bovertrek waar hulle vergader het.

9 En ‘n sekere jongman met die naam van Eútichus het in die venster gesit en weggesink in ‘n diepe slaap; en toe Paulus nog lank gespreek het, is hy oorweldig deur die slaap en het van die derde verdieping afgeval en is dood opgetel.

10 Toe gaan Paulus ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom.

11 En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog ‘n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek.

Al raak dit nou al ‘n bietjie dik vir ‘n daler, kan iemand dalk nog van toeval praat, dit is nou die mense wat in toeval wil glo – asof daar tye en of geleenthede is waar God nie regtig in beheer is nie.

Lees nou gou hier –

1KOR 16:2 Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.

Hoekom moes hulle dit op die eerste dag doen?

Want, so lyk dit vir my, dan is dit die tyd wat hulle bymekaar gekom het om te aanbid en sommer die offergawe op te neem.

Die eerste dag sal altyd vir my en baie ander Christene die dag wees, waarop ons spesiaal bymekaar kom, om saam eer en lof aan Hom te gee.

MAT 28:1-7

1 En laat ná die Sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk.

2 En daar kom ‘n groot aardbewing, want ‘n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit.

3 En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu.

4 En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.

5 Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.

6 Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het;

7 en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.

Soos ek op die eerste dag van die week leef wanneer ons in ‘n erediens bymekaar kom, so moet ek élke dag van my lewe, lewe.

Groete,

Sakkie